Donderdag 20 Julie 2023

Hoe doen jy in moeilike tye?



Goeiemôre vriende,

Hier is dit ‘n stil, koel oggend – heel draaglik vir ‘n wintersoggend. Ek kla glad nie, ek hou van somer. Hoe gelukkig is ek nie dat ek komende Maandag op pad is na ‘n deel in die wêreld waar dit nou somer is, Kanada. Ek het uiteindelik my visa gekry en is op pad vir ‘n hele maand. Ek belowe ek sal julle nie vergeet nie, ek sal so nou en dan inloer. Julle moet my mos ook bietjie verlang, of hoe?
Vanoggend luister ek na Pastoor Rynier Nolan wat steeds besig is met Psalm 119.
Vanoggend is die vraag: Hoe vaar jy in moeilike tye, of soos die Woord dit noem verdrukking?
Is jy ongelukkig en bevraagteken jy God se liefde vir jou en sy goedheid en genade? Mor en kla jy die hele tyd?
Of bly jy positief en naby God. Staan jy vas op Sy beloftes dat Hy jou nie alleen sal laat nie. Dat Hy op die regte tyd uitkoms sal gee van die siekte, van die droogte, van die finansies wat vreeslik knyp, van wat ook al wat jou verdrukking mag wees.
Dawid het ‘n heel ander uitkyk op verdrukking gehad en ons weet reeds dat hy sy goeie deel en meer as enigeen van ons daarvan gehad het. Sy uitdagings was doodsgevaar meer as een maal. Tog kom hy in Psalm 119 vers 72 en sê die volgende:
Psalm 119:71 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
Lig jy jou wenkbrou? Dink jy hy is van lotjie getik? Wie sal nou bly wees oor verdrukking en beproewing? Of weet jy dat God in Sy woord ons vertel dat alles nie net maanskyn en rose in ons lewens sal wees as ons Hom gekies het nie.
Die vyande is ‘n baie listige kalant, ook is ons eie keuses soms ons grootste vyand. Daarom sal ons vind dat God soms die verdrukking oplos deur gesond te maak, deur uitkoms te gee. En soms dra hy jou net daardeur om jou te laat groei, om jou iets daaruit te laat leer, dat Sy naam verheerlik kan word.
Ons leer niks as die met ons goed gaan nie, ons is soms so verwaand om ons self aan te matig dat ons dit verdien. Wanneer dit moeilik gaan, ja dan leer ons.
Paulus het dieselfde uitkyk gehad.
ROMEINE 5:3-4 AFR53
En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop.

Almal van ons is deur ons ouers of groot ouers gemaan oor dinge wat ons nie moet doen nie, want dit sal ons in die moeilikheid bring. Selfs ons het ons kinders gemaan teen sulke ding. Tog het ons en so ook ons kinders steeds van daardie dinge gedoen en ons het ons vingers verbrand. Want niemand leer uit iemand anders se foute nie, ons wil self.
Dit is hoekom dit so belangrik is dat wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan jy naby God sal bly en Hom sal vra wat die les is wat jy uit jou omstandighede moet leer. As jy die les een maal geleer het, sal jy nie self weer daardie fout begaan nie.
In Matriek het ek wat ons geken het as ‘n Autograph boeke skool toe geneem vir my maats om elkeen ‘n boodskappie of versie daarin te skryf wat ek kon saam neem deur die lewe. Een van daardie versies wat een van my skool maats geskryf het lui so:
Don’t let your troubles
Be stumbeling blocks
Let them be your
Stepping stones.

Dit is vir my so in die kol met wat Dawid en Paulus ons wil leer vandag.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...