Goeiemôre Vriende,
‘n Stil, koue winters oggend. Vanoggend was ek voeg uit die vere, tog dankbaar vir warm klere en ‘n koppie koffie met beskuit. Nou nie daardie lekker boerbeskuit wat julle eet nie, maar tog.
Vanoggend wil ek gesels oor ons manier van optrede as christene en hoe ons dit behoort te doen.
Ons leef in ‘n wêreld waar jy wanneer jy by die voordeur uitstap te doen kry met dinge wat jou omkrap. Party mense selfs wanneer hulle hul oë oop maak. Dinge is dalk nie reg tussen jou en jou lewensmaat, of jou kinders nie. In die omgewing om jou gee iemand dalk ‘n mening waarmee jy nie saamstem nie, of sê iets van jou waarvan jy nie hou nie. Tussen die jongmense wat nog wild en wakker is, kan manne selfs handgemeen raak soms omdat hulle voel die ander persoon het hulle te na gekom.
Daar is baie dinge wat kan verkeerd gaan as ons nie naby Jesus, en in Sy voetspore loop nie. Almal loop nie daarin nie, maar dit is ons wat daarin probeer loop se plig om die regte keuse te maak hoe om op te tree.
Hoekom? Dit is die storie van die boom wat aan sy vrugte geken word. Hoe jy optree sal vir ander vertel of jy besig is om te probeer in Jesus se spore stap.
As jy wanneer jy kwaad of geïrriteerd is ook vloek en skel en iemand wil moker, reflekteer jy definitief nie Jesus se doen en late nie.
As jy ook kwaadpraat van die persoon wat oor jou kwaadpraat, is jy beslis ook nie besig om soos Jesus op te tree nie.
As jy die persoon wat jou skade berokken ook probeer skade berokken, val jy ook uit die bus.
So sal ek kan aangaan. Is dit maklik? Nee, beslis nie, maar ons hoef dit mos nie alleen te doen nie. Ek plaas hier onder ‘n skakel na ‘n liedjie van Phil Wickham, hy sing dit so mooi. ‘I will do it the Jesus way’ – en dan sit hy dit so mooi uiteen.
https://www.youtube.com/watch?v=4Fhv4arL3yk
Om ons te help, kan ons die dag begin met Jesus. Voor ons by die voordeur uit loop, voor ons die huismense groet wat ons dalk ontstel. Vra Hom om jou te wys, te lei deur Sy Gees. Voor jy ‘n uitspraak maak, tel tot tien, en as jy moet, tot twintig. Woorde dra krag en dit wat jy spreek kom gewoonlik soos ‘n boomerang terug na jouself toe.
Wanneer jy in ‘n situasie kom wat aksie verwag, vir net ‘n stonde, dink gou wat Jesus in jou skoene sou gedoen het.
Ons het vele voorbeelde waar Hy te na gekom was, en hoe Hy opgetree het. Hy was mens, het deur al die versoekings en probleme gegaan waardeur ons gaan, en daarom weet Hy wat ons deurgaan uit persoonlike ondervinding.
Met Jesus se hulp, kom ons kies elke dag die Jesus-manier. Dit is Sy beeld wat ons skade doen as ons dit op ons eie manier aanpak.
© Marsofine Krynauw