Donderdag 18 Mei 2023

Waarin vind jy jou vreugde?


Vanoggend is ek dankbaar dat ek in 'n land woon waar ons nog Hemelvaartdag kan vier. Die wêreld sal alles wat ons aan Jesus se offer vir ons en die feit dat Hy nou Koning van die Konings is en aan die regterhand van ons Vaders sit, probeer weg neem.

Ek is nog steeds besig met die boek van Hosea. Vandag gaan dit oor die feesdae wat hulle bly vier het om vreugde in hul lewens te hê. Hulle het bly sondig, vir God bly verstoot, maar die feesdae het hulle bly vier om hulle persoonlike vreugde te kan ondervind. Dit het nie oor God gegaan nie, dit het oor hulle vreugde gegaan.
Waar kom ons vreugde vandaan? Is ons vreugde gesetel oor hoe ons omstandighede is? Is ons vreugde gesetel in ander wat ons vermaak? Is ons vreugde gesetel in hoe die politieke toestand van ons land is? Of vele ander dinge?
Vier ons God se feesdae om Hom te eer? Of om onsself te laat goed voel?
Psalm 37:4-5 AFR83
Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Die feite is, ons vreugde kom net van God - as dit nie die bron van ons vreugde is nie, sal ons nie standhoudende vreugde smaak nie. Ongeag hoe dit met ons gaan, wat om ons aan die gang is, wie ons aanvaar, of wie vir ons omgee, moet ons vreugde in ons harte koester, omdat ons Vreugdesbron onuitputlik is.
Dit laat my altyd weer teruggaan na HABAKUK 3:17-19 AFR83
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Laat ons ons harte ondersoek en ons beweegredes vind hoekom ons God se feesdae vier. Laat ons eerlik wees en vasstel of ons vreugde in ons Vader gesetel is, want dan sal dit standhoudend wees ongeag ons omstandighede.
Mag almal 'n baie geseënde Hemelvaartdag geniet - Jesus het opgevaar, Hy het werklik opgevaar.
(c) Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...