Gister was Moedersdag en die moeders bederf en vereer deur hulle kinders. Dit is nie waaroor ek wil gesels nie …
Ek wil gesels oor
die moeders wat nooit swanger was nie, en toe moeders is en die kinders wie jy
nie gebaar het, maar ook jou kinders is.
In my lewe, en ek
glo is so baie ander s’n, is daar die vrou wat nooit swanger was nie, nooit
lewe geskenk het aan my nie, maar sy was my Moeder. Hierdie vrou was my Pappa
se susters. ‘n Vrou wat nooit self kinders kon hê nie, maar ‘n vrou wat toe die
lewe gebeur het, en ons sonder ‘n biologiese Moeder laat, ons geneem het.
Hierdie vrou het
ons versorg met soveel liefde en omgee. Hierdie vrou is die vrou wat as ons
siek was nagte voor ons bed gesit het. Hierdie vrou is die een wat daar was as
ons hartseer was en saam met ons gelag het as ons bly was. Die een wat ons
bemoedig het as dinge moeilik was en ons altyd aangemoedig het met ‘jy kan’.
Die een wat ons gelees het dat ons niks kan vermag in ons eie krag nie, maar
deur ons Vader wat ons krag gee alleen.
Daar was geen
beter Moeder vir my as hierdie vrou nie. Sy is jare gelede al oorlede, en in my
volwasse lewe was ek so gelukkig dat die Vader ‘n tweede so ‘n vrou oor my pad
gestuur het. ‘n Vrou wat al het sy my nie in die lewe gebring nie, vir my lief
is soos haar eie. Wat my raad gee, my bemoedig, saam met my bid.
Ek wil vir
hierdie vroue, vroue wat ander vroue se kinders grootmaak, liefhet, ondersteun,
bemoedig vandag baie dankie sê. Dit is nie om ‘n kind in die lewe te bring wat
jou ‘n Moeder maak nie, dit is om vir ‘n kind om te gee, ‘n kind liefde te gee,
‘n kind te aanvaar en jou hande vir daardie kind af te baklei.
Nou die kinders,
wat nie jou kinders is nie. Vroeg oggend ontvang ek ‘n WhatsApp uit Texas, USA.
Dit kom van ‘n jongman wie ek jare gelede gehelp het om ‘n beurs vir deel van
sy opleiding as vlieënier te kry. Hy het net soos enige ander student aansoek
gedoen vir ‘n beurs. Die verskil was die volgende: Op daardie stadium as sy
Moeder al oorlede. Sy enigste ondersteuning, was sy ouma. Geld om ‘n vlieënier
te raak was daar nie. Maar hy het net besluit hy gaan van sy drome nie afsien
nie.
Na Matriek het hy
van besigheid tot besigheid geloop en vir homself borge gesoek nadat hy ‘n
volledige uiteensetting gekry het wat dit hom sal kos vir die verskillende
fases van sy opleiding. Hy het nie vir die hele bedrag gevra nie, net vir elke
besigheid vir ‘n gedeelte.
Teen die tyd wat
hy sy aansoek vir ‘n beurs by ons by die Trust waarvoor ek gewerk het ingesit
het, het hy net die geld nodig gehad vir
sy vliegure en dit was ‘n R100 000.00. Die aansoek is aan die Bestuursraad voor
gelê saam met sy uitslae tot op daardie stadium, want almal A’s en B’s was. Dit
is die eerste keer afgekeur.
Ek het aan hom ‘n
brief geskryf en hom bemoedig en belowe, ek sal my hande stomp baklei vir
hierdie beurs vir hom, want hy het homself reeds bewys. Daarin het ek hom
belowe om met die Voorsitster van die Raad te gaan praat, sy situasie te
verduidelik en dit weer op die volgende vergadering in te sit vir oorweging. My
laaste woorde in daar die kommunikasie was, ‘ons sal bid vir guns by ons
Vader’.
Op die volgende
Bestuursvergadering was daar hewige gevegte oor hierdie aansoek. Op die einde
het die Voorsitster gevra dat hulle moet stem, en sy beur is toegestaan.
Vanoggend nadat
ek hom bedank het vir my Moedersdag wense, stuur hy vir my daardie brief van
meer as 10 jaar gelede wat ek vir hom geskryf het nadat die beursaansoek die
eerste maal afgekeur was. Ek was verstom dat hy dit na al die jaar nog het. Sy
dankbaarheid vir daardie beurs en dat ek in hom geglo het, het nog nooit
opgehou nie. Vandag is hy ‘n suksesvolle vlieënier, met ‘n pragtige vroutjie en
seuntjie. ‘n Kind wat diep in my hart is.
Wat ‘n voorreg om
Moeders en kinders te kan hê waarvoor ons kan lief wees, wat nie biologies aan
ons verbind is nie.
©Marsofine
Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking