Maandag 26 Junie 2023

Roep My aan ...


 

Vriende,

‘n Hartlike goeiemôre hier uit ‘n helder sonskyn Windhoek. Die luggie byt, maar ons is dankbaar vir die sonskyn wat alles helder en warm maak. Hoop julle naweek was geseënd.
Pastoor Des Wessels was laas week siek en in die hospitaal, het gister uitgekom, waarvoor ons dankbaar is. Vanoggend voel hy toe weer die simptome wat hy laas week gehad het voor hy hospitaal toe is.
Hy kry die baie bekende vers wat ons almal sekerlik ken van die Heilige Gees, Jeremia 29:11, maar hier maak die Here vir hom dit oop en vra hom om vers 12 aan te lees. So dikwels kwoteer ons ‘n vers, maar vergeet om aan te lees en meer as gereeld is die antwoord in die vers daarna.


Jeremia 29: 11Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.
12Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.
13En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.


Ons haak altyd vas by vers 11 waarin God belowe dat Hy goeie gedagtes vir ons het, en ‘n hoopvolle toekoms, tog is daar ‘n voorwaarde aan, wat ons so dikwels mis lees. Ons mens is so ingestel dat ons net altyd wil ontvang, maar elders in die Woord word ons ook gemaan dat ons ‘n deel het om te doen en God dan vir seker Sy deel sal doen.
Net soos die saaiboer nie ‘n oes kan verwag as hy nie saai nie, net so kan ons ook nie ‘n oes verwag as ons nie ons deel doen nie. Nog meer so omdat God se grootste begeerte is dat ons Hom sal liefhê en dien. Dat ons Hom daagliks sal opsoek, met Hom sal praat, alles in ons lewens met Hom sal deel. Soos die tien gebooie so mooi dit uiteensit: ‘Ek is ‘n jaloerse God’. Waarmee Hy sê: Ek soek jou onverdeelde trou en liefde en lojaliteit.
Ons is tog nie in ‘n huwelik en dan is ons besig om nog ‘n ander persoon lief te hê en meer tyd met hulle te spandeer as met ons eie huweliksmaat nie? Dit is net bloot onaanvaarbaar. So hoekom sal ons Soewereine, Heilige, Almagtige, Genadige God dit aanvaar.
Saam met miljoene ander is jy sy uitverkorene, is jy vir Hom eerste elke dag as Hy jou wakker maak.
Daarvoor vra Hy jou liefde, jou aandag. Wil Hy hê jy moet Hom aanroep in goeie en slegte tye en onvoorwaardelik op Hom vertrou.
Definitief is daar baie mense wat vandag in ‘n situasie is waaruit hulle nie weet hoe om daaruit te kom nie. ‘n Situasie wat hulle ongelukkig maak, wat hulle hartseer maak, wat hulle moedeloos maak. Hierdie situasie staan dalk tussen jou en God, dus kan God nie naby jou kom nie – roep Hom aan en sy belofte is dat Hy jou sal hoor en uitkoms sal gee.
Mooi loop op hierdie mooi Maandag, mag dit sagte pienk wees, vol warmte en seën.
© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...