Maandag 17 Julie 2023

Wat is jou verskoning?


 Vriende, die koue het darem so bietjie skiet gegee en ons het ‘n heerlike sonskyn naweek in Windhoek gehad. Julie is al weer oor sy helfte en besig om vinnig uit te loop. Ek kla nie, want dit beteken die mooiste, mooiste seisoen is op pad, Lente.

Vanoggend lees ek Psalm 84 en dit is so verfrissend en bemoedigend. In hierdie tyd in die wêreld gaan mense al hoe minder kerk toe. Dit is wel so dat kerk nie ‘n gebou is nie, maar dat ons as die kinders van God sy kerk is, tog gee Hy ons in sy woord opdrag om bymekaar te kom, saam te aanbid, saam sy naam groot te maak, saam te luister na sy word.

Ek het net dankbaarheid in my hart vir die gemeenskap van gelowiges waarby ek ingeskakel is. Daar is nie meer by my ‘n vraag: Moet ek vanoggend kerk toe gaan? Daar is net ‘n antwoord: Ek gaan graag elke Sondag kerk toe.

Hoekom?

Omdat dit is waar ek met medegelowiges kan saam die Vader prys en loof deur sang. Omdat dit is waar ek die woord kan hoor wat die Gees op die pastoor se hart gelê het. Kan sien waar ek kan verbeter of ‘n woord kry wat ek aan ander weer kan uitdra om hulle te bemoedig. Omdat dit is waar ek veilig en tuis voel.

Ek hoor ‘n klomp mense brom. Ek verstaan jou gebrom, ek was ook eens in ‘n gemeente waar ek nie tuis gevoel het nie. Wie se skuld was dit? Myne!

Brom jy nou nog harder? Wel, sien, wanneer ons kerk toe gaan om die dominee of pastoor of mense te plesier, sal dit so wees dat daar grenslose dinge is wat ons irriteer in die kerk.

‘Jy weet so en so sit voor in die kerk, maar die ou vrek slaan sy vrou en bly dronk in die week. Dit is hoekom ek nie kerk toe gaan nie!’

Ek het vir jou slegte nuus – ons Vader gaan hom nie aan jou pleidooi steur nie, want jou motief is verkeerd. Die dag wat ek begin kerk toe gaan het omdat ek nog tyd met God wil spandeer, omdat ek die Heilige Gees nog meer wil ervaar, omdat ek my Vader wil prys met my lofliedere, het die irritasies opgehou. Ek is nie daar vir die pastoor of die mense nie. Ek is daar vir God. En nee as jy alleen by jou huis sit sal jy nie die Vader so voluit kan prys met jou lofsange soos as jy saam met ander dit doen nie. Die woord praat van ons lofliedere wat vir God ‘n lieflike geur is.

PSALMS 84

Hoe lief het ek u woning, Here

1Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!

3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;

met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.

4Selfs 'n mossie het 'n nes

en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies

daar by u altare, Here, Almagtige,

my Koning en my God!

5Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is:

hulle hou nie op om U te prys nie.

Sela

6Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind

en graag na u tempel toe gaan.

7Vir hulle gaan daar fonteine oop

wanneer hulle deur 'n dorre laagte trek

en die vroeë reëns sy seëninge bring.

8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag

totdat hulle voor God in Sion verskyn.

9Here, almagtige God, hoor my gebed,

luister tog, God van Jakob!

Sela

10Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God;

hou u gesalfde onder u sorg.

11Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.

Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God

as om te woon in huise sonder God.


12Die Here God is ons krag en ons beskerming,

die Here gee genade en eer,

Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.

13Here, Almagtige,

dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!


Wat ‘n pragtige psalm is dit nie. Duidelik dat ons nie net alleen kan aanbid nie, maar saam met ander God moet loof en prys. Dit is vir my so besonder mooi as die psalmdigter in vers 11 sê: 11Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.

Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God

as om te woon in huise sonder God.

Dit is ‘n vers waarmee ek groot geword het, my tante het dit baie aangehaal. Vandag verstaan ek dit, voel ek ook so daaroor. Wanneer ons ophou om dinge te doen omdat dit mense behaag en ons fokus op God plaas, verander alles. Weereens hoef ons dit nie in ons eie krag te doen nie, ons vra Hom vir hulp, ons vra Hom om daardie brandende begeerte in ons hart te lê. Om ons oë blind te maak vir die ander mense in die kerk se foute en motiewe en doen en later, want my vriende eendag gaan ons nie voor ons Vader kan staan en Hom vertel wat ander verkeerd gedoen het wat ons verhinder het om reg te doen nie. Ons gaan net vir onsself moet verantwoording doen.

My oorlede skoonma het altyd vir my kindertjies toe hulle nog klein was en as een van hulle aan die etenstafel gekla het oor die ander se doen en later geantwoord: ‘My liefie, kyk net na jouself, moet jou nie bekommer oor wat ander verkeerd doen nie, dit is hulle probleem.’

Vandag wil ek julle bemoedig, as jy toe laat dat ander se doen en late jou weg hou uit die samekoms waar God se woord verkondig word, verander jou uitkyk, en fokus jy op God. Daardie persoon/persone sal self eendag moet verantwoording doen vir wat ook al.

Mooi loop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...