Donderdag 31 Augustus 2023

Onvoorwaardelik


Moenie moedeloos word
moenie moed verloor
moenie dat die mens
jou vreugde kom steel
soms is dit die refrein
in jou kop
wat jy oor en oor herhaal
totdat jou stapel gek wil laat
jy soebat en smeek
en bid tot God
jy vertrou en probeer staan vas
jy ken die waarheid
jy houvas aan Sy beloftes
steeds
kom daar stemme van êrens
wat jou bly koggel
jou probeer oortuig
jy droom
uitkoms is nie vir jou
dan stuur God
daardie een engel
wat Hy spesiaal
vir ‘n dag soos vandag
spesiaal vir jou gebêre het
en Hy gee die uitkoms
Hy lig jou op
Hy tel jou ken op
kyk in jou oë
en fluister:
“Weet jy nie
hoe spesiaal jy vir My is nie?”
Hy laat jou luister
na ‘n suiwer stem
wat ‘n area sing
moeiteloos
perfek
fenomenaal
en jy hoor weer
hoe wonderlik Hy geskep het
jy hoor die volmaaktheid
van ‘n God
wat jou onvoorwaardelik liefhet
die warm trane
wat oor jou wange rol
die bewys van jou
dankbaarheid
tog ook jou verwondering
oor God se almag
se liefde
se sorg
se voorsiening
aan ‘n mens se kind soos jy
wat kan jy Hom bied
maar net gehoorsaamheid
om Hom in alles te behaag
onvoorwaardelike afhanklikheid
in Sy almag.

(c) Marsofine Krynauw

Staan vas in Christus


Middag Vriende,
Ek weet nie van julle nie, maar ek is vol afwagting vir Lentedag wat die amptelike begin van Lente aankondig. Ek is ‘n lentekind, ‘n blommekind, en die lente se kleure en prag praat met my. Buiten dan dit pragtig is, gee dit my ‘n ander tipe energie.
Vanoggend lees ek uit Efesiërs 3 waar Paulus uit die tronk die gemeente bemoedig om die moedeloos te word nie. Al is die lente in die lug, en nuwe lewe en groei oral sigbaar, weet ek dat daar baie mense is wat rede het om moedeloos te word.
Jy mag dalk bekommerd wees oor jou kinders, jou man, jou vrou. Jy mag dalk ‘n geliefde hê wat siek is, jy mag dalk jou kwel oor finansies vir jou familie, daar mag dalk iemand in jou familie of vriende kring wees wat sukkel met ‘n verslawing.
Daar is soveel dinge wat daagliks ons kan bekommer. Dalk bid jy al lank oor die saak, maar dit voel nie of daar uitkoms is nie.
Vandag wil ek jou bemoedig, ons moet vasstaan in geloof. Ons moet vertrou op ons Vader wat alles kan en vir wie niks onmoontlik is nie.
Paulus is die een in die tronk, tog bid hy steeds vir die wat dalk namens hom mag moedeloos raak. Hoe wonderlik is dit nie. So moet die sterkes onder ons ook die swakkes dra en bemoedig.
Efesiers 3:
13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as 'n eer beskou.

Ons moet staan op ons Vader se vele beloftes in sy woord en dit sal my altyd terugbring na die een kort vers in Psalm 54:3 – Die dag as ek vrees, sal ek op U vertrou. Daarmee wil ek glad nie sê net die dag as jy vrees nie, nee. Eerder ons moet nie vrees nie, want vrees is nie van God nie, maar as ons situasie vir ons te veel raak en ons wel vrees bly God ons toevlug.
Net as ons elke dag op ons Vader se beloftes staatmaak, in Sy krag wandel, en met Hom praat het ons ‘n versekering dat ons nie hoef moedeloos te word nie.
Kom ons nader tot Hom, glo in Hom, vertrou Hom, dank Hom, eer Hom vir sy goedheid en trou. ‘n Dankbare hart kan nie moedeloos word nie.

Woensdag 30 Augustus 2023

Onvoorwaardelike vertroue

Môre, môre Vriende,

Windstil en heerlik, my eerste renonkel het oopgegaan en is wit, pragtig.
Wanneer kom ons uitkoms en oorwinning?
So baie kere is daar groot bekommernisse in ons lewens. Dit laat ons wakker lê en moeg opstaan, flou deur die dag gaan. Ons dink ons brein so suf, maar ‘n oplossing het ons nie.
Ons maak allerhande planne, probeer hulle self, maar niks wil werk nie. Die probleem bly daar. Moeg en gedaan bid ons dan daaroor. Ongeduldig neem ons dit net weer terug die volgende dag en begin weer woed daarmee.
Wat sê ons Vader daarvan in Psalm 147?
Psalm 147
10Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.
11Die Here het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.
In normale taal beteken dit: God word nie beïndruk as jy as mens op jou eie krag staat maak nie, Hy het soek jou onvoorwaardelike vertroue alleen op Hom.

Hy wag vir jou om oor te gee, te erken dat jy tot niks in staat is as dit nie deur Sy krag is nie. Vir jou om jou vaste vertroue in Hom te stel dat Hy alleen jou bekommernisse en uitdaging kan oplos in Sy Almag en Hy wil dit ook doen.
Ja, die mensdom wil ons laat glo dat daar nie plek is vir swakkelinge op aarde nie. Dat jy jou ding moet doen. Dat jy nie afhanklik moet wees nie. Net mooi die teenoorgestelde van wat God van ons vra.
Afhanklikheid van God is geensins swakheid nie. Jy sal dit ook net regkry as jy elke dag baie, baie nou met ons Drie-Enige God wandel. In jou eie krag sal jy nooit God onvoorwaardelik kan vertrou nie, net deur die leiding van die Heilige Gees.
Onthou dat die vyand jou fokus van God probeer weg neem. Dat hy jou probeer besig hou met kommer, en beproewing en alles wat hy kan kry. Moet jou nie deur sy leuens laat mislei nie.
Die waarheid is en sal altyd wees: Ons dien ‘n God wat ALLES KAN en alles vir ons Sy kinders wil. Ons moet net oorgee, elke dag oorgee.
Ek deel graag met julle ‘n lied wat dit so mooi sê van Monique Spamers – luister gerus na die woorde. https://www.youtube.com/watch?v=Rcb90pX6osQ

Dinsdag 29 Augustus 2023

Liefde


Daar is onmin
in ons huise
daar is onmin
in ons land
daar is onmin
in families
en selfs onmin in ons hart
die Woord het reg voorspel
dat aan die einde van tyd
bloed teen bloed sal veg
dat niemand meer
ontsag sal hê
vir God en sy gebod
wat van as ons alles om kan keer
kan stop dat hierdie gekheid
gebeur
die kuur vir hierdie ooglog
is mos nie in vlees en bloed
maar in ons Vader
se groot gebod
as ons liefde spreek in die môre
liefde leef die hele dag
liefde bewys aan elkeen op ons pad
liefde proklameer
met meer as ons lippe
van diep, diep uit ons hart
kan liefde heel
waar haat kom steel
kan liefde heers
waar vrees verdeel
kan liefde bou
waar die leuen breek
kan liefde verenig
waar haat verskeur het
ons voorbeeld was volmaak
vlekkeloos en getrou
tot in die dood –
dat ons liefde kan leef
aan Sy voorbeeld getrou …
as ons net God se liefde
met almal wil deel.
© Marsofine Krynauw

God, ons enigste Helper


Goeiemôre Vriende,

In Windhoek nog ‘n betrokke dag, maar nie koud nie. Lente is oral sigbaar, nuwe blaartjies, botsels, blommetjies, te wonderlik die nuwe lewe.

Wat my vanoggend weer opval toe ek so in my tuin werskaf, is: Maak nie saak wat ons omstandighede, watter uitdagings om besig is om in ons lewens te woed nie, God se goedheid bly en is oral sigbaar. Hoe moeilik dit ook al vir ons mag wees, moet ons Hom vertrou vir alles.

In Psalm 146 spreek Dawid dieselfde gedagtes uit. Hy noem dat God altyd getrou is, altyd daar is, altyd daar sal wees. Die mense, jou vriende, jou familie, is dalk vandag daar en môre nie. Mense is te besig, mense het hulle eie lewens, maar God sal altyd daar wees, altyd help.

PSALMS 146

God die enigste ware helper.

1HALLELUJA! Loof die Here, o my siel!

2 Ek wil die Here prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is.

3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.

4 Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.

5 Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God,

6 wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;

Dan kry jy daardie situasies waar jy weet geen mens sal jou kan help nie, daar is nie ‘n oplossing wat ‘n mens jou kan gee nie, net God kan.

Ons moet Hom net ons permanente Helper maak, onvoorwaardelik vertrou met alles in ons lewens. Maklik? Nee, nie maklik vir ons mense nie, maar met die hulp van Sy Heilige Gees kan dit maklik wees. Hy het ons in niks alleen gelaat nie en sal ook nooit nie.

Daardie probleem wat jy vandag het, waaruit jy nie kan kom nie, waarmee niemand jou kan help nie – gee dit vir God – Hy kan.

Maandag 28 Augustus 2023

Hy hoor jou

Goeiemôre Vriende,

Hier is Windhoek is die weer sowaar vandag so tussen die boom en die bas. Die son wil skyn, maar sukkel, die windjie roer saggies aan die blare, nog koud, nog warm. Gelukkig is ek hier om dit te kan beleef.

Vanoggend luister ek na een van die pastore van wie ek ‘n oggend oordenking ontvang. Hy getuig van twee wonderwerke wat God hierdie naweek in sy teenwoordigheid vir mense gedoen het. Dinge wat menslik onmoontlik was, maar wat vir God moontlik is en nadat hulle God aangeroep het, was Hy dadelik daar.

Hy noem dat ons soms bid vir ‘n deurbraak, maar voor ons nog amen gesê het reeds besluit het, dit gaan nie gebeur nie, of dit is nie moontlik nie. Ons meet vir God die Almagtige aan ons menslike standaarde.

PSALMS 145

Lofpsalm op die grootheid en goedheid van God.

1 'n LOFLIED van Dawid.

Alef. o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd.

2 Bet. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.

3 Gimel. Die Here is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.

4 Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade.

5 He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.

6 Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel.

7 Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.

8 Get. Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.


9 Tet. Die Here is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.

10 Jod. Al u werke loof U, o Here, en u gunsgenote prys U.

11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag,

12 Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.

13 Mem. U koninkryk is 'n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.

14 Samek. Die Here ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.

15 Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.

16 Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.

17 Sade. Die Here is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke.

18 Kof. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.

19 Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.

20 Sjin. Die Here bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.

21 Tau. My mond sal die lof van die Here uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.

Net daarna lees ek uit my Bybelstudiegids, en die boodskap is dieselfde – Hou aan God vas – is die opskrif.

In Psalm 116 vertel Dawid hoe God hom gered het in ‘n tyd waarin hy reeds die dood in die oë gestaar het.

Psalm 116

Ek het die Here lief

1Ek het die Here lief,

want Hy verhoor my smeekgebede.

2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.


3Bande van die dood het my omsluit,

doodsangs het my aangegryp,

ek het benoud en bekommerd geword.

4Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:

“Here, red my tog!”

5Die Here is genadig en regverdig,

ons God ontferm Hom oor ons.

6Die Here beskerm die hulpeloses:

ek was magteloos, maar Hy het my gered.

7Ek moet nou tot rus kom,

die Here het goed aan my gedoen:

8U het my van die dood gered,

U het 'n einde gemaak aan my trane,

U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.

9Ek kon voor die Here bly wandel

in die land van die lewendes.

10Ek het in U bly glo,

selfs toe ek gedink het dit is klaar met my

11en toe ek in my vertwyfeling besef het:

ek kan op geen mens staatmaak nie.



Hier noem Dawid drie dinge wat veral vir my uitstaan:

Dat God na hom geluister het;

Dat hy geglo het toe hy God aangeroep het;

En dat hy op geen mens kon staatmaak nie.

Ek dink dit moet die kern van ons gebede wees. Wanneer jy met God oor jou probleem praat, moet jy weet Hy hoor jou. Daarna moet jy onvoorwaardelik glo dat Hy Almagtig is en jou onmoontlike situasie vir Hom niks is om te verander nie. En die een wat eintlik heel eerste moet kom – ons kan op mense nie vertrou, ons hoop op hulle nie bou nie.

Nader vandag tot ons Vader, praat met Hom oor daardie probleem, stuk ongelukkigheid, siekte, wat ook al dit mag wees, glo en weet dat Hy tot alles in staat is.

Ons Vader is ‘n liefdevolle Vader en wil sy kinders gelukkig sien.

Vrydag 25 Augustus 2023

Watter plek is Syne?


Môre Vriende,

Die week het al weer om gevlieg, maar ons kla niks, want ons is gesond en geseënd.

Vanoggend kyk ek na ‘n video van ‘n vrou uit Amerika en haar storie tref my diep.

Sy vertel van ‘n jongmeisie wat op pad was om saam met haar vriendinne vir die aand te gaan partytjie hou. Haar moeder vra haar toe om ‘n paar houers met eiers by haar tante af te laat omdat dit op haar pad is. Sy stem toe in, kyk na haar motor en sê: “Ek sal dit maar in die kattebak moet sit, want die kar is vol van my vriendinne. Sy maak toe ook so.

Haar moeder, ‘n gelowige vrou, bid toe saam met haar en toe sy amen sê vra: “My kind neem tog vir God saam met jou?”

Die meisie kyk weer na haar motor wat vol is met haar vriendinne en antwoord: “Dan sal Hy maar in die kattebak saam met die eiers moet sit, want in die motor is daar nie plek nie.”

Sy vertrek toe. Later die aand ontvang die moeder ‘n oproep. “Jammer mevrou, jou dogter was in ‘n ongeluk, hulle is almal oorlede. Wat egter baie snaaks is, al is die motor heel ‘n wrak, daar is eiers in die kattebak, nie een van hulle het eers gebreek nie!”

Dadelik onthou sy haar dogter se woorde: “Dan sal God maar in die kattebak saam met die eiers moet sit, want in die motor is daar nie plek vir Hom nie.”

Waar sit God in jou lewe? Waar sit Hy in jou huwelik, jou werk, jou omgang met vriende? Is jou lewe ook so vol dat daar nie plek is vir Hom nie en Hy maar die plekkie in die kattebak by die eiers moet neem?

Miskien is dit hierdie naweek die tyd vir jou om daaroor te gaan besin – te gaan besluit of jy Hom die plek agter jou motor se stuurwiel gaan gee, die plek in jou huwelik, die plek saam met jou by jou werk, die plek reg langs jou as jy met vriende omgaan. Die belangrikste plek!

Onthou eiers het nie siele nie, maar ons het – sorg dat God die regte plek in jou lewe inneem, altyd, want spyt kom altyd te laat.

Donderdag 24 Augustus 2023

Hoe lyk jy vrou


 Hoe lyk jy vrou

deur Meester hand gevorm

tot ‘n unieke volmaaktheid

wat geen ander skepsel

ooit op sal kan roem

jy in wie se

fyne liggaam

lewe sal groei tot wasdom

jy wie barensnood

sal deurleef

om voortbestaan

vir die mensdom

te verseker

jy wie se hart

sag soos watte moet wees

maar se wil

soos die van gelouterde staal

jy wat die diepste

emosies moet kan beleef

nie net vir jou geliefdes

maar ook die mensdom om jou

jy wie se hand moet kan

bak, kan kook, kan voed

maar ook die ploeg kan stoot

as die nood

so van jou vra

jy wat moet kan

versorg

vertroos

maar ook jou man

se arms hoog moet hou

as die lewens-storm

hom wil platslaan

so fyn en broos

skoonste van die skones

tog is jy ook die een

wat tussen jou gesin

en die vyand sal staan

met ‘n yster wil

en ‘n hart van staal

nie sal skroom om te sterf

as gevaar

jou geliefdes bedreig

en deur dit alles

sal jy nederig bly

wat jy weet waar jy alleen

jou krag vandaan kry

die Een wat jou

met Sy meester hand

geskep het –

dat ‘n traan oor jou

wange kan rol

maar halfpad kan stol

om die te beskerm

wie Hy uit genade jou geskenk het

vernietigend soos ‘n verterende vuur

maar sag en broos

kwesbaar vir seer

hunker jy na die liefde

net van jou eie man

net van die kinders wat jy in pyn gebaar het

nederig om altyd te dien

dat ander in jou

Jesus se hart kan sien.

© Marsofine Krynauw

Die woorde van jou mond

Goeiemôre Vriende,

Nog ‘n pragtige, helder sonskyn dag uit ons Vader se hand. Die luggie knyp soggens, maar deur die dag is dit heerlik warm.
Vanoggend het dit my opgeval dat twee van die drie pastore waarna ek luister uit verskillende skrifte dieselfde boodskap gehad het. Dit beteken dat dit beslis die boodskap is wat ons almal vandag moet hoor en oordink en krag daaruit put.
Soms is daar reuse voor ons, soms is ons omstandighede oorweldigend. Soms wag ons op uitkoms en dit lyk nie of ons Vader ons hoor nie. Dawid het definitief meer uitdagings, meer vyande, meer beproewinge as ons gehad.
In hierdie Psalm kom hy en hy kyk vir ‘n oomblik terug. Wat sien hy? Hy sien en onthou hoe God hom in die verlede bygestaan het. Hoe God hom nooit alleen gelaat het nie. Hoe God daar was om alles te laat uitwerk.
Psalm 143
5 Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.
6 Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land. Sela.
7Verhoor my tog gou, Here: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie.
8Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.
9Red my van my vyande, Here! By U skuil ek.

Hy sien nie net die ontelbare dinge en situasies waaruit God hom gered het nie, maar ook verklaar hy sy afhanklikheid en bevestig dat hy net op ons Here sal vertrou om ook die situasie waarin hy nou is op te los vir hom.
Hoe kan hy so seker wees? Hy kan, want dit wat agter is, getuig van God se getrouheid in sy lewe. So is dit ook in ons eie lewens, as ons sou agtertoe kyk na die dinge wat ons Vader vir ons gedoen het, sal ons ook soos Dawid seker weet, dat ons God ook hierdie situasie waarin ons nou is sal en kan oplos.
Paulus kom in Handelinge 26, waar hy in die tronk is en die koning hom kans gee om sy saak te stel.
Handelinge 26:1 Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy kan maar jou saak stel.”
Wat het Paulus te sê gehad? Het hy ‘n klomp redes aangevoer hoekom hulle hom moet vrylaat?
Nee, dit is nie wat hy met hierdie geleentheid wat hy gekry het gedoen het nie. Hy vertel sy lewens-getuienis vir die koning. Hy vertel waar en hoe God hom kom uithaal en red het. Hy vertel dat sy God daar was en altyd daar sal wees vir hom. Dat hy baie seker is dat sy Vader hom ook uit hierdie situasie sal red.
Wat doen ons as ons die kans kry om ons self te verdedig? Gee ons ‘n klomp leë verskonings? Of getuig ons oor die dinge wat ons God al in ons lewens vir ons gedoen het, met die seker wete Hy sal ons nooit alleen laat nie?
Vandag moet ons ophou verskonings maak vir situasies in ons lewens. Vandag moet ons begin om vir ons kinders, ons vriende, wie ook al wil luister of ons konfronteer ons getuienis te gee van God se goedheid en trou in ons lewens.
Ja, ons God is nie ‘n kitsoplossing nie. Tog is Sy tydsberekening altyd honderd persent perfek. Eer God met jou getuienis, loof en prys Hom, al lyk alles om jou heel uit plek. Hy was nog altyd daar, maar nog meer, Hy sal ook altyd daar wees as jy elke dag met jou hand in syne wandel.
Jy mag dalk in die rotsskeur vas gevang wees, maar God kan jou steeds laat blom.

Woensdag 23 Augustus 2023

Sekelmaan se vriendin


Sterrereën

het die inkswart

hemelkoepel geseën

tog het sekelmaan

alleen daar gehang

verlang

na ‘n kameraad

ver onder

aan ‘n boom se tak

het hy ‘n mooie

vrou sien swaai

na die sneeu bedekte aarde gekyk

geweet sy is ook alleen

en koud

terstonds het hy

besluit

hy gaan sy plek tussen die sterrereen

verruil

vir ‘n geselsie

met die mooie vrou

sy val was vinnig

maar tog sy landing sag

haar glimlag was

skitterwit in sy lig

sy hart was skielik sonder gewig

vrolik het sy geswaai

en vir hom geglimlag

nie een van hul was meer koud of alleen

met sy lig het hy haar omvou

haar so warm gehou

terwyl sy swaai en sy hart verbly

met ‘n haar glimlag

wat liefdesklokkies

in sy hart laat lui

hul was vir mekaar lig

en dit het die koue en duisternis

laat verdwyn …

Nooit alleen ...


 Vriende, dit is al na middag, tog wil ek kom groet. Hierdie dag het begin met ‘n koue wind wat waai hier in Windhoek, ek dink die Kapenaars het hulle koue wind vir ons gestuur. Nou is dit egter heerlik en die sonskyn.

Soms kom ons op ‘n plek, of geleentheid aan en daar is niemand wat ons ken nie. Ons kyk rond, maar sien niemand wat ons ken of groet nie. Dan voel ons so half verlore, so half of ons nie daar hoort nie.

Soms voel jy net geestelik en emosioneel so eensaam. Glo jy daar is niemand wat jou raak sien of omgee nie.

Ons as mense wil graag in ‘n omgewing wees waar ons iemand ken, waar ons met iemand kan gesels, of kan voel iemand sien jou raak.

Dawid was ook daar toe hy Psalm 142 geskryf het.

Psalm 142

5Ek sien uit na regs en kyk, maar daar is niemand wat my ken nie; die toevlug is vir my verlore; niemand vra na my nie.

6Ek roep U aan, o Here! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.

Oor die jare het ek geleer om alleen te wees. Om gelukkig te wees as ek alleen is. Om besig te wees as ek alleen is. Of selfs om gelukkig te wees al het ek niks om te doen nie. Ek is na jare se oefening, tuis in my eie vel en huis – stoksielalleen.

Dit waarheid is egter dat nie jy of ek ooit alleen sal wees nie. Soos Dawid moet ons net besef dat ons skuilplek nie by mense moet wees nie. Ons moet nie ons geluk en energie van ander mense kry nie, maar van God.

Dikwels het ek al gehoor en ek glo jy ook – ek is ‘n mense mens, ek moet mense om my hê om te kan funksioneer. Ek stem nie daarmee saam nie – was daar nog ‘n paar ander baba’s wat saam met jou gebore is op presies dieselfde uur? Is jy seker dat wanneer jy eendag jou laaste asem uitblaas daar ‘n hele magdom mense gaan wees?

Nee, vir seker nie. Wat jy wel kan weet is God sal daar wees, altyd.

Hou ek daarvan om met mense te gesels? Ja, ek hou baie daarvan. Ek het onlangs terwyl ek op Johannesburg lughawe was, met ‘n oom begin gesels wat van Amerika af in SA kom jag het. Ek het heerlik met hom gesels oor trofeejag omdat ek vir jare in trofeejag gewerk het.

So ek in sak en as gewees het as ek nie hom gehad het om mee te gesels nie? Nee, want ek het ‘n boek by my gehad wat ek sou lees.

Ons geluk, vrede, en afhanklikheid moet net van God wees – die mens is soos die wind – vandag daar en môre het hulle iemand anders waarmee hulle liewer tyd wil spandeer.

Bou jou geluk, vrede, en afhanklikheid rondom die Een wat altyd daar is, altyd luister, nooit te besig is nie, nooit jou sal wegstuur nie, nooit sal ophou om jou lief te hê nie.

Dinsdag 22 Augustus 2023

Mankind


If I ever give myself a chance
but to take a glance
to mankind
it boggles my mind
that a Father with
so much love and grace
appointed a human being
to guard His creation
for all man has achieved
to my greatest disbelieve
is to kill and destroy
no love
nor grace
no fear for his own faith
has led him to see
the wonder of the works
of this creation
or recognize the honor
of being called the owner
of this work of art
near to God’s own heart
but rather he kills for fun
every animal that runs
destroy his heritage
instead of paying homage
to a wonder
he could never earn


if I ever give myself a chance
but to take a glance
to mankind
it boggles my mind
that a Father with
so much love and grace
appointed a human being
to trample and destroy His grace
and do not blink an eye.
(c) Marsofine Krynauw

'n Wag voor jou mond!


 
Môre, môre Vriende, alles wel met julle? By my gaan dit goed en dit is ‘n pragtige Lentedag. Daar is kleur in my tuin en dan is my hart bly. Geniet die foto wat ek plaas van my klein vreugdes in my tuin baie.

Vanoggend het een van die pastore waarna ek luister weer my kom aankla met die woord wat hy gebring het en ek weet daar is min van ons vir wie dit nie ‘n teregwysing sal wees nie, daarom deel ek dit met julle.

Dit gaan oor ons wat te vinnig praat soms. Daardie keer wat jy praat voor jy dink. Die keer wat jy mond vinniger as jou brein is. Dan wanneer jy klaar daardie woorde uitgespoeg het, weet jy dadelik dat jy nou ‘n baie groot fout gemaak het.

Jy sien dit aan die persoon vir wie jy wat ook al gesê het se gesig en se hele houding dat hierdie woorde van jou nou net vernietig het. Seer gemaak het, afgebreek het.

Die slegte ding daarvan is, jy kan dit nooit terugneem nie, jy kan dit nie terug trek nie, dit is vir ewig daar.

Dan kom Dawid en hy lyk of hy dieselfde probleem as ons het en hy vra in Psalm 141 ons Vader om hom te help.

Psalm 141

3 Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.

Vandag moet ons dink aan die dinge wat ons so maklik by ons mond laat uitkom. Is dit opbouend, het dit enige waarde vir ons Vader se koninkryk, of sê ons dit net om onsself te laat beter voel al krenk ons die ander persoon se gevoelens.

Dit is veral ons baie reguit mense, waarvan ek een is, wat te vinnig praat. Gelukkig het ons Vader en sy Gees my al geleer om te dink. Dit is glad nie te sê dat ek nie nog soms te vinnig praat nie.

Laat ons leer om net ‘n paar sekondes te dink voor ons praat, want die verkeerde woorde wat ons spreek breek ons Vader se koninkryk af. Ons as kinders van God word anders gemeet as die wêreld se kinders. Laat ons dit onthou.

Wanneer jy voel jy wil sommer reguit vir hierdie persoon aanpraat of sê wat jy voel hulle moet hoor en jy besef dit gaan net skade doen, bid liewer in jou hart vir daardie persoon. Bid liewer dat wat ook al die persoon verkeerd doen die Vader dit sal wegneem of verander.

Ek het gisteraand ‘n prentjie geplaas met die woorde: I am not in control, but I am deeply in love with the One who is’. Laat ons dit aan ons Vader oorlaat om mense te help, te verander, aan te praat, want daardie reg kom net Hom toe.

Laat ons altyd onthou hoe Jesus vir die menigte gevra het toe hulle die vrou in egbreuk betrap het: ‘Die een wat geen sonde het nie, laat hom die eerste klip gooi’.

Ons is die spieël hier op aarde waarin mense wat nie ons Vader ken nie, Jesus se liefde moet sien. Kom ons onthou dit asseblief.

En as dinge of ‘n persoon se optrede heeltemal jou hare laat regopstaan, neem jouself uit die situasie en bid.

Maandag 21 Augustus 2023

Waar is my krag?


Met ‘n sonskyn glimlag

en ‘n sagte streel

van die wind se asem

oor my arm

het hierdie dag

sag

my lewenskrag

kom steel

my agter gelaat

sonder om terug te kyk

met ‘n moegheid

wat my hele wese

wil insluk

kragteloos

gedaan

voos

maar ek sal

na die Een gaan

wat belowe

dat Hy sterk is

in my swakste uur

want ek weet

ook vir hierdie

moegheid

het Hy reeds ‘n kuur

sal Hy wyl ek slaap

alle tamheid weg vee

my warm en teer

teen sy Vaderhart vas druk

my veilig hou al is ek swak

met Sy wonderbare

krag ook in die nuwe môre

my krag wees …


© Marsofine Krynauw

Kruisdraers



Goeiemôre Vriende,

‘n Pragtige lente dag hier in Windhoek soos dit al van laas week af was. So lekker dat ek my wintersklere vir somersklere verruil het en dit sê baie want hierdie Namakwaland-kind kry vinnig koud. In my tuin sien ek ook die lente, gesiggies blom, anemone blom, irisse blom en grasangeliere blom lustig. So helde en so vrolik, dan is ek nog geseënd met voëltjies wat graag hier by my kuier, en luister ek na hulle geselskap.
Ek hoop almal het die naweek ‘n kans gehad om te rus en die pragtige veld en blomme daar in my hartland te waardeer. Dit klink my daar by julle is die winter traag om te groet. Bly asseblief warm en gesond, die lente is om die draai.
Vanoggend lees ek uit Timoteus en hy was soos al die manne wat ons Vader gebruik het om sy Woord te boekstaaf, ‘n baie wyse man. Hy gesels oor hoe dit soms vir ons lyk dat dit met die goddeloses so goed gaan en dat ons kruisdraers soos ons Heiland moet wees.

2 Timoteus 3
Laaste opdrag aan Timoteus
10Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding, 11in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. 12Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. 13Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.
14Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was 15en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.


Timoteus was ‘n man deur ons Vader uitgekies om ‘n gedeelte van die Bybel te skryf, hy was ‘n profeet wat in die weë van ons Vader gewandel het en die evangelie uitgedra het.
Tog skryf hy hier, dat selfs hy, nie leiding en swaarkry vrygespring het nie. Hy noem ook dat dit mag lyk dat die goddelose net lekker lewe, maar net hulself bedrieg.
Die antwoord is in vers 17, dat ons voorbereid en toegerus kan wees om Jesus se opdrag om dissipels kan maak kan uitvoer en dat ons soos ons Heiland ook kruisdraers kan wees. Hy het immer die swaarste kruis gedra vir ons.
Ja ons sal vervolging beleef, ons sal teenkanting beleef, ons sal selfs verwerp en verstoot word vir ons geloof in Christus, maar Hy het ons reeds met die hoogste prys vergoed – vergewing van sondes as ons dit bely, en die ewige lewe as ons streef om in gehoorsaamheid van sy woord te leef.
Baie male hoor jy mense sê: Daar is nie ‘n handleiding hoe om reg te leef nie. Dit is ‘n leuen! Daar is die beste handleiding – die Bybel. Jy moet dit net lees en toepas met die hulp van ons Vader se Gees binne jou.
Mooi loop op hierdie Maandag.

Donderdag 17 Augustus 2023

Richtersveld se berge



Die rondings van jou lyf
is sag en rond
ag tog so gesond
vanjaar
oortrek met bossieveld se groen
silhoeëte ver in die verskiet
blou afgeets teen horison se grou
lê berg en vallei
sy aan sy
in ‘n nuwe kleed getooi
berge van die Richtersveld se mooi
glimlag hul skugter skaam
hul dankbaarheid
soos ‘n volbloed Namakwalandse nooi.
(c) Marsofine Krynauw
Foto Bonita Van Der Berg

Dit mag met jou goed gaan ...


Môre, môre Vriende,

Ek was reeds in my tuin om te sien of my nuwe blomme-kindertjies wat ek gister geplant het gelukkig is. Hulle is heel gelukkig. Ek moet nou maar my eie Namakwaland hier om my probeer herskep, al sal ek dit in my hele lewe nie reg kry nie. Steeds is die blomme in my tuin balsem vir my blomme-siel.

Waaroor gesels ons vanoggend uit ons Vader se woord? Ons gesels heel dikwels oor die feit dat swaarkry ons nader aan ons Vader bring, ons laat besef hoe afhanklik ons van Hom is. Beteken dit dan dat as die altyd goed met ons gaan, ons nie naby aan ons Vader is nie?

In Johannes 16 is Jesus besig om sy dissipels voor te berei op sy kruisiging, tog is dit ook ‘n woord wat vandag nog steeds waar is.

Johannes 16: 33Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Selfs hier maak Hy seker dat sy dissipels sal verstaan dat die lewe op hierdie aarde nie maanskyn en rose sal wees nie. Tog is daar mense wat dit altyd mee goed gaan, mense wat gelowig is, mense wat Jesus as hul verlosser aangeneem het.

Die geheim is eerstens om jouself en jou omstandighede nie met die van ander te vergelyk nie. Ons is uniek, en elkeen van ons maak ons eie keuses, wat soms veroorsaak dat ons paaie oor rotse en berge en baie gevaarlike terreine gaan. Tog na elke oorwinning het ons iets geleer, iets waarmee ons iemand wat later deur dieselfde gaan kan bemoedig. Want hoe bemoedig jy iemand wat ‘n kind verloor as jy nog nie self ‘n kind verloor het nie?

Die persoon waarmee dit altyd goed gaan, staan baie meer die gevaar om weg van God te beweeg. Om op eie krag te begin staat maak. Om te begin glo hulle het nie God nodig nie. Om te vergeet dat alles wat hulle wel het, van God is.

Die persoon waarmee dit altyd goed gaan moet dus baie hard werk daaraan om naby God te bly. Steeds elke dag in hulle voorspoed te besef, hulle voorspoed kom net van God. Voorspoed is nie noodwendig geld nie, voorspoed is ook gesondheid, kinders wat presteer en nie skeeftrek en hul met nonsens ophou nie. ‘n Man of vrou wat jou liefhet en by jou staan. Daardie oes wat suksesvol is.

As ons so na hierdie dinge kyk, is dit nie een iets wat jy vir jouself kan bewerk nie, net deur die guns en genade van ons Vader.

Daarom as dit met jou goed gaan, bly naby jou Vader. Kyk na ander deur Sy oë, help waar jy kan, wys jou dankbaarheid in die een taal wat God ons almal gegee het – die taal van liefde en omgee.

Net soos die blomme in ‘n tuin voor ‘n armmanshuis blomme bly en nie minder mooi is omdat hulle nie voor ‘n rykmanshuis staan nie, net so is God se liefde dieselfde vir ons almal. So as jou neus vandag in die lug is omdat jy glo jy is beter as ander of jy het meer as ander, laat sak maar daardie neus – dit is genade uit God se hand.

Woensdag 16 Augustus 2023

Kunstenaar die wind


Op Sossus se duin
het die wind geploeg
die mooiste kontoere
in die duinsand gelaat
die koringlande
van die Swartland na-aap
‘n kabbelduin agtergelaat
tog as jou oog
verder gaan
sien jy die
kalkwit droë pan
merk jy in verwondering
die gladste rooiduin
net daar oorkant die pan
volmaak gekurf
geen rimpel of spoor
gelaat deur wind
met kunstige hand
die kontras so fenomenaal
dieselfde wind
wat kartels blaas
net oor die pan
met plathand glad
en vloeiend
die volgende duin aanraak
‘n kunstenaar
‘n skeppings wonder
dit het ons Vader jou gemaak
ons vriend die wind
wat Sossus se duine
meesterlik uniek maak.
© Marsofine Krynauw
Fotograaf Solly Levi

Ons God KAN!


Goeiemôre Vriende

Lekker vars oggend in Windhoek. Wind stil. Ek is opgewonde, want ek gaan bietjie by die Kwekery rondloop tussen al die plante, bome en blomme. Julle behoort teen nou my goed genoeg te ken om te weet dat ek daar in my element is.

Vanoggend lees ek 1 Petrus 3

13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.


Uit hierdie gedeelte in die Woord leer ons, dat selfs ons Koning, Jesus Christus lyding moes verduur. Ons weet reeds dat die lyding wat Hy moes verduur glad nie vergelyk kan word met wat ons as lyding sien nie. Sy lyding was bo ons verstand se begrip. Hy het gely vir mense wat hardkoppig en ongehoorsaam was en steeds is nadat Hy hierdie offer gebring het.

Dit leer ons ook dat deur lyding ons karakter gevorm word. Dit laat ons ‘n bitter klein insig kry van wat Jesus vir ons opgeoffer het en deur gegaan het. Tog is ons nooit alleen in ons lyding nie, Hy hou ons hand, hy dra ons deur, en as ons anderkant uitkom is ons sterker in geloof en nader aan Hom.

Wanneer vertrou ons iemand? Net wanneer ons gesien het dat daardie persoon werklik sy/haar woord gestand doen. Is dit nie ook hoe ons met Jesus handel nie? Ons moet net onthou, Hy is nie ‘n mens wat vir ons sal jok nie. Sy woord en beloftes staan vas tot aan die voleinding van die wêreld.

Hou op twyfel of God by magte is om jou deur jou bekommernisse en lyding te kan bystaan en deur dra. HY KAN!

Dinsdag 15 Augustus 2023

Tannie Ellie ... ek het Jakopregop-saad geplant

 


Die winter is besig om die pad te vat, waarheen weet ek nie, maar om eerlik te wees gee ek ook nie baie om waarheen nie. Net so lank hy nie meer hier om my rondhang met sy koue ysige vingers wat alewig my voete wil vries, my herinner dat ek ‘n aristokratiese neus het of my ore probeer laat koud kry nie.

Die Lente steek sowaar haar kop uit in my tuin – die kaalperskeboom het nie net al ‘n paar groen nuwe blaartjies nie, maar sowaar ook ‘n stuk of tien ligte pink blommetjies. Die belofte van vrugte in die somer.

My irisse blom … ag dit is so pragtig, ek kan my verkyk aan hulle. Die anemone blom. Daar is selfs ‘n kraanvoëlblom wat deur die winter dit gemaak het en nou blom. Die grasangeliertjies van laas jaar, staan in die blom.

Tannie Ellie, ek mis jou so … ek sien in my geestesoog hoe jy elke blom in jou groot tuin versorg. Ek sien nog die plate Jakopregoppe, die massiewe dalias, die Afrikaners, die Proteas, en pragtige ligpienk rankroos wat soos watervalle oor die prieel val. Ek was nooit mal oor Jakopregop blomme nie, so dit vertel my net dat ek jou baie, baie verlang as ek nou hier op byna twee-en-sestig Jakopregop saad in my eie tuin saai.

Ek gaan hulle uit die grond kyk en het hulle so gesaai, dat al sit ek die hele dag voor my skootrekenaar en skryf, ek net my kop hoef op te lig om hulle sal te kan geniet.

Jy het my ‘n blomme-hart gegee met jou blomme-geaardheid. Altyd vriendelik, altyd besig om ander gelukkig te maak, altyd besig om te glimlag. Geen taak ooit te veel of jy was nooit te moeg nie. Een van my wonderlike herinneringe sal altyd wees hoe die diamantduikers telkens in die middel van die nag aangeklop het. Dan het jy opgestaan, sonder om te skroom, wors uit die Minus 40 gehaal en gaar gemaak daardie tyd van die nag om hulle te kan voed.

Namakwaland is in sy beste, beste, beste rok geklee vanjaar. Hoe sou jy dit nie geniet het nie? Dan laat dit my terug dink aan toe ek 10 geword het. Ons het soos die gewoonte was die pad gevat Baievlei toe, wat net 30 km anderkant Garies op die Honneklipbaai pad is. Die blomme het plate gestaan, soos hulle nou staan. Telkens is daar stilgehou en gekyk en geloop en gevat. Ek as opgeskote dogter, het my verkyk en dit was die beste verjaarsdaggeskenk, want gekoopte geskenke was daar nie. Die rooi botterblomme, pienk en wit vygies, die gousblomme in wit en oranje, dit was net asemrowend.

Dankie vir my herinneringe, en dat jy my jou blomme-hart gegee het om nou nog in my binneste te klop, my nog so opgewonde soos ‘n kind te laat voel wanneer ek ‘n blom in my tuin sien blom of wanneer ek die blommerok van ons Namakwaland sien. ‘n Blommehart het nie baie nodig om aan die klop te bly en gedurig opgewonde te wees nie, net een kleurvolle blom op ‘n slag en as dit soveel oorvloed is soos van jaar, dink net hoe uitbundig klop dit dan ...

Ek belowe, as hierdie heel eerste Jakopregopblomme blom, gaan ek jou lieflike gesig in elkeen sien, jou sien glimlag, jou hoor lag, jou sien bid, jou sien werk, jou sien leef en nooit moeg word.



Wat is jou afgod?


Goeiedag Vriende,
Ek het eers met my dierbare vriendin gekuier vandag, maar steeds het ek glad nie van julle vergeet nie. Of sal ek sê van die handvol wat gereeld met my gesels vergeet nie. Ek is dankbaar vir elkeen se geselsie, en hoop alles gaan goed daar by julle.
Vanoggend lees ek die bekende gebeurtenis van Daniel se vriende in die Woord. ‘n Verhaal wat ons almal baie goed ken. Maar net om die geheues te verfris – die koning laat bou ‘n massiewe goue beeld en sy opdrag is dat as enige musiekinstrument speel, die hele volk daarvoor moet buig en dit aanbid. Daniel se vriende, Saderag, Mesag en Abadnego weier omdat hulle ons lewende Vader God Drie-enig aanbid. Hulle word in die vuuroond gegooi en God stuur sy engel om hulle te beskerm. Die mooiste deel is vir my dat toe hulle uit die vuur kom, hulle nie eers na vuurrook geruik het nie.
My vraag vandag is: Buig jy jou voor afgode neer?
Ek hoor ook die antwoord: Nee, Marsofine, nee!
Wel laat ons bietjie van nader daarna kyk. Rook jy? Gebruik jy meer as gereeld alkohol? Hou jy aan jou bankbalans vas asof jou lewe daarvan afhang? Is daardie 4x4 bakkie van jou darem iets wat jy net nie kans sien om iemand ander mee te laat ry nie? Is daardie man of vrou in jou lewe die een wat bepaal of jy Sondagoggend kerk toe gaan?
Ek kan aanhou met die lys vrae, daar is nog baie. As die antwoord op enige van hierdie ja is, het ons probleme. Afgode is nie net gou beelde nie, afgode is enigiets in jou lewe, waarop jy meer tyd spandeer, waarvoor jy nie kans sien om van ontslae te raak nie.
Hoeveel tyd spandeer ons om Bybel te lees, om met God ons Vader te praat, om te bid, om dankie te sê? Wanneer laas het jy meer as tien minute met jou God op ‘n slag spandeer? Met Hom jou hart gedeel soos wat jy dit met jou beste vriend doen? Met Hom gepraat en hom gevra wat sy wil vir jou lewe is? Vir Hom uit jou hart dankie gesê vir alles waarmee Hy jou elke dag seën?
Die bybelsemense het voor mensgemaakte afgode gebuig wat gesien kan word, maar buig ons nie steeds voor mensgemaakte afgode wat nie gesien kan word nie?
Kom ons ondersoek elkeen ons harte, en wees baie, baie eerlik met onsself. God ken reeds die antwoord, Hy is net te ‘n gentleman om ons daaraan te herinner. Kom ons kry die gesindheid van ‘n Saderag, Mesag en Abadnego – om hul knie voor geen ander as die lewende God te buig nie.

Maandag 14 Augustus 2023

Hy sorg vir ons, een dag op 'n slag.


 

Goeiedag Vriende,
Ek hoop julle het almal die naweek die blomme geniet. Hier by ons is die weer heerlik, en ons kla nie al weet ons dit is nog nie Lente nie. Dit gee ons iets om na vooruit te kyk.
Vandag is ons bemoediging uit die baie bekende Matteus 6. Veral vir hierdie tyd waarin alles byna onbekostigbaar duur geraak het. As jy gaan kruideniersware koop, het alles so duur geword, dat jy byna nie kans sien om dit in jou mandjie te sit nie, tog moet ons eet. Vir my wat al baie, baie jare in Windhoek bly is dit steeds moeilik om vir vrugte en groente sulke verskriklike bedrae te betaal. Ek het groot geword tussen die vrugteboorde en groente was daar enige soort wat jy aan kon dink in ons eie groentetuin.
Tog kom Jesus in Matteus 6 en maan ons om Hom te vertrou vir ons voorsiening, een dag op ‘n slag.
Die sorge van die lewe
(ook Luk. 12:22-34)
25“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?
31“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
34“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

‘n Gedeelte wat ek glo elke kind van God ken. Steeds bekommer ons elke dag ons oor presies die dinge waarvan Jesus hier praat. Ons vertrou liewer op ons eie insig en eie planne.
Dit is vir my so mooi as Jesus vra: 27Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?
Dink ‘n bietjie terug aan toe jy nagte en nagte wakker gelê het en jou lê en verknies het oor jou bekommernisse. Het jou slapeloosheid jou enigsins gehelp om die probleem op te los?
Ons besef ons het ‘n probleem, die eerste ding wat ons doen is om paniek-mode in te gaan. Of ‘n klomp mense te bel en hulle daarvan te vertel. Wat het ons bereik? Niks!
Juis daarom is die volgende vers so treffend: 30As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?
Moet ons dan leeglê en niks doen nie? Nee, allermins. Ons doen wat ons hande vind om te doen, rustig en verder bid ons en vertrou ons God in die wete dat ons vir Hom baie meer werd is as die gras of die lelies van die veld.
Kom ons hardloop nie altyd alles vooruit nie. Probeer nie altyd ons eie situasie beheer nie, maar los dit in die Een wat ons liefhet, wat nie sluimer of slaap nie en wat ons nooit in die steek sal laat nie. Onvoorwaardelike vertroue en liefde, dit is al wat Hy van ons vra.

Vrydag 11 Augustus 2023

Gee oor en vertrou


Middag Vriende,


Julle kom seker agter dat my pas skielik baie stadiger is, ja, dit is, want ek het gister daardie groot stuk werk afgehandel en gun myself nou die stadiger pas vir ‘n paar dae voor ek die volgende boek begin skryf. Steeds hier is ek, en dit is ‘n lieflike dag in Windhoek, met lekker sonskyn. Vandag se foto is van blommetjies uit my tuin waarvoor ek dankbaar is.
Vanoggend wil ek net in kort weer gesels oor ons afhanklikheid van God. Ek gee vir julle Matteus 15:5
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”

As dit met jou moeilik gaan, weet dat jy na God kan gaan en Hy is daar altyd. Of dit goed of sleg met jou gaan, God is altyd daar. Kniel soos hierdie vrou voor jou Vader en gee daardie swaar las waaraan jy jou so dood dra vir Hom, en wees dat rustig in die wete dat Hy groot en almagtig is om daarmee te deel.
Jy moet net oorgee, en net onvoorwaardelik vertrou net op ons God.
Bely vandag jou afhanklikheid aan ons Almagtige Vader. Ja in hierdie dag in tyd mag ons mos nie afhanklik wees nie, maar glo my as jy nie jou afhanklikheid van God bely nie, sal jy bly sukkel met jou eie planne wat nie uitwerk nie.
Psalm 54:4 – Die dag as ek vrees, sal ek op die Here vertrou.
Vertrou op die Here, nie net die dag as jy vrees nie, maar altyd.
Luister gerus na die lied wat ek hierby aanheg se woorde.
Geniet my mooi hartland met al sy blomme prag hierdie naweek namens my.


https://www.google.com/search?gs_ssp=eJzj4tFP1zcsNM0yzsjIKjBg9JLPVMhLTU1RKMlITVXIz1BA5hbn56UDAF_jD1g&q=i+need+thee+oh+i+need+thee+song&oq=i+need+thee+oh+i+need+thee&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUqBwgFEC4YgAQyBggAEEUYOzIHCAEQABiABDIHCAIQABiABDIHCAMQABiABDIHCAQQABiABDIHCAUQLhiABDIHCAYQABiABDIHCAcQABiABDIHCAgQABiABDIHCAkQABiABNIBCTEyNzc0ajBqN6gCALACAA&sourceid=chrome&ie=UTF-8

Donderdag 10 Augustus 2023

My woorde


 
Die son het heeldag geslaap
die wolke verveeld rond gehang
en reën het ons almal verras
met 'n vroeë skou
saam met dit alles
het my woorde weggeloop
soos 'n onnutsige boklam
hul eie rigting ingeslaan
sonder 'n plan
net die pad gevat
en voort geneuk
waarheen
of tot waar
het ek geen benul
maar ek weet vir vandag
is hul moeg om te
doen soos ek wil
so laat ek hul maar los
om te bokspring en te val
net waar hulle wil
môre sal ek hul
weer in mooi
formasies rankskik
om almal te behaag
soos ons Vader beskik
miskien het hul net vir vannag
daar onder die sterre
tussen die blomme
van my ou Namakwaland
gaan rus
om môre te verskyn
met mooie kleure
en soete geure
net soos die blomme prag
so vir nou
rus maar sag
ons Vader hou ook
oor jul die wag.
(c) Marsofine Krynauw

Leef in vrede, wees geseënd.



Dagsê Vriende,

Hier bly dit so snaaks betrokke, en glo dit as julle wil daar het selfs gister namiddag tien druppels geval. Dit is nie koud nie, net betrokke. Dit voel byna asof ek nou in Swakopmund by die see bly. Wat kan ek in elke geval anders as dankbaar wees. Die week is besig om uit te loop en my groot taak is byna voltooi.
Waaroor gesels ons vandag? Wat moet ons doen om die seën van die Here te ontvang?
Die sleutel is in Psalm 133. Ek plaas die hele kort treffende Psalm hier.

As broers eensgesind saam woon
1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën:
'n lang, lang lewe.

In hierdie Psalm sien ons dat ons Vader se hart eensgesindheid, vrede, harmonie is. As ons dit nou besef, vra ons wie is ons broer?
Ons broer is nie net ons familie nie, dit begin by jou familie in die gemeente, jou vriende, jou familie. God se hart is dat ons met almal vrede sal handhaaf. Hierdie is nie die enigste plek in die Woord wat daarna verwys word nie.

