Wat doen jy die naweek? Braai! Gaan strand toe! Gaan draf! As ek so na die weervoorspelling vir Suid-Afrika kyk, lyk dit my nie dit is wat julle gaan doen nie. Reg deur die land word daar koue en reën voorspel.
Wat daarvan om 'n lekker kaggelvuur te maak, 'n glas rooi wyn en 'n lekker boek nader te trek en te lees? Wat van die man/vrou en kinders? Hulle kan mos ook lees, of hoe? So 'n lekker gesins-lees naweek lekker knus en warm binne in die huis.
Buiten dat jy gaan ontspan, gaan jy nog na plekke reis waar jy dalk nog nooit was nie.
Nou waar kry ek nou 'n boek op sulke kort kennisgewing?
Maklik - Malherbe Uitgewers het boeke beskikbaar in e-boek of kindle - ook in boek, maar dit is vir 'n ander dag. Jy het nou 'n boek nodig en vinnig. Gaan kyk op https://www.malherbe-uitgewers.co.za/component/search/?searchword=Marsofine%20Krynauw&searchphrase=all&Itemid=101
Daar sal jy my boeke vind - 'n boek vir die meeste leesvoorkeure, liefde, haat, verraad, moord, vergelding, mensehandel, ontvoering, selfs 'n paar wat op ware feite baseer is en in fiksie omskryf is.
Hier is voorblaaie van 'n paar, net om jou leeslus te troef:
Willow Logan word op die platteland gebore, net na haar vierde verjaarsdag verlaat haar moeder hulle. Sy en haar broer bly by hul pappa en word deur hul tante grootgemaak.
Sy leer baie vroeg reeds verwerping en die harde kant van die lewe ken. Pas na skool trou sy. Weereens het die lewe vir haar ‘n draaibal gedeel wat in ‘n nagmerrie ontaard. Daarna verdwyn sy vir jare en keer terug as die Persoonlike Assistent van die Minister van Binnelandse Sake in Namibië.
Sy het een getroue vriend wat sy gemaak het tydens haar verdwyning. Een mens wie sy kan vertrou, wat nie weet van die bestaan van Willow Logan nie. Ook ‘n FBI Agent soos sy – dit is haar bes bewaarde geheim – haar eintlike beroep.
Wat het in die tyd gebeur wat Willow Logan verdwyn het? Wat gebeur wanneer sy teruggaan na die plek waar sy haar bekwaam het as FBI Agent? Gaan sy ooit geluk smaak en wie is Willow Logan?
Die musiek moet aangaan
’n Roman vol intriges.
Zora Serrano en Alba Romero is jare lange vriendinne wat saam groot geword het. Saam het hulle mekaar bygestaan deur die swaar en seer van die lewe. Nou is hulle albei suksesvolle besigheidsvroue.
Zora met ‘n dogter, Mira, wat ‘n briljante violiste is. Alba met ‘n dogter wat ‘n talentvolle danser is. Net soos hulle twee, verskil die persoonlikhede van hierdie twee meisies hemelsbreed. Steeds is hulle soos hul moeders, beste vriendinne.
Alhoewel Mira die gehoorsame, beginselvaste een van die twee meisies is, vrywaar dit haar nie van teleurstelling, verraad en die klappe wat die lewe uitdeel nie.
Die wilde Ayala, dans en geniet net haar lewe, al is hulle net sewentien.
Hul albei se lewens word deur ‘n jongman drasties verander. So drasties dat dit nie net vir hulle raak nie, maar ook hul moeders in ‘n manier wat niemand ooit sou kon voorsien nie.
Wat lê alles tussen Mira en haar sukses as violiste? Sal sy ooit haar droom kan verwesentlik? ‘n Droom om gehore regoor die wêreld te betower met haar pragtige vioolmusiek?
Of word dit van haar weggeruk, voor sy nog die kans gekry het?
Vergelding
Eduard en Engelhard Dijkstra is 'n identiese tweeling wat so identies is, selfs al woon hul in verskillende dorpe, dieselfde aantrek. Daar is net een verskil – Eduard is ’n geharde dwelmbaas al vanaf 'n baie jong ouderdom, en Engelhard is 'n gesins- en besigheidsman.
Vir Engelhard en sy vrou Bea, word daar ook tweelingseuns gebore, glad nie identies nie. Kort na hul geboorte kuier Eduard by Engelhard en hulle gaan daagliks na Engelhard se drie Boerejongens koffiewinkels. Dit is voor een van hierdie koffiewinkels waar een van die tweelingbroers vermoor word. Dit is definitief Eduard, want die dwelmbase het moeg daarvan geraak dat hy hul besigheid oorneem in die strate van byna elke groot stad in Nederland.
Die tweelingseuns van Engelhard en Bea erf alles van hulle oom Eduard. Spoedig is hulle groot manne. Pascal lyk nie net soos sy oom nie, hy is ook net so ’n goeie besigheidsman. Albert aan die ander kant, is ’n begaafde Tjellis.
Net voor die manne skool verlaat om universiteit toe te gaan, begin Engelhard vir Pascal alles van besigheid in die praktyk leer, hy moedig hom ook aan om in die cannabis-handel in te gaan.
Na ‘n baie traumatiese gebeurtenis in Pascal se lewe, spits hy hom toe op baie meer as die cannabis-handel en raak gou ‘n gehate teenstander in die onderwêreld. Daar is net een probleem, hulle kry hom nie in die hande om hom te elimineer nie.
Die familie word geskud deur ‘n paar ontdekkings uit die verlede. Sal hulle dit deurstaan? Sal Pascal dit regkry om sy oom se dood te wreek en self lewend daar uit te kom?
Tweeling van liefde is haat ...
Erin Rossi, ʼn jong vooraanstaande interieur-ontwerper van Syracusa, Sisilië, in Italië, word deur haar groot kliënte Aurora en Enzo genooi vir hul huis onthulling in Taormina. Buiten dat die gaste nie uitgepraat kan raak oor die pragtige dekor en ontwerpe van Platinum Villa nie, betower sy almal met haar skoonheid en pragtige geaardheid.
Net wanneer die skone Erin deur Aurora aan haar gaste voorgestel word, kom Massimo Lombardi, ʼn baie aantreklike vrygesel en die eienaar van die Bellview Grand hotel, die vertrek binne. Die skone Erin het dadelik meer as net sy aandag getrek.
Binne dae kontak hy haar onder die voorwendsel dat hy van haar professionele dienste wil gebruik maak om die Bellview Grand ʼn nuwe gesig te gee. Hy draai die sjarme krane van die begin af wyd oop, maar die professionele, beginselvaste Erin hou hom op ʼn afstand alhoewel sy nie onverskillig teenoor hom staan nie. Sy stel hom voor ʼn keuse: of sy neem die projek aan, óf hul gaan in ʼn verhouding. Indien hy wil hê dat sy die projek moet doen, sal hy maar moet wag om haar die hof te maak tot nadat die projek voltooi is. Sy hou hom by hierdie werksetiek van haar.
Kort daarna begin hul ʼn liefdesverhouding, wat binne ʼn maand lei tot hul troue. Ongelukkig was Erin nie bewus van Massimo se casanova lewe voor hy haar ontmoet het nie. Hier ontspoor Erin se lewe geheel en al. Dít is waar die tweeling van liefde, haat raak ...
Hofsaak van die dood
Advokaat Courtney Dalton, strafreg advokaat, is bekend vir haar sukses met groot mensehandel sake, en die onreg teen vroue en kinders. Met senior advokaat Zeya Dreyer Coetzee, self ʼn oorlewende van mensehandel as vriendin en raadgewer, gaan sy van krag tot krag. Sy is baie geliefd by haar familie en kollegas. Haar verloofde, Spencer, aanbid die grond waarop sy loop. Maar dan slaan die noodlot toe...
Courtney verdwyn een aand nadat sy by Zeya gekuier het. Net haar voertuig word ure later in die straat gevind waarin die hof geleë is, en waar sy byna daagliks skurke gevangenis toe stuur.
Die span wat op hierdie ondersoek werk is meedoënloos en bestaan uit senior advokaat Zeya Dreyer Coetzee, met haar ondervinding van haar eie ontvoering wat haar dryf; haar man, Mantie Coetzee, ʼn FBI agent wat die hel van sy vrou se ontvoering moes deurleef; en dan agent, Jade Kendrick, ʼn vrou wat vir jare die hel van verkragting deur haar vader moes deurstaan. Hierdie span, met die hulp van baie ander, sal geen steen onaangeraak laat om hul vriendin lewend te vind nie.
Wat gaan hul vind? Wie is verantwoordelik vir die verdwyning van hierdie geliefde jongvrou? Kan dit dalk vergelding wees? Gaan hulle haar kry, lewend of dood?
Jy kan ook 'n e-pos stuur direk aan sales@malherbe-uitgewers.co.za met die boek se naam.
Lekker lees!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking