Vrydag 21 Julie 2023

God se liefde is onverganklik


Dagsê vriende,

Ek hoor berigte van vreeslike koue in SA, maar hier by ons is dit heel draaglik en ek is dankbaar daarvoor. Hierdie is dalk my laaste oggend groet op ‘n gereelde basis, want ek gaan mos van Maandag af in Kanada rondloop vir ‘n hele maand. Ek sal julle beslis nie vergeet nie, maar ek mag dalk net nie elke oggend die tyd kry om in te loer nie. Ek sal wel van tyd tot tyd inloer en as ek foto’s geneem het dit vir julle opsit om te sien waar ek rondloop. Steeds weet ek dat hierdie wonderlike reis net deur ons God moontlik gemaak is en dat Hy saam met my gaan van die oomblik wat ek in Windhoek opklim totdat ek 34 ure later in Kanada sal afklim. Glo my dit is bietjie verder as Kaap toe of Namibië toe. Ek weet ook dat elkeen van julle se gebede saam met my gaan, dankie daarvoor.
Vanoggend praat ons oor ons Heer se genade en liefde wat oneindig is. Ek kuier nog in die Psalms rond, in die hele woord is ons Vader se genade vir ons opgeteken, maar in die Psalms is dit so tasbaar, so wonderlik vasgevang.
PSALMS 103
Loof die Here, die genadige en barmhartige God!
1 'n PSALM van Dawid.
Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
2Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
3Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
4wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,

5wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.
6Die Here doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.
7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.
8 Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.
10Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
11Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
12So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
13 Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.
14Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
15Die mens — soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy.
16As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
17Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,
18vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.

19Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.
20Loof die Here, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!
21Loof die Here, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!
22 Loof die Here, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die Here, o my siel!
Hoe onmeetbaar is Sy genade en liefde nie vir ons nie? So min as wat ons die omvang van die heelal met alles wat elke dag daarin gebeur kan peil, so min sal ons ooit ons God se liefde vir ons kan peil of Sy Almag kan peil.
Tog is die die Vader wat ons elke dag behandel asof Hy ons iets skuld. Gaan sit en dink bietjie hoeveel mense daar op die aarde is, dat God elke sekonde van elke dag presies weet wat in elkeen se hart aangaan. Dan dink jy verder watter wonderlike prosesse elke dag in die natuur plaas vind, dit is Sy werk alleen – die saadjie wat ontkiem, die boom wat bod, die vruggie wat begin ontwikkel, die diere wat bevrug is en lewe wat begin ontstaan, die ys in Antarktika, die diere wat daar oorleef, so sal ek vir dae en weke kan aangaan – dit is hoe Magtig ons God is. Wie is ons dat ons Hom so sleg kan behandel? Hom nie die respek en lofprysing en aanbidding gee wat Hom deur en deur en deur toekom nie.
Hierdie Psalm is vol van Sy beloftes, vol van Sy liefde. Lees dit ‘n paar keer en dink oor wie jy vir God is en wie God vir jou is. Die skaal hel heel oor na God se kant toe, want ons verbeel ons ons kan met die Magtige Skepper van hemel en aarde maak soos ons wil.
N E E! Is dit nie tyd dat ons Sy oneindige, onverganklike liefde moet begin beantwoord nie my vriende? Is dit nie tyd dat ons moet ophou om net bakhand te staan vir voorsiening, vir gesondheid, vir guns, vir geluk, vir vrede vir elke moontlike ding, en daarna nog steeds die wêreld te gaan plesier nie?
Ten spyte van ons ontrou is die belofte steeds daar: 17Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees …
Gun Hy ons steeds ‘n kans om dit reg te stel en Hom die fokus van ons lewens te maak in alles wat ons doen, is en besluit.
Mooi loop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...