ROMEINE 12:18 AFR83
As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.


GALASIËRS 5:22-23 AFR83
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.


it is so belangrik vir ons Vader dat dit deel van die vrug van die Gees is. God se belofte in Psalm 133:3b - Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën:
'n lang, lang lewe.

Dieselfde Gees wat in ons woon, God self, sal ons bystaan, ons raad gee, ons help – so ons hoef dit nie alleen te probeer nie. Om in vrede met mense te leef vra dat jy van gister sal vergeet, dat jy elke dag nuut sal begin, soos wat God met ons doen as ons hom vra om ons oortredinge te vergeef. Ons moet ook gister se verskille agter los, want wat kan dit aan vandag verander as jy dit bly saamdra, behalwe om jou van jou vrede en die seën van jou Vader te beroof.
Gaan jy dit verder toelaat dat onmin en twis en verskille jou weghou van die volle seën van jou Vader? Hy seën jou daagliks met baie dinge, maar daardie seën kan jy in soveel groter maat ervaar as jy in vrede en liefde met jou medemens, jou broer, jou vriende leef. Liefde is mos die grootste gebod en God is mos Liefde?

Woensdag 09 Augustus 2023

Van smeltkroes na oorvloed!


Môre, môre Vriende,


Snaakse weer vanoggend hier by ons. Eers betrokke en toe kom die sonnetjie so floutjie uit en die windjie begin gesels.
Vanoggend is die verse wat ek graag met julle wil deel Psalm 66:10-12:
10Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter.
11U het ons in die net gebring, 'n swaar las op ons heupe gelê.
12 U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.

Geen belofte van net voorspoed nie. Net soos goud en silwer gelouter word, deur ‘n baie harde proses gaan voor die gesuiwer is om by hulle beste waarde uit te kom, so ook moet ons gelouter word.
Hoekom?
Dink bietjie terug aan Jesus se tyd op aard. Jesus, een van die Drie-eenheid, self God. Hy is verwerp, Hy is as leuenaar uitgemaak, Hy is deur satan versoek, Hy is nie aanvaar as die Christus nie, maak nie saak hoeveel tekens en wonder Hy gedoen het nie, Hy het die kruisweg alleen gestap en gesterf dat ons kan leef.
Wie is ons, dat ons elke dag vra – hoekom ek Here? Ons wil alles net op ‘n skinkbord kry en aanhou om ongehoorsaam te wees, aanhou om te sondig, aanhou om die wêreld eerste te stel en te aanbid, en net wanneer ons benoud raak, gryp ons na God.
Dit is gelukkig nie al wat hierdie vers ons leer nie. In die tweede deel - maar U het ons uitgelei in die oorvloed – is God se wonderlike belofte van oorvloed vir ons.
Oorvloed laat jou dadelik dink aan geld in die bank …
Nee, oorvloed is nie net finansieel nie. Wat van die oorvloed van jou gesondheid, die oorvloed van jou mense om jou, die oorvloed van jou mense wat vir jou werk, die oorvloed van die oes wat God gegee het, die oorvloed van vrede waarmee jy elke aand kan gaan rus, wetende dat God jou probleme oplos terwyl jy slaap.
Vriende julle sien, ons dien ‘n God van liefde. Net soos ons ons kinders moet tugtig om hulle te leer om op die regte pad te bly en verantwoordelike volwassenes te word, so moet ons Vader ons ook leer.
God se belofte is nie dat jou pad sonder dorings sal wees nie, maar nog steeds belowe Hy jou oorvloed as jy dit saam met Hom stap.
Wie van ons het enige deel daaraan dat ons Namakwaland se vlaktes, heuwels en berge oortrek is met blomme prag? Nie een nie! Steeds deel ons in die oorvloed van die oes.


Dankie vir die gebruik van Rensche Verwey se pragtige foto.

Dinsdag 08 Augustus 2023

Totale afhanklikheid van God.


Beste Vriende,

Hier in Windhoek is dit ‘n heerlike sonskyn dag. Ek het nou geheel en al in my tuin ingevaar en my bome en struike gesnoei, want hulle begin dan al bot. Ek weet die winter is nog lank nie met ons klaar hier nie. Hier kry ons wat die Duitsers noem die drie Eisheiligen. Daar is niks heilig aan nie glo my, behalwe dat laat in September wanneer Lente al begin het, en alles al besig is om te bot, daar drie onmoontlike koue dae kom wat die arme plante baie skade kan aandoen. Dankbaar dat ons Vader alles weer herstel.
Vanoggend se geselsie gaan oor ons afhanklikheid van God. Maar hoe baie van ons weet en besef hoe afhanklik ons van God is?
Ons lees in Matteus 5:3 Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 1953 Vertaling
Die eerste vraag wat ons vra as ons hierdie vers in die 1953 vertaling lees is: Wat beteken arm van gees nou eintlik, en val ek dan in daardie kategorie?
‘n Heel relevante vraag. Ek het bietjie gaan oplees oor die verskil in die twee vertalings van 1953 en 1983.
Die term het sy oorsprong in die tyd toe daar baie rykes, rykes, middelklas, armes en slawe was. Die eerste drie klasse het oorvloed of genoeg gehad, maar die laaste twee klasse is onderdruk en het nie geweet waar hulle volgende dag se voorsiening vandaan sal kom nie. Dus was hulle die twee klasse wat baie goed geweet het op wie hulle moet vertrou en onvoorwaardelik afhanklik was van God.
Is dit nie nog vandag net so relevant nie? Is dit nie so as dit goed gaan met ons en ons het oorvloed vergeet ons ontsaglik maklik hoe ons daaraan gekom het en wie ons daarmee geseën het nie?
Daarmee gee ek geensins te kenne dat alle mense wat oorvloed het, nie hulle afhanklikheid van ons Vader besef nie, maar die teorie is waar.
Dit is verander in die 1983 vertaling na ‘wat weet hoe afhanklik’. Steeds moet jy eers besluit om God onvoorwaardelik te vertrou met ALLES in jou lewe, voor jy onder hierdie klas kan val.
Matteus 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 1983 Vertaling
Dus blyk dit uit vandag se teks vir my dat dit baie meer voordelig is om ‘n tekort aan wêreldsgoed te hê en van die begin af te weet, God sorg vir dit wat ek nodig het en meer. Sy voorsiening vir ons is nie die krummels nie, maar die ‘beker wat oorloop’ waarin daar gepraat word in ons bekende Psalm 23.
Mag ons dan net vra vir dit wat ons môre nodig het? Nee, jy mag ook jou drome met hom deel. By my is dit tans ‘n besoek aan my geliefde Namakwaland terwyl die blomme so oor die berge, vlaktes en heuwels pronk. Tog moet ons nie vergeet dat Hy nooit vir ons iets sal gee wat hy weet ons kan skade doen nie, daarom moet ons onthou om te vra in Sy wil.
Hoe lyk dit om afhanklik van ons Vader te wees?
Dit begin by jou wat jou nie vaskyk aan die geld in jou beursie of jou bankrekening nie. Jy wat jou nie vaskyk in die yskas wat daar nie veel in is nie. Jy wat jou nie vaskyk aan die droë aarde van jou plaas nie. Jy wat jou nie vaskyk in jou buurman se nuwe bakkie, trekker, of sy vrou se nuwe Mercedes nie.
Wat is die ewigheidswaarde van dit?
Wanneer jy op God begin vertrou vir elke dag, elke week, elke maand, elke jaar se voorsiening, sal Hy jou wys wat jou deel is om te doen. Nie dat Hy nodig het vir jou om iets te doen vir Hom om vir jou te voorsien nie, maar hoe anders sal ons gehoorsaamheid leer.
Ons het soveel minder nodig as wat ons en die wêreld ons wysmaak. Ek het groot geword, soos ek glo baie van julle, met kerse, olie lampe en ‘n AGA stoof vir warm water en kos maak. Wat is daarmee verkeerd? Op die aarde niks nie. Ons het net te gemaklik geword, en dit het ons al hoe verder van ons Vader afgeneem.
Soms word ek aan afhanklikheid herinner as ek dink aan die boere van Namakwaland, Boesmanland en selfs die druiwe boere langs die Olifantsrivier. As dit nie reën nie, gebeur niks. Tog oorleef hulle al vir jare en jare en is gelukkig.
Laat ons elke asemteug, elke tree, elke stukkie kos en al ons ander behoeftes aan ons Vader oorgee in die wete, niemand van ons het nog ophou asemhaal nie, en dit kom net van Hom. Laat ons in algehele afhanklikheid van ons Vader, die Almagtige wat hemel en aarde in ses dae geskape het leef.

Maandag 07 Augustus 2023

Twee kruike



Twee kruike
deur die Groot Pottebakker
gemoduleer
tot perfeksie
hul ronding en kurwes
in volmaakte ewewig
pragtig vir die mens
om te aanskou
het gebreek


tog nie net geval
en uit mekaar gespat

een skielik oorval
deur die groot vergeet
met ‘n lewensduur
al goed geleef
stadig het die vergeet
haar brein versmoor
totdat sy haar greep
op die lewe heel verloor


‘n ander se glasuurwerk
was nog skaars droog
en uit die oond
eendag het sy nog glinsterend
op ‘n tafel gepronk
die volgende
het ‘n vernietigende parasiet
aan haar brein begin vreet
sy honger onuitblusbaar
het hy haar nie lank gespaar
vir die wat so graag
nog na haar skoonheid wou kyk
sy honger was nie gestil
maar sy lê
nou leweloos
gebreek en stil
sal nooit weer met haar glans
almal bekoor

twee kruike
aan skukke
op die lewensvloer
hul stemme stil
hul skoonheid
hul geliefdes ontneem

vanaand word daar
in twee huise geween
oor ‘n lewe geleef
tog steeds te gou
van haar geliefdes geneem

‘n ander nog skaars begin
soveel drome
soveel liefde
soveel lewe
was daar vir haar nog voor …
sy het dit alles verloor

helaas
deur die trane van verlies
die troos
dat hul albei
geliefdes van die Pottebakker was
en nou weer terug is
daar by Hom.
(c) Marsofine Krynauw


Van Saterdag tot vandag is twee vroue oorlede, een 'n dame van 65 wat op 62 Alzheimers gekry het. Die ander 'n vriendin se dogter, net 34, wat net 4 maande gelede gediagnoseer is met 'n breingewas.

Wen-wen met Christus!


Dagsê liewe Vriende,
Die dag het weer met my weggehardloop, maar ek is dankbaar vir alles om my en bo alles my gesondheid. Ek sal eerlik wees, vanoggend toe ek wakker word was my eerste wens dat ek daar in my ou Namakwaland kan wakker word waar die blomme nou so pragtig staan. Tog is ek dankbaar vir die paar in my tuin. Ek hoop almal het die Vader se oorvloed die naweek geniet.
Vanoggend in my stiltetyd lees ek twee gedeeltes, en dit val my op dat dit so mooi by mekaar aansluit, net so reg soos ons Vader ons in sy Woord leer as ons bereid is om te leer.
Die eerste gedeelte kom uit 1 Korintiërs 10:13
Dit handel oor versoekings in ons lewe. Eerstens is versoekings nie van God nie, maar Hy laat dit toe om ons te vorm. Verder is daar die belofte van hierdie vers.
1 Korintiërs 10:13Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
Daar is dus geen belofte dat ons as kinders van God net ‘n baie mooi en reguit pad sal hê nie, maar wel dat God wanneer die vyand ons aanval en al hierdie dinge oor ons pad bring daar sal wees om ons daardeur te help.
Dan kom ek by die tweede gedeelte Jakobus1:2-4. Dit gaan oor wat die doel van hierdie versoekings is.
Jakobus 1:2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
Ons Vader wat ons deur dit help, laat dit toe om ons geloof en afhanklikheid van Hom te versterk. Dus as ons bereid is om aan ons Vader vas te hou, Hom te raadpleeg as ons in hierdie beproewinge is, toe laat dat Hy ons daardeur help, sal ons elke keer makliker daar deur kom.
Ons sal later weet, hierdie is net ‘n molshoop, en glad nie ‘n berg nie, want ons God is groter. Ons moet net vasstaan in ons geloof, deur die goeie en die slegte tye. So raak ons uitdagings ons oorwinnings in Christus.

Vrydag 04 Augustus 2023

Waarmee is ons besig?



Vriende, ‘n hartlike goeiemôre uit Windhoek. Ek weet nie of julle nog koud kry nie, maar wat ek wel weet is dat my hart na die Namakwalandvlaktes hunker waar ons Vader gesaai het in oorvloed en die blommeprag die rante en vlaktes kleur in reënboog kleure.
Hoe lekker sal dit nie vir my wees om daar te gaan rondry en by elkeen te stop waarmee ek op die groep gesels nie, ‘n koppie koffie te drink en die dankbaarheid en vrede van ons Namakwaland te aanskou.
Vanoggend word ek aangepraat deur Johannes 8.

Johannes 8:48Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!”
49Jesus het geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. 50Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter. 51Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.”


Dit is Jesus self wat hier praat. Niks het verander vandat hierdie woorde geskryf is nie. Vandag nog doen ons as God se kinders Hom oneer aan.
Hoe?
Al het Hy ons van sy liefde en genade verseker, dat niks ons ooit uit sy hand kan ruk nie:
Bekommer ons ons daagliks oor dinge van hierdie wêreld;
Is ons steeds ongeduldig as ons vir iets vra as ons dit nie gou genoeg kry nie;
Vertrou en glo ons baie keer nie dat God ons kan help nie;
Is ons male sonder tal ondankbaar oor die vele seëning wat Hy ons gee;
Beperk ons Sy Almag en krag deur te vergeet dat Hy die Skepper van die heelal is en niks vir hom onmoontlik is nie;
Maak ons telkens staat op ons eie insig en krag en soms ook die van ander en nie op Sy wonder werkende krag nie;
Daar is sekerlik nog baie wat ons kan opnoem. Dit het net weer vir my duidelik geraak dat ons as mense nie die Almag, die krag die soewereiniteit van ons Vader verstaan nie.
Raak vir ‘n sekonde stil en dink aan hoeveel mense op die hele aarde is – ja ek weet jy kan jou verstand nie daarom kry nie. Nou, dink verder, ons Vader, die Drie-Enig-God – ken elkeen persoonlik, al ken hulle Hom nie. Verder het Hy elkeen lief, verder versorg Hy elkeen.
Hoe moeilik is dit soms om net na jou eie huishouding se mense om te sien liggaamlik en geestelik? Kry jy ‘n kykie van hoe ALMAGTIG ons Vader is?
Die is dieselfde Vader waarop ons nie wil onvoorwaardelik vertrou en ons lewe onvoorwaardelik aan Hom wil oorgee nie?
Ek kan net vir myself vra – is daar iets fout met my verstand as ek so onverantwoordelik optree? Wie dink ek is ek om te glo dat my mikro probleempies nie deur die Almagtige God opgelos kan word nie?
Dit het tyd geword dat ons gaan stilsit en met behulp van die woord en die Heilige Gees gaan kyk wie ons God is en wat Sy kapasiteit is – miskien sal ons dan bereid wees om ons lewe algeheel aan Hom oor te gee.
Mooi naweek en mooi loop daar deur die blomme.

Donderdag 03 Augustus 2023

Oupa maan se maag

Ek sit hier in my venster

my beentjies opgetrek

teddie en my boek

elkeen op hul plek

ek gewaar toe oupa maan

so groot en wit en rond

omring deur al die sterre

daar aan die hemelfront

maar by my deug

dit is nie al

ek het so byna byna

van my sitplek geval

daar in oupa maan se maag

het ‘n elfie dit gewaag

dit lyk kompleet of hy daar sweef

is hy nie bang om te val

of sal oupa maan hom styf vashou

totdat hy hom sag kan laat gaan

daar waar hy op die horison ondergaan

ek is nou heel verwonderd

deur hierdie rare fonds

nog nooit nie het ek

‘n elfie gesien in oupa maan se maag

hoe het hy daar gekom

wil ek tog so graag weet

vir wie sal ek tog vra

die grootmense wil ek nie pla

en sal hulle ooit weet

al waaroor hul daglank praat

van soggens vroeg tot saans laat

werk en swoeg en sweet

hul wil nooit lees of speel

of soms net stuitig wees

hulle sal my nooit nie glo

van die elfie daar bo

in oupa maan se maag

nou bly dit my geheim

wat ek met teddie deel

die weet dit is waar

want kyk net hoe sit hy en staar

ek weet dat hy ook die elfie daar gewaar

en wanneer ons na bed toe gaan

sal ons droom van die elfie

in oupa maan se maag …

©Marsofine Krynauw

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...