Goeiemôre vriende,
Die windjie wil ons maar nie los nie, gelukkig kan ek deur my venster daarna kyk en nie hoef nie die koue vingers daarvan te trotseer nie.
Vanoggend lees ek Psalm 51 – die psalm wat Dawid geskryf het om voor God boete te doen vir sy sonde om met Bátseba owerspel te pleeg. Ek plaas die hele psalm hier, want ek wil hê ons moet kyk na hoe hy voor God gepleit en aanhoudend sy sonde bely en gesmeek het dat God nie die Heilige Gees van hom moet wegneem nie.
Dan dink ek aan my eie lewe, want ek kan net van my eie lewe getuig – wanneer ek gesondig het of steeds sondig, is dit hoe ek voor God boete doen? Of vergeet ek net daarvan en hoop God vergeet ook daarvan. Of rammel ek net so vinnig af ‘Vader vergewe my’. Dit is nie meer die geval nie, maar vir baie lank was dit hoe ek dit gedoen het. Is dit net ek?
Ek glo nie ek is alleen in hierdie oortreding nie. Dit is altyd so maklik om te sondig, om ons te laat intrek in die dinge van die wêreld, maar glad nie so maklik om ons foute voor God te erken en bely en boete te doen nie. Miskien is dit omdat ons steeds in ons dwaasheid glo dat as niemand daarvan weet nie, is dit mos reg. Vergeet ons steeds dat God daarvan geweet het toe jy nog besig was om dit te doen. En dat Hy sonde haat – enige sonde! Of dit nou soos in Dawid se geval owerspel is, of dit nou vuiltaal is, of dit nou skinder is, of dit nou moord is, of bedrog – sonde my liewe vriende is sonde. Ons Vader verdra nie sonde nie, punt en amen.
Lees bietjie hoe ‘n ernstige saak is dit om voor God boete te doen as jy sondig – en glo my ons sondig elke dag of dit nou bewustelik of onbewustelik is.
PSALMS 51
'n Boetelied van Dawid.
1VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid,
2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
13Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
15Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.
Is dit nie tyd dat ons tyd maak om voor God boete te doen vir ons sonde nie? Te gaan sit in jou bakkie daar in die veld waar niemand jou hoor of sien nie, in die veld in te loop daar waar dit net God en jy is, of een of ander plek te vind waar niemand jou sal steur nie, en net dit wat jy weet jy gesondig het voor God neer te lê en Hom te smeek vir Sy vergifnis nie. Hy belowe telkens in sy woord dat as ons ons sondes bely Hy genadig sal wees om ons te vergewe.
Die teendeel is ook waar, as ons nie ons sondes wil erken nie, nie dit voor God wil bely nie, sweer dit in ons binneste en ons raak nooit gesond nie, daar is altyd ‘n blokkasie tussen God en ons. Hy kan ons tog nie vergewe waarvoor ons nie vergifnis gevra het nie.
Jok kan ons in elke geval nie vir Hom nie, hoekom sal ons nie van Sy uitnodiging gebruik maak om by Hom te sit en ons harte leeg te maak van al die dinge wat onrein is en tussen Hom en ons staan nie. Ons almal weet hoe lekker ons voel as ons verkeerd opgetree het teen ‘n geliefde en grootmoedig genoeg was om vergifnis te vra en te ontvang. Hoe goed gaan ons nie voel as ons ontslae raak van al die dinge wat tussen ons en God staan nie?
Hou op jouself mislei dat jy nie sonde het nie, bely jou sonde voor jou Vader wat jou nie oordeel nie en vra vir sy vergifnis en genade om dit nie weer te doen nie.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking