Donderdag 01 Junie 2023

Waak want ons weet nie ...


Goeiemôre Vriende,

Bietjie warmer hier by ons in Windhoek, en die son skyn, is dit nie wonderlik nie? Dit is hoekom ek so vreeslik lief is vir hierdie plek, die son skyn sekerlik 95% van die jaar in Windhoek.
Vanoggend gesels ons oor die dag waarop Jesus terugkom om ons te kom haal. In hierdie tyd kry jy dikwels mense wat voorgee hulle weet. Hulle sal selfs ‘n video maak of ‘n whatsapp skryf wat gesirkuleer word met ‘n dag en ‘n datum.
Die hartseer ding is dat christene hulle daaraan steur, dit glo en heeltemal paniekerig raak.
Die waarheid is dat die Woord van God vas staan en net daarin is die waarheid.
Matteus 24:36 MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.
Dit beteken as enigiemand, of hy aan jou vertel hy is ‘n pastoor, predikant, profeet of wat ook al en het ‘n gesig gesien – dit is nie waar nie. God sal nie teen sy eie Woord gaan nie. Dit is Jesus self wat hier in Matteus aan die woord is.
Jesus gaan aan om te verduidelik hoekom niemand sal weet nie en waarsku dan dat ons altyd gereed moet wees. As ons geweet het, sou ons bly sondig tot ‘n sekonde voor dit gebeur en dan eers probeer het om ons lewens vir Jesus te gee.
Matteus 24:42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
44Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.
Die wonder van dit alles is, ons hoef dit nie in ons eie krag te doen nie. God woon in ons deur Sy Gees. Hoe fenomenaal is dit nie? Die Skepper God, die Alfa en Omega, ons Genadige Drie-enige God, woon binne in ons as ons Jesus se offer aangeneem het.
I KORINTHIËRS 6:19 AFR53
Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
As jy jou lewe en hart vir Jesus gee, kom die Heilige Gees, wat self God is sy intrek in jou liggaam neem. Is ons nie bevoorreg nie? Dit is onverdiend. Moet ons nie elke dag opgewonde wees daaroor en dit waardeer nie? Oneindig dankbaar wees dat God met ons is, binne ons is. Nie ‘n God is wat daar ver is nie, maar hier by ons?
Nie uit ons self sal ons gereed wees op die uur wat Jesus kom nie, maar alleenlik deur genade en Sy inwonende Gees wat ons lei. Deur elke dag aan Sy voete te bly, deur in alles Sy wil vir ons lewens te vra. Deur alles aan Hom oor te gee.
My Kanada visa is nog ‘n kopseer, maar net gisteraand, flou geskryf en moeg van sukkel met hierdie visa, het ek dit weer vir God gegee. Ek het soos ‘n baba geslaap en weet dit is nie te klein of te groot vir ons Vader om vir my uit te sorteer nie.
Laat ons opgewonde wees oor ‘n Soewereine God wat in ons woon en ons sal help om gereed te wees die dag as Jesus ons kom haal.
© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...