Dinsdag 24 Oktober 2023

Leer van Jesus ... moenie die vyand glo nie!


Goeiedag Vriende,


Pragtige somersdag in Windhoek, wat die vyand baie hard probeer het om vir my om te krap. Tog het ons Vader net weer ingetree en dit omgedraai en gewys hoe getrou Hy is.


Vandag wil ek weer met julle oor twee gedagtes deel. Die eerste een is: Is ons gewillig om van Jesus te leer? Uit sy Woord te leer?


Matteus 4:23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.
Van die vroegste tyd af toe Jesus nog op aarde gewandel het, het hy gedurig mense geleer. Hoekom het Hy en wil hy steeds vir ons leer?


Hy wil ons leer om ons toe te rus om die regte besluite te kan maak, besluit wat ons nie sal laat seerkry of skade berokken nie.


Hy wil ons leer om op die regte manier met alle mense om te gaan.


Hy wil ons leer dat ons ‘n gelukkige en oorvloedige lewe kan geniet en nog baie, baie meer.
Hoe leer Hy ons vandag? Hy leer ons deur sy Woord. Al Sy wysheid is daarin opgeteken vir ons, ons moet dit net gaan lees en ons eie maak.


Die tweede gedagte wat ek met julle oor wil gesels is een wat ons al almal in ons lewens ervaar het: Bitterheid, waarmee saam tweedrag en onvergewensgesinheid gaan.


In ons alma se lewens is daar iewers iemand wat ons al te na gekom het. Ons al baie seer gemaak het. Ons al baie skade berokken het.


Wanneer dit gebeur gooi dit ons lewens omver, en vorm daar ‘n wrok of bitterheid in ons harte. As ons aan hierdie persoon dink, voel ons daardie seer, bitter gevoel. Daardie gevoel van as ek net aan jou kan doen wat jy aan my gedoen het.


Tog is dit nie wat Jesus wil hê nie en God ons Vader is baie duidelik in die Woord oor hoe hy daaroor voel.


Efesiers 4:31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.


Soms word ons bitterheid deur vriende of familie aangehits. Hulle ken jou storie, en hulle sorg dat jy gereeld herinner word hoe ‘n groot onreg daardie persoon jou aangedoen het. Hulle gee jou simpatie en die bitterheid bly brand in jou hart. Dit is om tweedrag te saai en glad nie aanvaarbaar vir ons Vader nie. Inteendeel dit word duidelik in Spreuke genoem dat dit een van die dinge is wat God haat.


SPREUKE 6:16-19 NLV
Daar is ses dinge wat die HERE haat, nee, eintlik sewe dinge waarvan Hy ’n afsku het: oë vol hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat onskuldiges doodmaak, ’n hart wat slegte planne beraam, voete wat agter kwaad aanloop, ’n vals getuie wat leuens verkoop, en iemand wat rusie veroorsaak tussen broers.


Ons moet ons bitterheid, ons ongelukkigheid, die onreg wat mense ons aandoen, by God se voete gaan neersit. Die oordeel en vergelding kom ons nie toe nie. Ons moet vergewe soos God ons vergewe. Dat dit nie maklik is nie, is so. Dit is presies waar ons leerbare gees inkom. As ons bereid is dat Jesus ons leer, sal ons sien dat Hy geen bitterheid gehad het teen oor die wat hom onregverdig laat kruisig het nie. Geen bitterheid teenoor ons wat die eintlike oorsaak is dat ons Vader sy eie Seun laat sterf het vir ons sondes nie.


As ons ‘n leerbare gees het en uit God se Woord bly leer, sal ons weet dat ons moet vergewe, geen bitterheid mag dra in ons harte nie. Ook sal ons weet dat die God alles sien en weet. Hy weet van die onreg wat jou aangedoen is, daarom as jy Hom vra om dit vir jou te hanteer, sal Hy jou deur Sy Gees bystaan en lei om die pad te loop van vergifnis en jou vrymaak van daardie bitterheid.


Dit gaan ons niks help om bitterheid, tweedrag en onvergewensgesindheid in ons hart toe te laat as ons andersins die Vader voluit dien nie – want daardie drie gaan ons uit die hemel hou. Dit is nie my mening nie, vriende, dit is God se eie Woord en hart.


Kom ons beklaar ons elke dag bereid om deur God se Woord geleer te word deur Jesus se voorbeeld wat Hy self vir ons kom stel het op aarde. Hy het dit nie net uit die hemel dikteer nie, Hy het self op die aarde kom wandel, self die uitdagings beleef, self mense wat hom onreg aan gedoen het beleef, is self deur die vyande versoek.


Hy praat dus nie oor dinge waarvan Hy niks kennis en ondervinding het nie, maar uit eerstehandse ondervinding. Ons kan maar luister en leer en bedag wees dat die vyande elke geleentheid in ons lewens wil gebruik om ons uit die hemel te hou.


Kom ons volg die Een wat Sy liefde aan ons reeds bewys het, en nie die een wat net die leuen aan ons voorhou nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...