Woensdag 24 Mei 2023

Witgatboom


Op die rotswand se rant
het ‘n Witgatboom sy weg
oop geveg
sy saadjie ontkiem
in ‘n paar korrels sand
vasgevang in ‘n skeur
in die rots se wand
deur son, wind en weer
het dit hier gedy
die elemente se
storm en drang
deurleef
teen die natuur se wet
dit self verset
bly staan as die storms
se donder en blits
blou vonk uit vuurklip slaan
gedrink van die
druppels van reën se seën
dit diep in sy wortels gaan berg
en saans as die son
die horison in karmosyn inkleur
sug hy tevree
want dit is alles die moeite werd
elke keer as son
vir dag afgee
aan nag
en maan sag oor
sy boomlyfie streel
sing hy dankbaar
saam met die aandwind
ego sy liedjie teen die kranse
en gee die ander moed
wie se wortels nog
diep in die rotsskeur
hul weg moet baan.
© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...