Vrydag 19 Mei 2023

God kan ... geduld en geloof


Hemelvaart is verby en ek was baie verbaas om te hoor dat Duitsland dit as ‘n vakansiedag het, maar nie Suid-Afrika nie. In Windhoek was dit vannag lekker koud. Nuuskierig oor of dit nou werklik winter is, gaan kyk ek toe na die volgende 10 dae se weervoorspelling. Nou kry ek eers koud – dit was vannag onder 5 grade en vir die volgende week is dit soggens tussen 4 – 9. Die troos is dat ons in Namibië bly en dit deur die dag tot so warm soos 28 gaan. Dankbaar om in hierdie land te bly, waar dit selfs in die winter elke dag sonskyn is.
Hier aan die einde van die week, val dit my weer op hoe twee van die pastore waarna ek luister dieselfde boodskap het, maar verskillende skrifte.
Kan God regtig alles doen? Is die vraag wat die Israeliete aan koning Asaf vra in Psalm 78:19 nadat hy hulle vertel het van al God se werke in die verlede.
Psalm 78:19 En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God 'n tafel kan dek in die woestyn?
Die antwoord ken ons almal, want God het manna en kwartels voorsien, elke dag wat hulle deur die woestyn getrek het daarna.
Hulle vra hierdie vraag omdat hulle gewoond was aan die vleispotte van Egipte. Daar was hulle slawe, maar het steeds oorvloed gehad. Wat hulle toe nie waardeer het nie. Nou het God hulle gered van slawerny en steeds kla hulle. Dink hulle net aan hulle self. Trek hulle God se almag in twyfel.
Jy en ek is ondervind dalk nou dinge in ons lewe wat ons nie die uiteinde van weet nie, waaroor ons angstig is. Soos die Israeliete wil ons dit opgelos hê en vra ons dalk ook, kan God dit doen?
In Prediker word ons geleer wat die uiteinde sal wees as ons dit met God se hulp deursien.
Prediker 7:8 Die einde van 'n saak is beter as sy begin; 'n lankmoedige is beter as 'n hoogmoedige.
Daarby maan Paulus ons in 2 Korintiërs 6:3 om nie ongeduldig te raak nie, maar baie geduld aan die dag te lê in die vertrou en geloof dat God dit sal en kan doen as die tyd reg is.
2 Korintiërs 6:3 Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie;
4maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede;
Ons almal weet dat ons in ‘n kits-wêreld leef, ons wil al ons uitdagings dadelik opgelos hê, maar wat sal ons dan daaruit leer? Dit laat my dink aan die gesegde wat die oumense gehad het: ‘Erfgeld is swerfgeld’ – menende iets waarvoor jy nie self gewerk het nie, sal jy maklik verkwansel. Hier is dit ook so, dit is soos om ‘n kind te bederf en altyd sy sin te gee – hy/sy leer nooit om te werk vir iets nie, om deursettingsvermoë te kweek en soveel ander deugde nie.
Weet vanoggend – God kan alles – wil Hy alles? Nee, want Hy weet reeds wat vir sy geliefde kind goed is. Hy weet reeds wat in die toekoms gaan gebeur.
Vra na Sy wil in jou situasie, en weet dat Hy kan en sal as dit vir jou eie beswil is.
Mooi naweek en bly warm.
© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...