Dinsdag 04 Julie 2023

Manipulasie en gyselaarskap ...



Goeiemôre Vriende

Die koue het darem so bietjie gelig hier by ons, 3 is darem baie beter as -6. Ook net vir ‘n tydjie want teen Sondag oggend slaan dit weer toe en begin met 1 en daarna sommer -3. Vir die paar dae sal ons die bietjie warmer weer geniet.
Vanoggend kom praat ons oor iets wat so baie van ons ken, onder gebuk gaan of selfs doen aan ander.
Wat is dit? Manipulasie en gyselaarskap.
Hoe nou? Kom ons kyk na die volgende scenario dat sal julle dit baie maklik verstaan. Voor ek begin wil ek net noem, dit is nie geslagsgebonde nie, en hierdie is net ‘n voorbeeld omdat ek weet dit gebeur baie.
Die man mishandel sy vrou fisies! Oor en oor en oor. Na ‘n baie, baie, baie lang ruk besluit sy dat sy dit nie meer kan hanteer nie, nie meer daardeur wil gaan nie. Sy vertel hom dat sy hom gaan los. Sy antwoord: ‘As jy my los gaan ek selfmoord pleeg’. Hy hou haar gevange in haar hopelose situasie en manipuleer haar om sy sin te kry. Kortom begin hy haar net weer mishandel.
Nog so ‘n scenario – jou kind is verslaaf aan dwelms. Oor en oor laat hy jou hom jammer kry om hom finansieel te help om sy dwelms aan te skaf. Presies dieselfde. Dan een dag sit jy jou voet neer, want jy het net nie meer nie. Presies soos die vorige geval: Dan gaan ek selfmoord pleeg, want hoe moet ek aangaan. Jy bly die gevangene van hierdie situasie.
Mense wat op die straat na jou toe kom: ‘Ai, mevrou/meneer my kinders is honger, my man het nie werk nie, ek moet vir almal sorg. Die persoon speel op jou gevoel. Jy gee, en gee weer, en gee weer. Die persoon hou jou emosioneel gevange, want van hierdie mense maak dit hulle werk om te bedel en jy gee uit dit wat jy nie het nie.
Om dit te illustreer, kom ek deel met julle wat minder as ‘n jaar gelede met my gebeur het. Ek kom met my kleindogter van die tandarts. Ek het pas in my voertuig geklim toe ‘n man heel uitasem na my aankom. In sy hand het hy note en maar vertel my heel uitasem en in paniek dat sy vader ‘n asma aanval gehad het, en hy sy kaarte by die huis vergeet het. As hy nie vinnig genoeg nog R300 kry om die pompie te koop wat sy pa nodig het nie gaan sy pa sterf. Ek het nie kontant by my nie, maar ry oor die straat na die ATM en trek van die geld wat ek reeds nie het nie die bedrag en gee dit vir hom. Hy skryf my sel nommer op ‘n papiertjie neer met die belofte hy gaan die geld vir my terug gee. My laaste woorde aan hom is: “As jy vandag vir my gejok het, kan jy seker wees dat God dit gesien het, en daar groot moeilikheid vir jou wag.” Want sien die Heilige Gees het toe reeds met my begin gesels en my vertel die man jok. Dit was ongelukkig te laat, want ek het nie van die begin af geluister nie.
Ek stap daarna by die haarsalon in, deel die ondervinding met my haarkapster. Dadelik bevestig sy dat die man al vele mense uit R300 bedrieg het met sy storie.
Wat sê die Woord van God hieroor:
Jeremia 17: 5So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.
6En hy sal wees soos 'n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, 'n brakkerige en onbewoonde land.
7 Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is.
8Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.

Die persoon wat jou gevange hou en manipuleer vertrou op mense. Jy as Christen mens moet onderskeidingsgees hê en daardie persoon nie toelaat om jou gevange te hou nie, omdat jy self op God alleen vertrou vir jou voorsiening, vir jou uitkoms.
Moenie toelaat dat iemand jou of emosioneel of finansieel gevange hou en manipuleer nie, dit is nie in God se wil nie. Soos wat jy op God vertrou vir jou voorsiening in alles, so moet daardie persoon op God vertrou en nie mense misbruik nie.
© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...