Die winter is besig om die pad te vat, waarheen weet ek nie, maar om eerlik te wees gee ek ook nie baie om waarheen nie. Net so lank hy nie meer hier om my rondhang met sy koue ysige vingers wat alewig my voete wil vries, my herinner dat ek ‘n aristokratiese neus het of my ore probeer laat koud kry nie.
Die Lente steek
sowaar haar kop uit in my tuin – die kaalperskeboom het nie net al ‘n paar groen
nuwe blaartjies nie, maar sowaar ook ‘n stuk of tien ligte pink blommetjies.
Die belofte van vrugte in die somer.
My irisse blom …
ag dit is so pragtig, ek kan my verkyk aan hulle. Die anemone blom. Daar is
selfs ‘n kraanvoëlblom wat deur die winter dit gemaak het en nou blom. Die
grasangeliertjies van laas jaar, staan in die blom.
Tannie Ellie, ek
mis jou so … ek sien in my geestesoog hoe jy elke blom in jou groot tuin
versorg. Ek sien nog die plate Jakopregoppe, die massiewe dalias, die Afrikaners,
die Proteas, en pragtige ligpienk rankroos wat soos watervalle oor die prieel
val. Ek was nooit mal oor Jakopregop blomme nie, so dit vertel my net dat ek
jou baie, baie verlang as ek nou hier op byna twee-en-sestig Jakopregop saad in
my eie tuin saai.
Ek gaan hulle uit
die grond kyk en het hulle so gesaai, dat al sit ek die hele dag voor my
skootrekenaar en skryf, ek net my kop hoef op te lig om hulle sal te kan
geniet.
Jy het my ‘n
blomme-hart gegee met jou blomme-geaardheid. Altyd vriendelik, altyd besig om
ander gelukkig te maak, altyd besig om te glimlag. Geen taak ooit te veel of jy
was nooit te moeg nie. Een van my wonderlike herinneringe sal altyd wees hoe
die diamantduikers telkens in die middel van die nag aangeklop het. Dan het jy
opgestaan, sonder om te skroom, wors uit die Minus 40 gehaal en gaar gemaak
daardie tyd van die nag om hulle te kan voed.
Namakwaland is in
sy beste, beste, beste rok geklee vanjaar. Hoe sou jy dit nie geniet het nie?
Dan laat dit my terug dink aan toe ek 10 geword het. Ons het soos die gewoonte
was die pad gevat Baievlei toe, wat net 30 km anderkant Garies op die Honneklipbaai
pad is. Die blomme het plate gestaan, soos hulle nou staan. Telkens is daar
stilgehou en gekyk en geloop en gevat. Ek as opgeskote dogter, het my verkyk en
dit was die beste verjaarsdaggeskenk, want gekoopte geskenke was daar nie. Die rooi
botterblomme, pienk en wit vygies, die gousblomme in wit en oranje, dit was net
asemrowend.
Dankie vir my
herinneringe, en dat jy my jou blomme-hart gegee het om nou nog in my binneste
te klop, my nog so opgewonde soos ‘n kind te laat voel wanneer ek ‘n blom in my
tuin sien blom of wanneer ek die blommerok van ons Namakwaland sien. ‘n Blommehart
het nie baie nodig om aan die klop te bly en gedurig opgewonde te wees nie, net
een kleurvolle blom op ‘n slag en as dit soveel oorvloed is soos van jaar, dink
net hoe uitbundig klop dit dan ...
Ek belowe, as
hierdie heel eerste Jakopregopblomme blom, gaan ek jou lieflike gesig in elkeen
sien, jou sien glimlag, jou hoor lag, jou sien bid, jou sien werk, jou sien
leef en nooit moeg word.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking