Dinsdag 30 Mei 2023

 


Middag Vriende, uit ‘n koue Windhoek. Die weervoorspellers was reg, dit was -1 vanoggend en ek probeer nog ontdooi. Steeds is ons dankbaar dat ons warm is. Lyk nie of die mense regtig wil gesels nie, sekerlik die koue, so kom ons gesels oor die gedagte vir die dag.

 Vanoggend is ek by die laaste hoofstuk van Hosea. Die hele Hosea deur het Israel vir God uitgedaag, keer op keer bly sondig. Keer op keer bly gode maak vir hulself. Steeds het God hul keer op keer vergewe. Die laaste hoofstukke het Israel sonde na ‘n ander vlak toe geneem, selfs die profete het bly sondig, vir God bly kwaad maak.

 In Hosea 14 kom rig God weereens ‘n uitnodiging aan Isreal. Lees bietjie hier:

Oproep tot bekering en belofte van vergifnis.

Hosea 14:1SAMARÍA sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word.

2 Bekeer jou, Israel, tot die Here jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.

3Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die Here; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.

4 Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.

5Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.

6Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos 'n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.

7Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van 'n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.

8 Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.

9Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos 'n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.

10 Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die Here is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!

In die voorafgaande, bewys God weereens genade aan Isreal ongeag wat hulle sondes was, kies Hy om hulle te vergewe. Gee Hy hulle sy belofte van troue en voorspoed.

In ons lewens, bedroef ons nie net vir God soms nie, maar ook ‘n vriend of familie lid. Soms besef jy dadelik jou fout en vra om vergifnis. Tog is dit in daardie persoon se hande en hart of hulle jou wil vergewe. Soms kies hulle om jou nie te vergewe nie, ongeag hoe mooi jy vra, hoe jy soebat en smeek.

Wat nou gedoen? Al wat jy kan doen is om voor God om vergifnis te vra, en te weet dat Hy jou dadelik vergewe het omdat jy erken het jy het verkeerd gedoen deur die persoon te na te kom. Verder moet ons dit in God se hande los om daardie persoon se hart sag te maak om te kan vergewe. Om te kan dit agter hulle sit en te weet dat jou bekentenis en jammerte opreg is. Verder kan jy niks doen nie. Net wag totdat God die deurbraak gee en bly bid vir daardie persoon.

Die dinge wat ons hier op aarde aan mekaar doen kan ons glad nie opweeg teen die dinge wat ons aan God se Vaderhart doen nie. Die Drie-enigheid is sondeloos, hoe erg moet die dinge wat ons bly doen nie vir hulle wees nie. Steeds het Jesus daarvoor gesterf, en staan Hy steeds elke dag vir ons in, kies God ons Vader om ons keer op keer te vergewe.

Vandag as jy weet daar is iemand wat jy te na gekom het, doen jou deel, vra om verskoning, maak jou diepe jammerte aan oor wat jy gedoen of gesê het. Daarna bid jy dat God daardie persoon se hart sal oopmaak om jou verskoning te aanvaar.

Ons is die eerste skakel in vergifnis, dit maak nie van jou ‘n slegte mens as jy bereid is om hou foute te erken nie, dit is hoe ons groei en nader aan God begin leef.

©Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...