Goeiemôre Vriende,
Hier in Windhoek loop die ysbere weer van laas week se einde
af rond en was dit gisteroggend en vanoggend -6 grade. Tog is ons dankbaar dat
ons warm huise het om te skuil. Ek hoop julle het ons boodskap uit die Woord
gemis.
Vanoggend kan ons net weer die Vader prys vir sy genade en liefde en voorsiening en daar is seker nie ‘n beter Psalm as Psalm 150 wat ons wys hoe nie.
PSALMS 150
Halleluja!
1HALLELUJA! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk
uitspansel!
2Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy
grootheid!
3Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter;
4loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel
en fluit;
5loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!
6 Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!
Deur alles wat in ons lewens gebeur, deur die struikelblokke op ons weg is daar steeds net een ding wat ons kan doen – dit is om ons God-Drie-enig te prys, elke dag soveel as wat ons kan.
My vriende is baie bekommerd oor my traumatiese ondervinding
van ‘n week gelede en vra gereeld of ek nou okei is. Ek is meer as okei, ek is
dankbaar en dit is agter my. As ek terugkyk is ek ons Vader so dankbaar vir hoe
Hy dit laat uitspeel het, dat ek veilig by my huis en in my eie land is.
Waarvoor sal ek toelaat dat dit my lewe verder versuur?
Ek is die meeste dankbaar vir die vrede wat my Vader my gegee het en dat ek elke dag net meer en meer besef hoe geseënd ek is.
Nêrens in die Woord word vir ons belowe dat alles seepglad sal gaan in ons lewens nie. Jesus, ons Koning, se pad op aarde was baie meer vol struikelblokke terwyl Hy hier op aarde gewandel het. Wie is ons dan?
Kom ons los wat agter is agter. Kom ons vergewe. Kom ons vergeet. Kom ons mors nie een sekonde van ons kosbare tyd met negatiewe gedagtes waaraan ons niks kan verander nie. Tyd is mos kosbaar.
Hier het God ons deur nog ‘n maand, bibber-koue, oorstromings en vele meer geneem – hoe kan ons Hom nie prys en loof elke oomblik van die dag nie.
Mooi loop op die Maandag.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking