Vrydag 30 Junie 2023

Vir ons breek Hy koperdeure en ystergrendels ...

Middag Vriende, uit ‘n Windhoek wat darem al opgewarm het tot by 14 grade van -2 af. Hierdie Namakwaland-kind is gevries. Stof tot baie dankbaarheid die het ek in oorvloed en ek glo so elkeen van julle ook.

Gister was ‘n dag waarin ek baie ontstellende nuus moes aanhoor, nuus wat my nie direk raak nie, maar as Christen diep raak, omdat dit my medemens is waarmee hierdie verskriklike goed gebeur. En in Galasiërs 6:2 word ons duidelik vermaan: Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.

Binne die bestek van ‘n paar uur, hoor ek van ‘n vriendin se dogter, pas in haar dertigs, sy het sowat ‘n maand gelede ‘n breinoperasie gehad om ‘n gewas te laat verwyder. Maandag net weer siek geraak, hospitaal toe, Kaap toe en toetse begin. In ‘n maand se tyd het hierdie jongvrou se kanker van stage 2 na stage 4 gegaan. Hoe anders as verpletter kan haar familie wees al is hulle ook mense wat ‘n baie nou pad met God stap?

Die nuus is nog nie koud nie, en ek ontvang ‘n whatsapp van ‘n vriendin – ‘my oudste suster se seun, sy vrou en skoonma is gisternag almal vermoor.’ Wat sê ek vir hierdie mens?

Ek is nog besig om dit te oordink en met die Vader te praat toe ek nog ‘n whatsapp ontvang van ‘n pastoor – sy vrou ly aan erge epilepsie, sy het so ‘n kwaai aanval gehad dat hulle haar byna nie terug gekry het nie. Sy is in die hospitaal.

My eerste gedagte na die derde boodskap was – ‘Vader bitter, bitter baie dankie vir my gesondheid. Dankie vir U beskerming.’

Die Woord waarsku ons dat in die laaste dae sal die vyand soos ‘n brullende leeu rondloop en almal probeer verslind wat hom probeer teëgaan.

Dan kom Pastoor Rynier Nolan vanoggend en hy lees Psalm 107 wat handel oor mense in situasies soos die hier bo. Wat voel hulle is opgesluit in ‘n tronk van seer, van teleurstelling, van bitterheid, van verlies.

Kyk na die kosbare belofte in verse 14 en 16 – God het nie doelloos rond gestaan nie, nee, Hy het hy het die tronk waarin die vyand ons wil gevang hou se koperdeure en ystergrendels stukkend geslaan en ons bevry. Die vyand wil ons in vrees laat leef, hy roof en steel wat nie syne is nie, al hoe ons staande kan bly is om vas te hou aan ons Vader deur dit alles.

Psalm 107: 13 Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.

14 Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.

15 Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

16want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.

Hy sal ons nie alleen laat vir een oomblik as ons tot Hom nader en Hom vra om elke sekonde van die dag met ons te wees nie. Hy sal ons dra en vertroos, die koperdeure en ystergrendels los breek, want Hy wil hê ons moet vry wees in Hom.

Dit laat my dink aan Martin Luther die groot hervormer se aanhaling: ‘I have so much to do today that I’m going to need to spend three hours in prayer in order to be able to get it all done.’

Ons hou op met bid in tye waar hierdie dinge met ons gebeur, ons begin vir God die skuld gee – waar ons eintlik nog meer tyd met God moet spandeer om dit vir ons moontlik te maak om daar deur te kan leef met die krag wat Hy jou gee.

Ons spandeer nie tyd met God nie, want ons is te besig, eintlik moet ons juis meer tyd met Hom spandeer dat Hy ons deur hierdie besige tyd kan dra.

Gister was die oproep van Paulus: Bid gedurig!

Kom ons begin bid gedurig, vir ons eie mense, vir ons vriende, vir ons kennisse, vir ons land. Die wonder van gebed is, ons hoef nie die persoon te ken om vir hulle te bid nie, God ken hulle en weet van wie jy praat.

Veilig wees, en mooi naweek.

© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...