Môre vriende,
‘n Wonderlike, mooi sonskyn dag in Windhoek. Die week is hier
by ons vir baie aan sy einde vandag, omdat dit môre ‘n vakansiedag is en baie
vir Vrydag verlof neem. Ek natuurlik is permanent met vakansie, so waaroor sal
ek kla.
Vanoggend praat Pastoor Nolan oor Psalm 81:11b.
Die vraag is – wat kom by jou mond uit?
Woorde dra krag. Soos die ou spreekwoord lui: ‘Waar die hart
van vol is loop die mond van oor.’
Psalm 81:11 Ek is die Here jou God wat jou laat optrek het
uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul.
Hierdie word die beste bewys wanneer twee mense verlief is op
mekaar. Hulle hele geselskap gaan oor die ander persoon se deugde.
As jy elke dag heel dag net negatiewe dinge praat, net
swartgallig is, is dit voorwaar wat in jou hart is. Jou lewe sal ook so donker
en negatief wees want dit is wat jy spreek. As jy ongeluk, swaarkry, seer, of
wat ook al die hele tyd bekla en dit is wat uit jou mond kom, is dit wat jy
bepaal jou lewe sal wees.
Daarenteen as jy jou hart met dankbaarheid vul, sal
dankbaarheid, vreugde en vrede wees waaroor jy praat. As jy oorwinning en lewe
spreek, sal dit wees wat jou lewe sal wees. Dit is daardie konsep van
nieteenstaande alles, kies ek om prositief te wees, om God te vertrou, om Hom
te dank vir elke klein dingetjie. Want Sy beloftes staan vas. Soos in Psalm
81:17.
17Ja, Hy sou hulle voed met die beste van die koring; en met
heuning uit die rots sou Ek jou versadig.
Hy wil ons mond vul met die goeie, en so ons harte ook. Hy
wil hê dat ons mond en harte met lofprysing gevul sal wees wat oorborrel om aan
ander Sy goedheid en liefde te wys.
Wanneer jy vir ander begin bid, hulle saam met jou vir nog
ander bid, raak dit ‘n kring van opheffing, van deurbraak, van God se vrede en
geluk. Voor jy jou kom kry, is jou mond gevul met al die mooi, die positiewe,
die wonder van lewe soos deur God vir ons gegee.
Tel jou woorde, soos die oumense gemaan het. Kyk wat jy
praat, kyk wat in jou hart is. Die keuse is in jou hande, wil jy dood oor
jouself spreek of lewe. Want God vul jou mond met lewe …
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking