Woensdag 17 Mei 2023

Pappa se pienk kombers

Pappa, dit is weer winter. Dit is al my 46ste winter sonder jou. Jy onthou sekerlik nog dat ek glad niks van die winter hou nie. Dat ek jou lente kind is, die een wat tussen die Namakwalandse blomme die gelukkigste is.

Tog het ek deur die jare geleer dat daar vir ons almal iewers of iets as troos teen die winter is. Vir party is dit daardie kaggelvuur en glas rooi wyn saam met ʼn geliefde. Of selfs net ʼn beker warm sjokolade of sop saam met jou familie, wat jou kan voed na liggaam en gees.

Vir ander is dit dalk die wol sokkie, truie, jasse en knus musse wat hul daardie warm gevoel gee. Vir die kantoor dame die serp, mus en hoë hak stewels waarin sy so eg vroulik en professioneel voel.

Wel, ek hou steeds nie van die winter nie ... Tog het ek deur die jare geleer om daarmee te deel op my eie manier. Ek sorg dat daar helder geel, pers, en oranje gesiggies in my tuin pronk om die koue te koggel en my ter herinner dat daar wel blomme in die winter ook is. Dat lente net na winter kom, waar ons wêreld weer in oorvloed gaan blom. Ek bederf myself met sop, enige soort, want ek is mal oor sop.

Maar die een bederf wat jy my nagelaat het en wat my winters al vir vier-en-veertig jaar anders maak, is my Pappa se pienk Waverley kombers.

Hierdie kombers wat die laaste kombers oor jou bed was, want sien dit is nie meer soos toe nie. Nou slaap almal onder veerligte vere duvets wat jy een skut gee en jou bed is opgemaak. Nie soos toe Pappa daardie laaste ou Kersaand vir die laaste maal gaan slaap het nie ...

Hierdie pienk kombers het Pappa onder geslaap, en dra die getuienis van hoe jy snags gerook het en soms ingesluimer het met die sigaret in jou hand. Die brandmerk op die mooi pienk satyn-rand, ʼn kleinood vir my, iets waar sonder hierdie net nog ʼn kombers sou wees.

Pappa, elke jaar as die winter sy koue vingers begin uit ryk na my lyf, trek ek jou pienk kombers nader, word dit oor my hedendaagse moderne vere duvet gegooi. Elke winter is jou pienk kombers my troos, my beskerming teen die koue en my kosbaarste herinnering aan jou. Voel ek jou warmte en liefde deur jou kombers nog steeds my menswees omvou. Kyk ek met deernis en liefde na die brandmerk op die gladde pienk satyn en onthou ek jou koffie-drink en rook gewoonte in die nag. Onthou ek hoe ek tel
ke male gewonder het, wanneer jy slaap, as ek soggens jou leë koffie-fles weg geneem het voor jou bed.

Hierdie kombers koester ek, want ek weet onder hierdie pienk kombers het jy ook baie nagte drome gedroom. Het jy soms dalk wakker gelê, bekommerd oor my ouboet en my. Het jy dalk menige aand gaan slaap met ʼn trotse gevoel in jou hart oor my ou boet se rugby prestasie of oor my eerste plek in die ag-honderd meter. En wanneer die dag jou begroet teen vier uur die oggend, was alles vergete, want vir jou was dit ʼn nuwe dag. Het jy daardie dag ingebreek met jou uit die maag uit, kop agteroor gooi lag.

Dankie Pappa vir my pienk kombers, dankie vir die warmte en liefde en troos wat dit deur die jare aan my verleen het. Dankie dat as ek na die brandmerk kyk, ek jou liefdevolle gesig sien en nie ʼn stukkende kombers nie. Dankie dat hierdie pienk kombers, my omvou en warm hou, soos jy gedoen het met jou liefde toe jy nog self hier was.

Dankie dat die winter vir my, my Pappa se pienk kombers is ...

©Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...