#swangerskap#jyiskosbaar#ouerskap#afrikaanseblog#
Goeiemiddag,
‘n Pragtige herfsdag wat vir my uit keuse lekker stadig begin
het. 33 jaar gelede was ek hierdie dag hierdie tyd in kraam met my jongste
seun, David. Ons Vader het hom net vir 4 maande vir my geleen, voordat hy
wiegiedood is. Tog is ek Hom ewig dankbaar vir die 4 maande wat Hy my met David
gegun het. Dit was ‘n wonderlike 4 maande, waarvan ek die herinneringe vir ewig
in my hart sal dra. Dit maak my dankbaar vir my ander twee seuns en stiefdogter
(wat soos my eie is).
God maak nooit foute nie, so jy, jy die kind wat swanger is, die kind wie se ouers nie getroud was nie, jy is nie ‘n ongeluk nie… Jy is ‘n meesterstuk uit God se hand.
Die wêreld se mening is nie God se mening nie. Jy glo dalk vir jare al dat jy ‘n ongeluk was, dat jy die oorsaak was dat jou moeder en vader se lewens opgefoeter is. Dit is ‘n leuen! Jy is kosbaar vir God, was nooit ‘n ongeluk nie, maar Sy wil. Hy ag jou spesiaal, en het jou lief.
Hierdie seuntjie van my wat vandag 33 jaar oud sou wees, het ek mee swanger geraak terwyl ek gelukkig getroud was. My man en ek het wel besluit om nie nog kinders te hê nie, maar steeds het dit gebeur. Toe die dokter my vertel dat ek swanger was, was ek in trane. My eerste gedagte was, ‘wat gaan my man sê’. My vrees was nie ongegrond nie. Hy was woedend, want soos vandag nog – glo mans dat vroue alleen kan swanger raak, dat hulle geen deel daaraan het nie. Selfs sy moeder was woedend vir my, terwyl die waarheid is dat die ginekoloog onder wie se behandeling ek daardie tyd was vir ‘n dis order in my liggaam self aan hom baie duidelik gemaak het wat die reëls was.
Nadat ek oor my man se woede en verwerping gekom het, het ek
begin uitsien na hierdie baba. Hy is gebore, gesonde en volmaak. So gesond en
volmaak was hy steeds 4 maande later die oggend toe ek hom by die dagmoeder
afgelaai het. Net twee ure later sou hy hierdie wêreld verlaat om een van my
Vader so mooiste engele te gaan raak.
Ek sê weer, God maak nooit ‘n fout nie. Al is dit vir die afgelope 33 jaar ‘n hartseer dag vir my, is ek dankbaar vir God. Hy het my gedra, my gebruik om ander te bemoedig en te vertel van Sy liefde en genade vir ons deur my storie te vertel.
Ongehude moeder, ouers van meisies en seuns wat in hierdie situasie is, vra God om jou te laat kyk uit Sy oogpunt daarna, dat julle die seëning van ‘n kind daarin kan sien. Pas die genade wat jy elke dag ontvang van God toe om jou kind te ondersteun, en die pad saam met hulle te loop in liefde soos Jesus van ons verwag.
Die kinders wat vandag grootmense is, wees dankbaar vir ‘n Vader wat nooit foute maak nie, ongeag wat mense jou vertel. Jy is waardig, want God sê self so. Hy is sondeloos, en jy is goed genoeg vir Hom.
Vir die wat oordeel, en skinder en klippe gooi, onthou asseblief wat Jesus vir die massa gesê het toe hulle die vrou wat in owerspel betrap is na Hom gebring het:
Johannes 8: 7- Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi.
Ken jou waarde in Christus, en hou aan Sy woord en beloftes vir jou lewe vas. Hy ken jou reeds van voor jou geboorte af en sal jou nooit los nie.
Luister asseblief mooi na die woorde, mag dit vandag vir baie ‘n omkeer wees oor hoe jy oor jouself en ander in hierdie posisie dink en oordeel.
https://www.youtube.com/watch?v=ttXoXMBfZ8Q
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking