Goeiemôre vriende, die oggend is byna verby, maar ons is almal so gelukkig om dit te kon beleef. Ek hoop julle het ‘n wonderlike naweek gehad waar julle voor die houtstoof, knus en warm kon sit en kuier, of selfs speletjies speel. Net kwaliteit tyd met jul familie kon deurbring. Hier by my is dit nie naasteby so koud soos by julle nie, steeds byt die luggie maar in die oggende en aande.
In hierdie nuwe week, vra Pastoor Ryniar Nolan vanoggend die vraag: “Wat het die Here hierdie naweek vir jou gedoen?”Ek hoor almal van julle baie stil raak. By die aanhoor van die vraag is ons gedagtes outomaties – nie eintlik iets nie. Daar het hierdie naweek niks noemenswaardig gebeur nie.
Nie waar nie! Ons is net so bederf – dit is nie wat Pastoor Nolan se mening is nie, maar my eie. Bederf om elke dag wakker te word, gesond te wees, warm koffie te hê en nog beskuit daarby. By ‘n bord gekookte kos aan te sit vir middagete en later vanaand weer lekker te kan eet voor ons in ons warm beddens gaan klim. Dit is nou nadat ons deur ‘n warm stort of bad is en so lekker skoon voel. In daardie bed is daar ‘n lewensmaat, waarvoor ons lief is, en wat ons liefhet vir sommige, en ons ander wat alleen is, is steeds gelukkig.
Jy het dalk die naweek met vriende gebraai, of net saam geëet en lekker gesels. Jy het dalk jou getroude kinders vir die naweek oor gehad en kon jou kleinkinders geniet.
Hierdie is alles seëninge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Dit is alles wat die Here my en jou mee seën, want weet jy hoeveel duisende, selfs miljoene het hierdie naweek nie daardie voorreg gehad nie. Sal dit nooit hê nie.
Lees gerus Psalm 79 waarin koning Asaf met God gesels. Die laaste vers is die een wat ek wil beklemtoon.
PSALMS 79
Die vertrapte volk van God.
1 'n PSALM van Asaf.
o God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak.
2 Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land.
3Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe.
4Ons het vir ons bure 'n smaad geword, 'n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.
5Hoe lank, Here, sal U vir ewig toornig wees, sal u ywer brand soos 'n vuur?
6 Stort u grimmigheid uit oor die heidene wat U nie ken nie, en oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie.
7Want hulle het Jakob verteer en sy woning verwoes.
8 Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie; laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak.
9Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.
10Waarom sou die heidene sê: Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte.
11Laat die gesug van die gevangene voor u aangesig kom; laat die kinders van die dood oorbly na die grootheid van u arm.
12En vergeld ons bure sewevoudig in hulle skoot die smaad waarmee hulle U, o Here, gesmaad het.
13En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag sal ons u lof vertel.
Dit is tyd dat ons ons Voorsiener en ons God begin loof en prys vir die dinge wat ons elke dag ontvang, maar as vanselfsprekende aanvaar. Dat ons ons kinders en kleinkinders leer om God te dank, loof en prys vir
AL ons seëninge – klein en groot. Dat hulle geleer word dat nie net om genees te word van kanker tel as ‘n wonderwerk nie, maar die feit dat jy wakker geword het, kan skool toe gaan, jou Bybel mag lees, drie maal ‘n dag kos het om te eet, elke aand warm water het om te bad, ‘n warm bed het om in te slaap, nie met jou voete hoef skooltoe te loop nie, dit is alles redes om God voor te dank, loof en prys elke dag.
ALLE OORVLOED wat jy en jou familie en vriende geniet is elke dag seëninge uit God se hand. Is wat Hy elke dag sonder ophou vir jou doen.
Kyk bietjie die nuus – iets wat ek nooit of weinig doen – vra jouself af as jy in Oekraine gewoon het, een oomblik was alles normaal en die volgende oomblik is jou huis met alles daarin verwoes, jou voertuig is verwoes, jou dorp of stad is verwoes. Oral is dit net rommel en lyke. Jy vlug met jou gesin om te oorleef. Jy weet nie waar kos ooit weer vandaan sal kom of waar jy vanaand gaan veilig slaap nie, om nie te praat van ‘n warm stort nie.
Miskien sal ons dan die prentjie kry van hoekom ons God moet loof, prys en dank vir dit wat Hy elke dag vir ons doen en dit ook aan ons kinders oordra.
Gaan sit vir vyf minute iewers in hierdie dag, of gesels met jou vrou of man daaroor. Maak tussen julle ‘n lysie van wat God elke dag vir julle doen.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking