Donderdag 03 Augustus 2023

Wie is jou Baas?



Goeiemôre Vriende,

Gelukkig het die koue hier by ons weer bietjie skiet gegee, en skyn die son bietjie sterker vandag. Van Vredendal se kant af het ek gehoor dat die Suid-wes koud waai. Bly warm en gesond.
Vir wie werk jy?
Werk jy vir jouself, is jou eie baas, neem al die besluite self?
Werk jy vir ‘n werkgewer wat besluit of jou pogings goed genoeg is, hoeveel ure jy moet swoeg en sweet, die besluite neem oor wat jy moet doen of dit nou reg of verkeerd is?
Van hierdie twee opsies kan die eerste een dalk vir jou meer aanloklik lyk. Steeds gaan dit baie druk op jou sit as jy die baas is, want jy mag dalk mense hê wie jy moet betaal, verskaffers hê wat bakhand staan vir hulle geld, moeilike besluite hê om te neem wat jou snags laat wakker lê.
Nou hoor ek jy vra my – nou hoe nou?
Dit bring ons by een van my gunsteling verse in die Woord van God, Psalm 127 vers 2 se laaste gedeelte. Kom ons lees van vers 1 net om dit in konteks te kan sien.

PSALMS 127
Sonder die Here— alles tevergeefs!
1 'n BEDEVAARTSLIED. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet — net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!

Hier vertel Salomo vir ons dat ons pogings alles ‘n mors van tyd is. Bedoel hy dat ons nie moet werk nie? Nee, glad nie, want vroeg in die Woord leer ons dat ons in die sweet van ons aangesig ons brood sal verdien.
Wat wil hy dan sê?
Hierdie skrif is om vir ons te leer of jy jou eie baas is, of vir ‘n baas werk – as God nie jou Baas is nie, is jy besig om jou tyd te mors. As Hy nie deel is van wat jy doen, jy Hom nie raadpleeg in jou besluite, nie na sy stem luister as jou baas iets oneties van jou verwag nie, is jy gedoem en is al jou pogings verniet.
Daarenteen die pragtige belofte in vers twee se laaste deel - net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap! ‘n Belofte wat vir ons vertel, dat as ons toelaat dat ons ons Vader ken in alles, ons nie hoef te bekommer, of wakker te lê nie, terwyl ons rustig slaap sal Hy die oplossing gee en in die môre sal ons verstom staan.
Dit herinner my aan die vers wat ek ontvang het toe ek jare gelede voorgestel en aangeneem is:
Spreuke 3:6 Ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelyk maak.
Ons paaie op aarde is nie altyd gelyk nie, dit is ook nie die belofte nie. Die belofte is, as jy God ken, werklik ken, sy persoonlikheid ken, se passie vir mense ken, sy afsku aan sonde ken, sy liefde ken, sy genade ken, weet dat Hy jou eerste liefgehad het en jy enigiets met Hom kan deel, hy jou alfa en omega is as jy besluite moet neem – DAN sal Hy jou paaie gelyk maak.
Ons as mense wil net altyd die paaie gelyk maak deel ontvang, maar doen geen moeite om ons Skepper God se hart en wese deur sy woord te leer ken nie.
Wil jy nie die een wees vir wie hy die dinge wat jy nodig het in jou slaap gee nie? Waar jy die een is wat alles aan sy voete gaan sit en wanneer jy wakker word is dit uitsorteer nie?
Ek wil vir seker!
Kom ons leer ken die karakter van ons Vader, want Hy ken ons reeds deur en deur en skenk ons nog elke dag genade.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...