Foto's geneem deur Elmarie van der Merwe
Môresê Vriende,
Die kouer is bietjie beter in Windhoek, darem net -2 vanoggend. Ek dink toe na oor baie mense wat maak asof ek ‘n alien is om te dink dit is koud by -6 of enige minus grade. Die slotsom waarby ek toe uitkom is, ek is ‘n kind van die Namawaland, en ek kan nie onthou dat ons minus grade in my kinderjare beleef het nie, en daarom is ek net normaal as ek nou wil verkluim. So basta met die mense wat by minus ses dink ek is van lotjie getik. Dit is winter en ek kry koud. Steeds maak dit my net meer dankbaar vir dit waarmee ons Vader my seën, want ek hoef nie op die vlak te slaap nie en het warm kos om my liggaam mee te voed.
Gisteraand stuur een van my vriendinne vir my die foto’s waarmee ek die collage gemaak het. Hulle ry bietjie deur ons mooie, mooie Namakwaland wat so vroeg al so pragtig is en my hart huppel hier in die koue. Ons Vader se oorvloed is asemrowend.
Ek luister vanoggend na een van die Pastore waarna ek altyd luister en hy gesels oor God se liefde vir ons. Hy verwys na Psalm 125, waar God as ons berg beskryf word wat ons sal beskerm en altyd daar wees vir ons.
Psalm 125
1 'n BEDEVAARTSLIED.
Die wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid.
2Rondom Jerusalem is berge; so is die Here rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.
Die kern is nie dat God vir ons ‘n berg is en wil wees nie, want Hy het ons lief gehad voor ons nog eers daarvan bewus was. Die kern is dat jy moet kies om Sy liefde te aanvaar. Dan eers kan Hy jou berg wees, kan Hy jou beskermer wees, sal Hy jou toevou.
God is onveranderlik, Hy het ons lief van voor die bestaan van die aarde af, kies vandag om sy liefde te beantwoord, want Hy is ons enigste Berg wat skuiling bied, ons geliefde Vader wat ons van voor die begin van alles lief gehad het en steeds het. Skuil in sy wonderbare liefde.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking