Goeiemôre,
Die son skyn en die luggie byt, net om ons te herinner dat
dit winter is. Hoop almal het lekker gerus die naweek, en is reg om die nuwe week
te vat.
Vanoggend wil ek gesels oor mislukking. Ek glo almal van ons het al misluk in een of ander iets. Wat het jy gedoen toe jy misluk het? Het jy alles net so gelos? Of het jy weer probeer totdat jy geslaag het?
In die Bybel dink ek is Petrus vir ons ‘n baie goeie voorbeeld in Matteus 14. Daar heers ‘n storm op die see, die dissipels is alleen in die boot en baie bevrees. Die volgende oomblik sien hulle vir Jesus op die water aangeloop kom en dink eers dat Hy ‘n spook is. Hulle wat Hom so goed ken, erken hom nie, omdat hulle sig deur die situasie waarin hulle is afgetrek word. Hulle vrees en angs.
Wanneer Hy hulle gerus stel dat dit net Hy is, is Petrus sy eie impulsiewe self en vra as die Jesus is, dat Jesus hom sal beveel om ook op die water te loop. Jesus gee gehoor aan sy versoek en gee die opdrag: ‘Kom!’
Tog hou Petrus nie sy oë op Jesus nie, maar op die omstandighede en hy raak bang en misluk. Dit is net hoe ons ook die dinge doen. Ons vra Jesus om ons te help, maar plaas daarvan om Hom te vertrou en op Sy bekwaamheid staat te maak, kyk ons na die omstandighede en twyfel en misluk.
Die man wat poliodruppels uitgevind het, het twee honderd maal
misluk, voor hy die polio middel uitgevind het wat vandag en al jare baie mense
se lewens red. Sy woord was dat hy nie twee honderd maal misluk het nie, maar
twee honderd ander inentings gemaak het wat nie vir polio help nie. Steeds het
hy aangehou en sukses behaal wat die hele wêreld verander het.
30Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe
hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!
31En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en
vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?
Dus moet ons aanhou, en ons oë op Jesus hou – die Een wat alles KAN.
Verder was Petrus nie die mislukking nie, maar die elf ander wat dit nie eers gewaag het om uit die skuit te klim nie. Ons moet uit die skuit klim om te kan misluk of te kan oorwin. Hy het gewaag, en Jesus het hom gered.
Waag, klim uit die skuit, want as jy nie eers probeer nie, is
jy werklik ‘n mislukking. Dis nie hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan wat jou
die oorwinning gaan besorg saam met Jesus.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking