Dagsê vriende,
Die dag het weereens met ‘n helder sonskyn glimlag gebreek in Windhoek. Die windjie wil ook graag buite speel in die sonnetjie, en roer die blaartjies bietjie. Wat ‘n voorreg om dit te kan sien.
Kom ons gesels bietjie vanoggend oor hoekom jy sê jy God lief het.
Elkeen van ons sal ‘n ander lysie kan neerskryf of opnoem hoekom ons God ons Vader lief het. Die een sal noem dat God nog altyd voorsien het, die ander sal noem dat God hom of haar nog altyd deur moeilike tye gedra het, die ander sal dalk noem dat God hom of haar uit ‘n verslawing gered het.
Tog is dit glad nie die wortel van ons liefde vir ons Vader nie. In 1 Johannes 4 word dit so mooi uiteengesit.
1 Johannes 4: God is liefde. Om God lief te hê en die broeders lief te hê.
7GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.
9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
10Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.
12 Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.
13Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.
14En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.
15 Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God.
16En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
17Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
18Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.
20 As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
21En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.
Eintlik is dit baie, baie eenvouding en bo menslik wonderlik. Die Almagtige Skepper van die heelal, die Een wat was, is en altyd sal wees het voor die begin van tyd gekies om jou en my lief te hê. Hy het nie net dit gekies nie, Hy het dit aan ons bewys deur Jesus, ons Verlosser en Sy geliefde Seun aan die kruis te laat sterf vir ons sondes, omdat Hy nie wil hê ons moet sterf nie.
Sit vir ‘n paar oomblikke stil en dink hieroor …
Is dit dan nie rede om ons Vader te loof en te prys elke dag heel dag nie? Kyk na die Psalmdigter in Psalm 100.
PSALMS 100
'n Oproep om God te prys.
1 'n PSALM. By die lofoffer.
Juig voor die Here, o ganse aarde!
2Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.
3Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.
4Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
5Want die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.
So baie meet ons hoe lief ons ons Vader het aan ons omstandighede. As dit nie goed gaan nie, as ons nie kry waarvoor ons vra nie, dan het ons Hom minder lief. Is dit nie baie soos ‘n bedorwe kind nie? As hy of sy nie hul sin kry nie, dan kry hulle stilstuipe, sit net in hul kamers en sulk. God se liefde vir ons is nie so nie, Hy het ons liefgehad voor ons besluit het om Jesus se offer aan te neem, en het ons steeds innig lief.
Vandag en elke dag neem net ‘n paar minute om te dink aan hoe lief God vir jou is en hoe ‘n groot wonder dit is. Deel dan hierdie liefde wat jy so onvoorwaardelik ontvang uit aan jou geliefdes, vriende en medemense.
En onthou: 5Want die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.
Mooi loop.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking