.jpg)
Goeiemôre uit ‘n baie fris Windhoek. Die weervoorspelling het vir vanoggend -1 voorspel, gelukkig het ons darem nie daar gaan draai nie, maar daar is ‘n sterk byt in die lug. Dit raak nie winter nie, dit is winter en oor twee dae is dit reeds die eerste dag van die sesde maand. Ek hoop almal het ‘n lekker warm naweek voor die stoof, of kaggel of sommer net ‘n lekker vuur gehad.
Gister praat ons Pastoor, Pastoor Roland Engel oor die besluite wat ons as mense maak en hoe dit ons in die sop laat beland. Vanoggend gaan een van die oordenking presies daaroor. Die besluite wat ons maak, soms keer op keer op keer wat ons elke keer op presies dieselfde plek uitbring. Dit is gewoonlik nie ‘n goeie plek nie.
Besluite in ons finansies, in ons verhoudings, in ons liefdeslewe, in wat ook al. Elke keer maak ons dieselfde besluit, die selfde fout, kom ons op die selfde doodloop straat uit waar ons in sak en as sit.
Dan is ons eerste reaksie gewoonlik: ‘hoekom het God my hier uit gebring’. Dit was nie God se besluit vir jou nie, jy het Hom nie eers daarin geken nie. Maar steeds blameer jy Hom.
Ek glo ons het al baie male vir ons kinders of selfs vriende die volgende woorde gesê as hulle verkeerde besluite geneem het wat hul in die moeilikheid laat beland het: ‘dit is tyd dat jy moet grootword’. Klink dit bekend?
As jy oor en oor dieselfde verkeerde besluit maak, byvoorbeeld in die keuse van ‘n lewensmaat, sal dit elke keer op ‘n gemors en dalk egskeiding uitloop. So ook as jy oor en oor die verkeerde besluite oor jou finansies maak. Soms maan die Gees jou dat jy besig is om ‘n verkeerde besluit te maak, maar ons is hardkoppig soos kleinkinders wat net ons sin altyd wil hê.
Nouja – die Woord van ons Vader is getrou en as ons in 1Korinthiers 13:11 gaan lees is dit wat dit vir ons sê:
11Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind; maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê.
Wat nou? Dit is maklik. Ken God in jou besluite. Bespreek dit met Hom, vra Hom om jou deur Sy Gees te lei. Hy wil net die beste vir jou hê.
In soveel plekke in die Woord verseker God ons dat Hy vir ons die beste wil hê. Gaan lees gerus die hele Psalm 84, hier is net so ‘n deeltjie.
Psalm 84:5Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.
6Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
7As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit 'n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.
8Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.
As jy die keuse wat jy moet maak, die besluite wat jy moet neem, voor God lê, sal Hy jou rigting gee. Sal jy soos die Psalmdigter in vers 11 kan getuig:
11Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
12Want die Here God is 'n son en skild; die Here sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.
13 Here van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!
Ons Vader is getrou, nooit te besig nie, Sy Woord staan vas van ewigheid tot ewigheid. As jy weer ‘n besluit moet maak, bespreek dit met Hom, luister na die stem van die Heilige Gees wat jou rigting gee, bid daaroor en vra ander gelowiges om saam met jou te bid. Jy sal verstom staan om te sien dat God se planne vir jou altyd goed is en reg uitwerk.
By die voete van ons Vader, is die beste plek vir ons – daar is die volmaakte liefde, die volmaakte vrede, die regte rigting wysers en volop genade en wysheid.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking