Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie gemis. Ek het behoorlik soos ‘n vis op droë grond gevoel omdat ek nie kon skryf en met julle gesels nie. Tog weet ons almal dat tegnologie feilbaar is ... dat daar net een konstante in ons lewens is ... en dit is ons Skepper. Die Herfs, of soos dit vir my voel, Winter het hier aangesluip gekom oor die naweek. Die oggende, aande en nagte is sommer lekker koel. Ek hoop dat niemand van julle geraak is deur die woede van die Kaap van storms nie.
Vanoggend was dit weer vir my opvallend dat twee pastore en my Bybelstudiegids se boodskap oor die selfde onderwerp handel, een wat ons almal aan skuldig is en van kan leer.
Die tong:
Spreuke 18:20Deur die regte woorde te gebruik, kan 'n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê.
21Die tong het mag oor dood en lewe;
dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.
Die tong is die een lid van ons liggame wat ek glo ons die meeste in die moeilikheid gebring het in ons lewens al. Ek onthou baie duidelik hoe die oumens toe ek nog ‘n kind was gemaan het: Dink voor jy praat, want as jy klaar gepraat het kan jy dit nooit terug trek nie.
Wat beteken hierdie vers? Hierdie vers beteken dat as ons slegte dinge van ander sê ons dit oor ons eie lewens spreek en dit terug sal kom na ons. So dit is soos die spreukwoord wat lui: Grawe ‘n gat vir iemand anders en jyself sal daarin val.
Dus moet ons baie, baie versigtig wees wat ons sê, oor ons self, oor ons kinders, oor ons man, oor ons vriende en oor ander. Ons spreek dood oor ons self.
Kom ons neem ‘n eenvoudige voorbeeld: As iemand ‘n bejaarde persoon groet en vra, hoe gaan dit dan oom of tannie? Die persoon antwoord – dit gaan maar soos dit met ‘n arme pensioenaris kan gaan, sukkel-sukkel.
Net daar het die persoon hom of haar self ontneem van God se voorsiening. Dit misken en armoede en gebrek oor hulself gespreek. Dit is hoe gevaarlik dit is. Ek is seker as jy gaan sit en daaroor nadink sal jy besef hoeveel keer jy al dood oor jou eie en ander se lewens gespreek het, sonder dat jy dit besef het.
Dan kom Paulus in Efesiërs en maan ons verder, dit gaan nie net oor wat ons van ander oorvertel of oor hulle spreek nie. Dit gaan ook oor ons harte en optrede en wat daaruit kom.
Efesiërs 4: 31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
Die lewe het ons geslyp, ons is dalk al deur mense verraai, deur mense seer gemaak, deur mense verwoes. Steeds maan Paulus ons om nie verbitterd te wees nie. Hierdie is ‘n baie, baie moeilike een en ek weet baie goed. Soms sal jy in ‘n gesprek sit en die mense begin praat juis oor die dinge wat met jou gebeur het, sonder dat hulle eers weet. Dadelik is jy op jou agtervoete en spuug jy vuur, die bitterheid loop eenvoudig net oor. Dit omdat jy weet hoe seer jy gekry het, en nie wil hê iemand anders moet ook so seer kry nie. Maar in hierdie oorkook, doen jy meer skade aan jouself en almal om jou.
Wanneer ek dit in perspektief sien, staan ek beskaamd. Want geen mens op aarde het of kon my meer skade aandoen as wat aan Jesus gedoen is nie. Tog was en is Hy nie verbitterd nie, maar het selfs in liefde die man wie Petrus die oor van afgekap het terug gesit.
Wat dan gemaak met ons bitterheid en teleurstelling? Hoe keer ons dan dat dit weer uitborrel deur die tong?
Ons kan nie uit ons eie krag hierdie stryd wen nie, veral nie as jy ‘n geaardheid soos ek het wat graag dinge reguit en eerlik uiter nie. Ons moet elke dag die Heilige Gees vra om ons te lei, om ons gedagtes gevange te neem en ons stil te maak voor ons dood oor onsself en ander spreek deur ons uitbarsting.
Vloek en skel – van hoe baie mense se lewens is dit die norm. Ons bedroef God se hart as ons dit doen.
Daar is duidelik geskryf in die Woord:
JAKOBUS 3:9-12
Ons prys die Here en Vader met die tong, maar met dieselfde tong vloek ons mense, en God het daardie mense gemaak om te regeer in sy plek. Ons prys die Here en ons vervloek mense met dieselfde mond. My vriende, dit moenie so wees nie. Julle weet dat daar nie uit dieselfde fontein soet water én bitter water kom nie. My vriende, 'n vyeboom kan nie olywe dra nie en 'n wingerdstok kan ook nie vye dra nie, dit is seker. Dit is dieselfde: Daar kan nie soet water kom uit 'n fontein wanneer sy water sout is nie.
‘n Ander vertaling stel dit so:
JAKOBUS 3:10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.
JAKOBUS 3:10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.
Ons wat van ‘n boerdery agtergrond kom behoort dit baie goed te verstaan – want ‘n koei sal tog nie ‘n skaaplam baar nie, ‘n druiweboom ook nie vye dra nie.
Dan kom ons by ons gesindheid en wanneer om stil te bly en wanneer om met vrymoedigheid te praat. Wat is jou gesindheid as jy ‘n Bybelteks aanhaal? Doen jy dit omdat jy wil wys hoe goed jy jou Bybel ken, of doen jy dit omdat die Gees jou lei om vir die persoon opbouende woord te gee?
Hier het ons die voorbeeld van Elia wat aan die wat die Baal gode aangeroep het spottenderwyse gesê het:
1 Konings 18: 27En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.
Hy het dit nie uit sy eie krag gedoen of omdat hy verwaand was nie, maar omdat die Gees hom gelei het. Daarna het hy stil gebly en weg gegaan soos die Gees hom beveel het.
Ja, ons kan en mag ons tong gebruik om God se koninkryk te bou, maar nie uit ons eie krag en eie verstaan en eie waan uit nie. Nie omdat ons wil wys hoe goed ons is nie, maar onder die leiding van die Gees alleen.
Die tong is ‘n baie, baie gevaarlike wapen – soos ‘n swaard:
Psalm 64: Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges,
van die kwaadstokery van mense wat onreg doen,
4wat met skerp tonge vir swaarde
en giftige woorde vir pyle
5uit hinderlae lostrek op 'n onskuldige mens.
Uit die bloute trek hulle selfversekerd op hom los.
van die kwaadstokery van mense wat onreg doen,
4wat met skerp tonge vir swaarde
en giftige woorde vir pyle
5uit hinderlae lostrek op 'n onskuldige mens.
Uit die bloute trek hulle selfversekerd op hom los.
Soos Dawid moet ons elke dag bid dat ons Vader ons sal beskerm – om ons eie tong reg te gebruik en onder leiding van die Gees en dat God ons sal beskerm teen die vloeke wat ander wetend en onwetend oor ons spreek.
Nog ‘n waarheid wat ek as kind geleer het van die ouer mense: Tel jou woorde baie mooi ...
Kom ons tel ons woorde, dink voor ons praat, hou op om vloeke oor ons eie lewens te spreek en ook oor ander. Kom ons bedroef nie die Heilige Gees, ons Vader en Jesus verder met ons woord en ons tong nie. Laat dit wat uit ons mond kom aanneemlik wees vir ons Vader en verteenwoordigend van 'n mooi hart.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking