Waaroor praat ons vanoggend? Iets waaraan ek ook al baie skuldig was, en baie van ons Namakwalaners miskien ook skuldig is – om te sê wat ons wil …
Wat bedoel ek daarmee? Is dit dan verkeerd om reguit en eerlik te wees?
Soms as ons met geliefdes, kinders, vriende praat oor iets wat ons moet uitsorteer, is ons reguit en op die man af. Daardie reguitgeid maak daardie persoon seer, want die persoon weet dalk reeds hulle is verkeerd, of is dalk reeds moedeloos.
Job 41:10 - JOB 41:10 AFR53
Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.
Soms is ons woorde soos die van ‘n draak, soos vuur wat alles verteer. Hoekom, ons is dan Christene? Steeds lewe ons die lewe, steeds het ons al ‘n geheue opgebou van seer, van teleurstelling, van verraad, van leuens van ander. Uit daardie ondervinding, spreek ons soms uit bitterheid en seer en dit vernietig net.
Ons moet daarteen waak. Ons moet die dinge wat ons binneste bitter maak en ons diep binne ongelukkig maak met ons Vader uitsorteer en vra vir genesing. As ons mense teë kom wat so gal braak, moet ons nie saam praat nie, maar eerder vir daardie persoon bid, want dit is bitterheid wat uit hulle harte loop.
Ons moet ons woorde beheer – ons mag nie die houding hê van ‘ek kan sê wat ek wil’. Ons doen soveel skade, en dit is nie God se hart nie. Die gawe wat ons het om ‘bold’ te wees, het God ons gegee om Sy koninkryk te bevorder, nie om mense seer te maak, af te breek of af te kraak nie. Ons moet dit dus reg aanwend tot die eer van Sy naam.
Ons moet op pas dat ons mense se harte wat reeds in droogte net gras is, heel afbrand, net heel vernietig met ons woorde. As ons met mense handel, moet ons die Heilige Gees vra om ons te help om opbouend en reg te praat. Om daardie persoon beter agter te laat as wat ons hulle gevind het. Jesus het alle rede gehad om neerhalend, sarkasties en nog meer met mense te wees, Hy was sondeloos. Tog was Sy woorde altyd sag en opbouend.
Ons woord moet nooit breek nie, maar bou. Kom ons tel ons woorde. Daar is altyd ‘n mooi manier ook om mense te laat verstaan dat hulle jou seer gemaak het. En sodra jy dit klaar aangespreek het, bid dat jy dit sal agter sit, dat God self met daardie persoon verder sal werk.
Bly warm en wees geseënd, preek lewe en nie dood nie.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking