Woensdag 02 Augustus 2023

God kan 'n gemors verander in 'n getuienis!




Goeiemôre Vriende,

Dit is die tweede dag van die maand van die wind, en hier by my roer die wind die blare in ‘n voorspel tot sy baie rowwer Spaanse dans wat hy beplan om later uit te voer. Ek sit knus en beskut hier voor my ‘bay window’ en bekyk dit alles op ‘n afstand en skryf heerlik.

Vanoggend wil ek met julle die gedagte van my eie Bybelstudie stuk kom deel. Dit is Paulus wat in Romeine aan die woord is en die waarde en kosbaarheid van hierdie belofte kan ek nie eers probeer om in woorde om te sit nie.

Alhoewel die kern-verse eers later kom wil ek nie na laat om Romeine 8:18 se belofte aan julle te gee wat ons almal herinner dat hierdie aarde met al sy dinge net ‘n baie kort deel van ons lewens is as ons kinders van God is nie.

Romeine 8:18 WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

In Romeine 8 kom gee Paulus ons ook insig oor ons Vader se mag. Hy maak dit duidelik dat ons nie altyd net goeie tye sal hê nie. Dat slegte dinge met ons sal gebeur, soos net laas week met my gebeur het. Tog gee hy ons ook die versekering dat ons Vader selfs hierdie slegte ondervinding, selfs hierdie ramp, selfs hierdie gemors kan gebruik om alles vir ons reg en goed te laat uitwerk. Dit is ons Vader se hart.

Romeine 8:28En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk …

Wanneer ons midde in die stryd is, is dit vir ons moeilik om dit te glo, maar as ons net bly vashou aan Sy beloftes verdwyn alle ontsteltenis soos mis voor die son. Momenteel daar in Johannesburg se lughawe, toe die vrou vir my vertel ek kan nie op daardie vlug gaan nie, en ek besef het my maande lange beplande vakansie is daarmee heen, was ek platgeslaan. Binne ‘n uur het God alles kom omdraai. Hy het mense gestuur wat gehelp het, ‘n vrou wat gesorg het dat ek daardie aand kan eet en in weelde kon slaap en die volgende dag kan terug keer huis toe, veilig.

Dan kom Paulus en hy gaan verder en sit baie duidelik en mooi uiteen hoe kosbaar ons vir God is:

Romeine 8: 31WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?

33Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.

34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

35Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?

36Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

38Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge

39of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.


Vriende ek wil die vraag vra, wie van ons wat ‘n verhouding met die lewende God het, kan hierdie belofte mis kyk? Kan kies om in sak en as te bly sit? Kan bly kerm en kla omdat ons nie ons eie sin gekry het nie?

Wat ‘n wonderlike belofte, dat niks, maar niks op die aarde of in die hemele ons van God se liefde kan skei nie. Het jy al op aarde ‘n mens raakgeloop wat jou so lief het? Wat bereid was om vir jou altyd, of jy nou reg of verkeerd opgetree het, daar te wees. Jou te vergewe, jou te dra, jou op te lig en te sorg dat alles reg uitwerk?

Wel ek is nou al ‘n senior burger, en ek het nog nie.

Kom ons hou aan ons Vader se beloftes vir ons vas. Dit kan ons net doen as ons Sy woord ons daaglikse voedsel maak, want jy moet Sy beloftes ken, om jou krag daaruit te kan put. Kom ons leef in dankbaarheid en die wete dat ons veilig in God se hande is, elke dag, vir ewig.

Mooi loop.

NS: In my tuin is daar vanoggend een van hierdie pragtige Anemone wat besig is om oop te gaan en ek dans soos 'n uitbundige kind.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...