Dinsdag 18 Julie 2023

Die lewende Woord vol beloftes


Goeiemôre vriende,

Lekker wintersoggend in Windhoek, nog wind-stil, nie te koud nie, en alles is wel. Ek is in die wolke want ek het gister gehoor my visa vir Kanada is klaar – dit binne ‘n dag en ‘n half. As dit nie God se guns is nie, is daar geen ander verklaring voor nie. Ons Vader is goed, altyd, altyd!

Ons Vader werk altyd met wonderlike maniere. Albei die pastore waarna ek luister se boodskappe is vanoggend oor die belangrike rol wat die Woord in ons lewens behoort te speel. Ek slaan my daaglikse Bybelstudie oop en dit is die wonderlike bemoedigende Psalm 91 wat ons almal sekerlik ken. Net gisteraand voor ek aan die slaap raak onthou ek die vers in die Bybel wat ons herinner dat ons ons nie moet bekommer nie, omdat ons nie een el by ons lengte kan voeg daardeur nie, maar ons moet aan ons Vader oorgee en Hom ten volle vertrou.

Dus vanoggend gesels ons oor die Woord se plek in ons lewens en hoe God ons belowe in sy Woord dat Hy ons nooit sal los as ons sy kinders is nie.

Kom ons kyk na Psalm 119:9-12

Psalm 119:9

9Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.

10Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.

11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

12Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge!

Dit is ‘n ernstige saak, die psalmdigter noem dat hy die woord van God in sy hart gebêre het. Ons het allerhande verskoning om dit net te lees. En die een dat jy nie die Bybel verstaan nie, is nie geldig nie, want dit beteken net dat jy jou nie laat lei deur die Heilige Gees nie. Dat jy nie tyd maak om dit oor en oor te lees en die boodskap daarin te sien nie.

God se woord is so kragtig dat toe Moses gedurende die trek uit Egipte met God in die tabernakel gaan praat het, die stem tussen die twee engele (gerubs) op die versoendeksel gekom het. Hierdie engele was in aanbidding oor God se stem. Ons moet respek hê vir God se woord! Tog redeneer so baie mense deesdae of dit die waarheid is, of dit nog van toepassing is en vele ander nonsens. Wie is ons? Het ons werklik so verwaand en so selfgesentreerd geword dat ons glo ons is bo God?

Lees gerus hier onder Numeri 7:89:

Numeri 7: 89 Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

Wanneer wil ons soos die psalmdigter God se woord begin lees, en lees en lees en Sy beloftes, sy teregwysing, sy liefde en sy genade in ons harte bêre.

Nou kom ek by Psalm 91. ‘n Kosbare stuk woord waarin God se beloftes vir ons so ryk en mildelik is.

PSALMS 91

In die beskerming van die Allerhoogste.

1HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.

2Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.

3Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.

4Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.

5Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,

6vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!

7Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.

8Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.

9Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.

10Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;

11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

12Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.

13Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.

14Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.

15Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

16 Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.


Waar is die skuilplek van die Almagtige? Dit is in Sy woord, waar jy sy hart lees, sy karakter leer ken en nie anders kan as om te streef daarna om Hom te behaag vir sy wonderlike liefde, genade en voorsiening nie.

Habakuk 3: 16Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons 'n aanval maak.

17Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie —

18nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.

19Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.


As ons in God se woord bly, dit lees, Sy beloftes elke dag hoor, sal dit maklik wees om soos Habakuk te kan sê.

In Matteus 6 kom verseker God ons weereens dat ons ons nie moet kwel nie, en dit is hier waar ek toe die vers wat ek gisteraand so in die donker by myself aangehaal het sonder om te weet waar in die woord dit staan, vind.

Matteus 6: 25 Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?

26Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

27Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?

28En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie;

29en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.

30As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?

31Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

32Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

34Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.


Die sleutel om die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan oop te sluit lê in ons hande, in Sy woord. Ons sit met die sleutel, en gooi dit elke dag rond van die een plek na die ander, maar ons gebruik dit nie, respekteer dit nie, lewe dit nie.

Wie van ons wil nie vrede hê nie? Wie van ons wil nie gemoedsrus hê oor die toekoms nie?

Ek glo die antwoord is almal van ons. Neem jou Bybel – die lewende woord van God- vandag nog en vir altyd. Neem Sy beloftes, want hulle is ook vir jou en my, vertrou Hom onvoorwaardelik. Hoe anders sal dit kan wees as dat jy Sy vrede ervaar.


Vrede vir julle vandag en elke dag.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...