Dinsdag 06 Junie 2023

Wat doen jy met jou geskenk?


Goeiemôre vriende,
Is Vanrhynsdorp is dit ‘n slag bietjie oopgetrek, maar wie kla wat dit het lekker gereën die laaste dae. Nee ek is nog steeds in Windhoek, gesels net met my mense daar. Hier is dit koud, steeds skyn die son.
Vanoggend wil ek met julle die gedeelte oor gawes deel uit 1 Korinthiers 12. Hoor ek jou dalk brom dat jy geen gawes ontvang het nie? Dit is gelukkig nie waar nie.
Ons ken almal daardie storie van ons moeders en oumas wat daardie pragtige proselein eetstel gehad het, maar ons mag nooit daaruit geëet het nie. ‘Want my kind dit is baie waardevol en net nou breek iets.’ Ons ken ook die storie van ‘bêre ma of ouma dit nou vir pa of oupa se tweede vrou?’
Lees bietjie wat 1 Korinthiers 12 sê oor gawes.

1 Korinthiers 12:4Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
5en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
6en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.
7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
8Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
9aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
10aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale.
11Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
Julle sien, ‘n gawe is soos daardie pragtige fyn porselein eetstel. Soos ‘n baie waardevolle geskenk wat ons van God ontvang het.

Net soos ons moeders en oumas is ons soms geneig om daardie geskenk te bêre, want dit is so waardevol, netnou gebeur daar iets mee.
Dit kan ek jou verseker is nie wat God se plan is met die gawe wat Hy jou mee geseën het nie. Hoekom sal Hy vir jou so ‘n waardevolle geskenk gee dat jy dit kan wegsteek?
Hy het dit vir jou gegee om te gebruik tot eer en uitbreiding van Sy koninkryk. Om dit te geniet. Om mede-gelowiges daarmee te bemoedig en versterk.
Wat is jou gawe? ‘n Woord van wysheid om jou medemens mee te bemoedig? ‘n Woord van kennis om jou medemens mee te bedien? Die gawe van genesing deur gebed? Of die spreek van tale wat ‘n ander kan uitlê tot stigting van die hele gemeente? Of ‘n gees van onderskeiding wat van ons Vader is of nie?
Nee, ons hoef nie almal pastore, predikante, profete, apostels en dies meers te wees om ‘n gawe te ontvang nie, God het dit deur Sy Gees vir elkeen gegee.
Ek weet vir seker dat baie, baie vroue en mans in ons ou Namakwaland die gawe van gasvryheid ontvang het. Daar is min plekke in die wêreld waar mense wild vreemde mense so sal help, in hul huis sal in nooi en laat welkom voel soos in ons geliefde Namakwaland. Dit is ‘n gawe.
Net so is om iemand te bemoedig ‘n gawe. Om jou buurvrou wat alleen oor die weg moet kom nadat sy dalk haar lewensmaat verloor het te bemoedig en te help ook.
Gawes is nie geskenke wat God vir ons gegee het om te bêre nie, haal daardie porselein eetstel uit en eet in dit. Geniet dit, as iets breek – dit is net ‘n bord of koppie - nie iets met ewigheidswaarde nie. Jou gawe kan nie breek as jy dit met God se leiding gebruik en tot eer van sy naam nie. Dit kan net breek as jy dit gebruik en al die eer vir jouself neem.
Begin gebruik daardie gawe, dit is kosbaar en die mense om jou het dit nodig. Voed hulle uit jou spesiale Noritake stel wat God jou gegee het, bederf hulle en laat hulle spesiaal voel. Dit is God se hart vir jou en hulle.
© Marsofine Krynauw






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...