Vir 33 jaar hoor ek al mense sê: ‘Kom daaroor’, ‘die lewe gaan aan’. Tog weet ek hulle sal nooit verstaan. Hulle het jou nie vir nege maande onder hul hart gedra. Ook nie die voorreg gehad om vir vier maande jou te hoor brabbel, of te sien opgewonde raak as daar musiek speel. Hulle het jou ook nie die oggend van daardie dag voor jy na Jesus sou gaan, sien speel in jou wieg, so gelukkig.
‘Kom daaroor’ –
mens kom oor iets wat jou ontstel het, een of ander beuselagtigheid, nie oor
die dood van jou baba nie.
‘Beweeg aan’ – wel, as ek nie aan beweeg
het nie, was ek nou steeds net 29 jaar oud. So ek verstaan dus dat hulle eintlik bedoel – ‘vergeet daarvan, moet nooit weer daaroor praat of dink nie’. So asof jy nooit gebore was, nie vandag 33 sou wees as jy nie die mooiste engeltjie in die hemel was nie.
Vandag kom sê ek
dankie vir my Vader vir vier maande. Vier maande wat ek jou in my arms kon hou.
Vier maande wat ek saans kon toekyk hoe baie jy van bad hou, en skop en plas
dat die water so spat. Vier maande wat ek jou kon sien opgewonde in jou
stoeltjie wriemel as die musiek speel. Vier maande wat jy vir my geleen was.
Dit was nie lank, maar dit was volmaak.
Verder kom sê ek
dankie vir ons Vader wat vir 33 jaar my al dra, my vertroos, my laat aanvaar
het dat Sy plan altyd perfek is vir ons. Jy sien my seun, ek het dus nie agtergebly
en is vasgevang in 1990 nie, ek onthou jou, ek koester die kosbare ure, dae, weke
en maande wat ek saam met jou gehad het, en ek vier daardie tyd.
Daarby is ek
dankbaar, vir Paul, Ihan en Janine, wat my lewe volgemaak het en nou vul met
die vreugde van kleinkinders. Janine se jongste dogtertjie, Zivah, verjaar saam
met jou, vandag.
Ja, ek wonder
ook, want ek glo dit is wat ‘n moeder doen as haar kinders weg van haar is. Ek
wonder oor hoe jy sou gelyk het. Hoe jou stem sou klink. Wat jou beroep sou
wees. Of jy al ‘n pappa met ‘n pragtige vrou en kinders sou wees. Of jou hart
ook warm sou klop vir ons Vader, Sy liefde en genade.
Ek dink dit is
wat hul verlange noem. Steeds glo ek dat ons Vader dit vir my gun om na jou te
verlang. Aan jou te dink, selfs te huil ... tog vier ek graag jou lewe. En sal
ek nie toelaat dat die wêreld my oortuig dat ek jou so ‘n slegte nagedagte moet
vergeet nie.
Jy was dit nie!
Jy was geliefde, ‘n vreugde. Daarom sal ek jou altyd in my hart dra as ‘n
wonderlike werklikheid, waarvan niemand my sal ooit kan ontneem. Weet ek in die
gatjie in my hart waar die hartseer soms uitlek, plaas jy jou kleine vingertjie
en heel my hart tot die volgende keer, wat die verlange weer uitlek.
Die kere tussenin,
gebruik ons Vader hierdie deel van ons lewens saam, om Hom te eer. Om vroue,
net soos ek te bemoedig en te leer, Sy tyd is altyd perfek en Sy liefde
onbeskryflik groot – soos myne vir jou!
(c) Marsofine
Krynauw
So mooi geskryf. Propvol verlange, liefde en die mooi onthou. N stukkie goud wat veraltyd gekoester sal word.
AntwoordVee uit