Maandag 15 Mei 2023

Geweef deur my wese


Verlange na jou

het my

na die blou waters

van die oseaan laat soek

miskien sal ek daar

daar waar ons nooit ons spore kon laat

vergetelheid vind

wyl die branders

ritmies oor my voete spoel

miskien sou die meeue se roep

my laat vergeet

van jou liefdeswoorde soet

miskien sou my hart

gesus word deur die

sagte suising van die see

 

die asuur blou water

wink verwelkomend

ek gaan

my blik het oor die blou verdwaal

meteens was dit nie die oseaan

maar jou emosie gevulde

blou oë - wat voor my dans

die son het warm my gesig en arms gesoen

ek het my oë gesluit en daar was jy

 

warm soos die son

het ek jou lippe op myne gevoel

jou liefkosing het warm deur my are gebruis

die seewind het saggies gefluister

my hare laat dans

maar ek het jou stem gehoor

sagte soet liefdeswoorde in my oor

die see sand klam onder my voete

het my aan jou hare laat dink

so nog vars uit die stort

sou ek die waterdruppels van jou

bors af soen

in my vlug weg van verlange

het ek jou daar op die strand gevind

jy was daar in elke asemteug van die

blou water

in die son en see en wind

jy het my toegevou en vasgehou

veilig van die storms om my heen

het ek meteens besef

al vlug ek na die uithoek van die aarde

jy is deur my wese geweef

jou naam op my hartskamer se mure gegraveer

jou lag die musiek van my dans

jy steeds die doel van my bestaan

al vind ek jou nie hier

 

jy is jy hier diep binne my …

meteens klink die klots van die branders

soos Mozart se Klarinetkonsert

streel die sagte klanke my siel

is ek gebroke en tog heel

wat jy is deur my wese gevleg.

© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...