Waar staan jy
as die son
van die verkeerde kant af skyn
staan jy aan die regte kant
van die duin
waar die skadu
jou beskerm
teen die son se velle strale
waar jou voete diep kan in sak
in die koel sand
jy in dankbaarheid kan vertoef
vir die onverwagse lafenis
tog ‘n dag is ook net so lank
die maan neem oor by die son
die skemer sak oor die vlaktes toe
waar staan jy nou
as die maan sy strale
van die verkeerde kant af gooi
aan die swartkant van die duin
nie jou voete in die sand kan wikkel
want dit is waar die sandadder hou
die kant wat die son nie skyn
is as jy in die lig is
die skadukant
maar as die son verdwyn
die maan aan die verkeerde kant skyn
bevind jy jou
aan die donkerkant van die duin
onbeskut
onbeskerm
uitgelewer
aan die adder
wat in die duister skuil
geen veilige plek op jou voet te laat rus
die duister het jou spore uitgewis
so hou maar soos die gemsbok
vlak voor die duin verby
waar die son bedags sy lig gee
en die maan ook so by nag
en struikel nooit oor die adder
aan die donkerkant van die duin.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking