Liewe Vriende,
Hoop julle het ‘n wonderlike, rustige, geseënde naweek gehad. Kwaliteit tyd met geliefdes spandeer en in dankbaarheid die groen veld geniet. Natuurlik was daar skade ook deur die reën aangerig, maar ek glo niks wat nie herstel kan woord nie. Laat ons na die positiewe kyk hierdie week.
‘n Jongvrou wat onlangs met ‘n breingewas gediagnoseer is, daarna ‘n operasie gehad het om dit te verwyder en weet binne twee weke nadat sy uitgekom het uit die hospitaal terug moes gaan, is baie op my hart, in my gebede en gedagtes. Hierdie jongvrou het ‘n agtjarige dogtertjie en gelukkig ‘n familie wat baie naby aan ons Vader is.
Want hierdie jongvrou is laas week na toetse deur die dokters huis toe gestuur met die woorde wat niemand van ons wil hoor nie: ‘Ons kan niks meer vir jou doen nie!’ Woorde wat ons nie wil hoor of ons nou pas in ons dertigs is of al oor ons sewentigs nie.
Vanoggend luister ek soos altyd na die drie pastore se oggend oordenkings en daarna neem ek my bybelstudieboek en lees daarin. Net daar lê die antwoord so duidelik in God se Woord. Dit val my dadelik op dat die boodskap van die eerste oordenking, die tweede oordenking en my daaglikse Bybelstudie dieselfde is. Hoe wonderlik is ons Vader nie. Hy gee ons bevestiging as Hy ons ‘n woord gee.
Nog meer wonderlik is dat God vanoggend vir drie verskillende mense wat duisende kilometers van mekaar is, dieselfde boodskap gee, ‘n boodskap van bemoediging vir elkeen wat soos hierdie jongvrou en haar familie ooglopend by ‘n doodloopstraat se einde gekom het, sonder hoop en met baie vrees.
In die eerste vers word ons verseker dat God voor ons uitgaan, dat Hy die hele tyd daar is al lyk die situasie hoe donker, dat Hy ons nie sal verlaat nie. Die mees belangrikste is, Hy vra ons om Hom te vertrou al lyk die situasie hoe donker en om nie ooit bevrees te wees nie. Dink ons werklik dat die God wat die Heelal in ses dae gemaak het nie ons situasie kan verander nie?
Deuteronomium 31:8En dit is die Here wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.
In Jesaja 8:10 kom Jesaja en verseker ons weereens, maak nie saak watter planne die vyand teen ons as God se eiendom smee nie, dit sal verydel word as ons aan God vashou, want Hy is by ons!
Jesaja 8:10Smee maar planne, dit sal verydel word! Pleeg maar oorleg,
daar sal niks van kom nie! God is by ons!
In Psalm 10 is die Psalmdigter moedeloos en vra hoekom die Here so ver is terwyl al die vreeslike dinge met hom gebeur en die goddelose lyk of hulle hul verlekker. Tog besef hy gou dat hy verkeerd was, dat God al die tyd daar was en net gewag het vir hom om dit oor te gee in God se magte hand wat alles KAN.
Psalm 10:14 U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat 'n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was 'n helper van die wees.
Hieruit leer ons vanoggend dat God nie wil hê ons moet vrees nie omdat ons ons vaste vertrou op Hom moet stel. Dat Hy altyd daar is. Dat ons moet ophou om ons eie plannetjies te maak, en as hulle nie uitwerk nie eers na Hom te hardloop en dat ons dit van die begin af in Sy magtige hand moet gee.
Die professors en dokters wat oor hierdie jongvrou was, staar hulle blind teen die mediese feite, maar die Een wat ons Skepper is, het haar brein geskape, en is baie magtiger was enige medici. Daarom sal ons nie bevrees wees nie, al het hulle haar in hopeloosheid huis toe gestuur om te wag vir haar einde.
Die laaste sê is nie die mense s’n nie, maar ons Vader God s’n en ons moet en sal in elke situasie, hoe donker ook al op Hom vertrou en na sy wil vra.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking