Dagsê Vriende,
Die ysbere het hier by ons bietjie gaan rus, en dit is draagbaar. Daarvoor is ek dankbaar, want ai, ai, die koue is maar nie vir my lekker nie. Dit is sowaar al weer naweek, en daar is baie wat beslis baie bly is daaroor, want ‘n week het die manier om soms net te lank te word.
Die laaste tyd het ons baie in ons gemeente, maar ook in ons Bybelstudie groep gekyk na hoe hoor ons God se stem, wat moet ons doen om te sorg dat ons harte rein is en bly.
Vanoggend luister ek weer na oordenkings, en dit val my op dat die tema daarvan dieselfde is. Die besef kom tot my dat dit is omdat ons in die laaste dae leef. Nou moet ek dadelik ook sê, as ons van die laaste dae praat moet ons asseblief onthou dat God se tyd en ons tyd nie dieselfde is nie. Dat as ons van dae praat dink ons aan oor ‘n week, of maand of miskien op die uiterste ‘n jaar. Dit is nie so in God se geval nie. Hoekom nie? Omdat Sy begeerte steeds is dat alle mense gered moet word. Sy liefde vir ons is oneindig. Kyk bietjie na Psalm 117, die kortste Psalm.
PSALMS 117
Loof die Here, alle nasies.
1 LOOF die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!
2Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die Here is tot in ewigheid. Halleluja!
Nou hoe, vra baie van ons nog steeds moet ek God se stem hoor? Die maklike antwoord is, die Woord van God is God se stem. Dit is deur Hom geinspireer as handleiding vir ons sy kinders. Hoe moet ons weer om te leef, hoe moet ons weet met wie om te trou, hoe moet ons weet om met ons geliefdes en vriende om te gaan, hoe moet ons weet om ons kinders op te voed, en nog baie meer – dit liewe vriende is ALLES in hierdie Handleiding wat God vir ons agtergelaat het. As ons maar net dit wil optel en lees en Hom wil leer ken en al sy raad wat Hy daarin gee wil neem.
In Deuteronomium 28 word ons geleer wat om te doen as ons God se seën wil ontvang. En baie sal nou vir my vertel maar dit is moeilik. Nee, dit is nie. Wat as jy iemand liefhet en respekteer wil jy mos daardie persoon behaag. Wil jy mos alles doen wat vir daardie persoon belangrik is en hul gelukkig maak. Hoekom sal jy dit nie wil doen vir die Een wat jou geskape het, wat die hare op jou hoof getel het, wat jou liefhet, wat jou dra, wat jou guns gee, wat jou elke liewe dag van jou lewe wakker maak, nie.
Hoe meer tyd jy met jou vrou of man deurbring hoe beter leer jy hulle ken. Dit is presies dieselfde met God, hoe meer jy Sy woord lees, en Hom daardeur leer ken, sy hart daardeur leer ken, hoe beter sal jy sy hart leer ken.
Egpare ken mekaar later so goed dat hulle soms niks hoef te sê nie, en die ander een sal deur na hulle te kyk reeds weet wat hulle dink of wil gedoen hê. Hoekom kan ons nie ons Vader ook so leer ken nie, dat ons net sal weet presies wat hy van ons verwag nie.
Verstaan ons werklik wat ‘n oneindige voorreg dit is om ‘n kind van die Allerhoogste, Magtige, Sowereine God te wees. Verstaan ons regtig Sy Almag, Liefde en Genade vir ons en dat as ons nie ophou om te sondig en nie vergifnis vra, dit Sy hart breek nie.
Lees bietjie hier die duidelike instruksies, en dit kom ook in die Nuwe Testament op ‘n hele paar plekke voor.
DEUTERONOMIUM 28
Seëninge en strawwe
1“As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.
2“As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.
3“Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.
4“Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.
5“Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.
6“Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.
7“Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.
8“Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.
9“As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met 'n eed aan jou beloof het.
10“Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal bang wees vir jou. 11Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met 'n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee. 12Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.
As jy verder in hierdie hoofstuk sou lees, sal jy sien dat God sonde haat, en nie ongestraf sal laat bly nie. Hy het ons reeds genade gegee deur Jesus, maar as ons sondig moet ons vergifnis vra, so ons kan nie net links en regs sondig en glo dit is reg nie.
Daar is net een oplossing, en die is ook in die woord opgeteken in Psalm 119.
PSALMS 119:9 AFR53
Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
Hierdie glo ek is ‘n vers wat ons almal al van kindsbeen af ken.
Hoe hoor jy God se stem? Deur Sy Woord te lees, deur daardie stemmetjie wat vir jou vertel jy moet nie so of sus doen nie. Deur ‘n vriend of vriendin wat jou bel uit die bloute en iets sê wat jy al lank ‘n antwoord voor soek maar nog met niemand bespreek het nie. En daar is die antwoord voor jou.
Ons dien ‘n wonderlike, almagtige, genadige, regverdige, en liefdevolle God. Luister na daardie stemmetjie en lees Sy woord om Hom so goed te leer ken as wat jy jou anderhelfte ken.
Mooi loop.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking