Woensdag 05 Julie 2023

God, ons hoogste goed!

Goeiemôre Vriende,

Die dae en nagte was die afgelope tyd bietjie warmer, maar vanoggend roer daar so ‘n baba windjie aan die blare en as ek na die weervoorspelling kyk lyk dit of dit die voorloper van die oupa is wat op pad is na die naweek se kant toe. Dan gaan ons weer lekker bibber. My oorlede skoonma het egter die volgende gesê: My kind as jy koud kry terwyl jy nog klere in jou kas het, is dit net jou eie skuld.’ Hoe waar is die nie, en hoe gelukkig is ons almal nie om klere in ons kas te hê nie.
Dit bring my by vanoggend se gedagte – my vraag vandag aan ons almal is: kan ons soos Dawid sê ‘God is my hoogste goed.
Hy moet ons hoogste goed wees, want Hy is die een wat jou wakker maak in die oggend.
Hy is die Een wat jou beskerm;
Hy is die Een by wie jy skuil;
Hy is die Een wat voorsien in elke behoefte;
Hy is die Een wat jou gesond hou;
Hy is die Een wat jou uit die krisesse in jou lewe help;
Hy is die Een wat jou deur en deur ken, en steeds sy Seun laat sterf het dat jy kan lewe.
Dawid verklaar selfs dat God vir hom sy lewenspad sal bekend maak. Net so maak God steeds vir ons ons lewenspad bekend deur sy Gees as ons vra en naby hom bly soos Dawid gekies het om te doen. Dawid verklaar dat ander gode vir hom geen aantreklikheid het nie. Ek hoor jou brom dat jy ook nie ander gode aanbid nie – wel kom ons kyk bietjie daarna.
Spandeer jy meer tyd met jou vriende of familie as met God?
Spandeer jy meer tyd voor die televisie as met jou Bybel?
Spandeer jy meer tyd aan al die belangrike vergaderings wat jy moet bywoon as aan God?
Spandeer jy meer tyd om jou huis te verfraai dat almal kan sien jy is iemand van aansien as met God?

PSALMS 16
God die hoogste goed.
1 'n GEDIG van Dawid.
Bewaar my, o God, want by U skuil ek.
2Ek het tot die Here gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.
3 Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.
4Die smarte van hulle wat 'n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees; ek sal hulle drankoffers van bloed nie uitgiet en hulle name op my lippe nie neem nie.
5Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot.
6Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.
8 Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.
9Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon;
10want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.
11U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.

As die antwoord op van hierdie vrae ja is, dan is ons in die moeilikheid.
Dit is wonderlik hoe ons in die middel van die nag sal opstaan as ons met vakansie gaan om vroeg op die pad te kom. Of hoe ons laat sal wakker bly as ons met familie of vriende kuier. Tog het ons nooit genoeg tyd om met ons Vader te spandeer wat ons hoogste goed moet wees nie.
Tydens my loopbaan as meesal ‘n persoonlike assistent vir een of ander direkteur, of politikus, het ek altyd vir my base gesê: “Meneer, as ons die belangrike dinge eerste doen, sal daar altyd genoeg tyd wees vir die res.” Een van hulle wat ‘n groot man in politikus was het my die slawedrywer gedoop, en tog kon die minister wat bo hom was hom nooit aankla dat belangrike werk nie na omgesien is nie. Ons het nooit gestry nie, ons het wonderlik oor die weg gekom, want sien die spanning verdwyn as jy sorg dat die basis reg is.
Ons fondasie sal stewig staan as ons dit bou op die Hoeksteen, wat Jesus is. Ons gebou sal op reis en sterk staan as ons dit bou met die regte stene wat ons net in God Drie-enig vind. Want Hy is die rede vir wat ons is, en wat ons het is ook alles Syne.
Kom ons maak die lewe vir ons self baie makliker, nie sonder struikelblokke nie, maar met die seker wete, ons sal nie val nie, ons hand is veilig in Syne. Dan sal ons ook soos Dawid kan verklaar: 6Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
Want sien ons meetsnoere is nie in wêreld se goed nie, maar in ons God.
© Marsofine Krynauw




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...