Pappa, ons band van swartkoffie
Vanaand terwyl ek luister na die druppels op my dak, drink ek lekker moer
koffie uit 'n beker met my naam op, swart en effens bitter net soos jy daarvan
gehou het - en ek dink aan jou my Pappa.
Ek dink aan 'n dag - ag en vyftig jaar gelede, toe ek as vierjarige
dogtertjie, daar bo net langs tannie Ellie se kweperlaan voor die woonstel voor
jou staan. Jy met die traan spore nog nat op jou wang, oor ons ma wat jou
verlaat het, aan jou swart koffie teug.
'Wat drink jy, Pappa," het ek nuuskierig gevra.
"Swart koffie, my kind."
"Kan ek ook asseblief koffie kry, Pappa?"
"Hier is nie melk nie ..." het jy huiwerig geantwoord.
"Dit is ok, ek wil swartkoffie drink soos Pappa."
My eerste koppie swartkoffie het ek daardie dag as vierjarige dogtertjie
saam met jou gedrink. Nooit daarna sou ek in my koffie melk drink.
Hoevele koppies swartkoffie het ons daarna saam geniet, op geleenthede baie
meer gelukkig as daardie eerste maal. Swartkoffie het die band geraak wat ons
sou bind - deur die swaar en seer en later deur die vreugde wat ons saamwees
altyd was.
Nooit een dag in my lewe, tot die te vroeë dag van jou dood, het ek jou
ooit iets anders as swartkoffie sien drink. Nie water, koeldrank, drank of tee,
niks anders as swart koffie nie.
Soggens as jy straks na my wakker word, wat net byna nooit gebeur het nie,
was jou eerste versoek altyd - swartkoffie. Saans voor jy gaan rus het na 'n
lang dag in die son op een of ander iemand se huis se dak, was swartkoffie ook
jou slaap drankie.
Jy het my geleer dat dit alles verbeelding is dat mens nie swartkoffie voor
slapenstyd kan drink - want dit sal jou kamma wakker hou. Tot vandag toe nog
sal ek soos jy swartkoffie drink en gaan slaap.
Ons drink al ses en veertig jaar nie meer saam swart koffie nie, maar
weinig sal ek koffie drink soos vanaand en nie aan jou dink nie.
Ek sal nooit in my hele lewe soveel koffie kan drink soos jy, my Pappa. Ek
hou by my koffie in die oggend en miskien nog een iewers in die dag. Maar
verder drink ek tee soos my tannie Ellie, Engelse tee, nie rooibos soos Boetie
Dick nie. 'Dit is mos net vir siek mense' hoor ek jou steeds sê.
Tog op aande soos vanaand, waar die reëntjie rustig uitsak oor my huisie -
ja, een wat ek self laat bou het, net soos ek jou altyd vertel het jy vir my
moet doen - my brein so vinnig die storie vorm dat my vingers skaars op die
sleutelbord kan voorbly, moet ek 'n koppie swartkoffie hê, vir daardie bietjie
ekstra woema. Altyd haastig net soos jy, die dag het te min ure, en die stories
is nog so baie wat ek wil skryf.
Vanaand neem ek 'n verposing, om aan jou te dink, aan ons eerste koppie
swartkoffie saam, toe ek net vier was en drink daarop swartkoffie, uit 'n beker
met my naam op.
Soos swartkoffie is jy deel van my, al verloop 'n honderd jaar. Soos
swartkoffie sal jy altyd my aanmoediging bly, in tye wat ek vinniger en beter
wil doen, soos meesal die geval.
Tog is ek so dankbaar, want my herinnering is byna ouer as die tyd ons met
jou gegun, wat my, jou langbeen, swart vlegsel meisiekind, 'n pensioenaris maak.
'n Voorreg nie vir jou gegun, my liefste Pappa. Tog is ek steeds dankbaar vir
elke swartkoffie-herinnering wat ons saam kon deurmaak.
Met ons Vader se genade sal ek nog baie swartkoffies op jou drink, my
liefste Pappa, op aande wat dit reën, op dae wat die woorde vloei tot diep in
die nanag, op sonskyn dae, op dae wat ek in my tuin loop en my verwonder aan
die Heer se prag - al hierdie dinge deel ek nou met jou in 'n koppie swart
koffie!
(c) Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking