Donderdag 22 Junie 2023

Uitgekies ... spesiaal!




Goeiemôre vriende

Intussen het die water by Lutzville en oral gesak en weer gestyg, maar almal is steeds veilig. Ons is dankbaar vir die water en dankbaar dat almal veilig is. Water is vir ons as Namakwalaners en boere in die algemene ‘n baie kosbare kommoditeit. Sonder dit kan ons nie aangaan nie, en die afhanklikheid daarvan laat ons telkens besef hoe afhanklik ons as mens van ons Vader is.
Daar is ‘n paar goed op ons Vader se hart vanoggend. Eerstens, hoe het jy ‘n kind van God geword?
Die volgorde werk so: God het ons uitgekies en daarom het ek en jy die voorreg om Hom aan te neem, Jesus se liefdes offer aan te neem en kinders van die Allerhoogste God te word. Hy het ons eerste uitgekies, voor ons nog probeer het om Hom te beïndruk of reg te leef uit dankbaarheid.
1 Petrus 2:9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
10julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
Wat ‘n voorreg.
Die volgende vraag is: Waarvoor staan jy nou as kind van die lewende God?
Dikwels is ons in die geselskap van mense wat vreeslik vloek, en ook God se naam ydellik gebruik. Wat doen jy? Loop jy weg?
Byna daagliks sit kinders van God voor ‘n televisie waarop daar vreeslike taal gebruik word, onaanvaarbare beginsels gebeeldsend word, gruwelike dinge goedgepraat word. Wat doen jy? Bly jy sit en maak dit af as dit is nou maar eenmaal deel van ons wêreld of sit jy dit af en gaan hou jou konstruktief besig met iets anders?
Om as uitverkorene van God te leef moet ons ons self beskerm deur te luister na die Heilige Gees. Moet ons ons self afsny van die dinge wat ons lewens kan besoedel.
Dawid het ook hierdie probleme gehad, en kyk wat skryf hy in Psalm 101 en ek kan nie net ‘n gedeelte uitlig nie, so ek plaas die hele psalm.
1VAN Dawid. 'n Psalm.
Ek wil sing van goedertierenheid en reg; tot u eer wil ek psalmsing, o Here!
2Ek wil ag gee op regskape wandel — wanneer sal U na my kom? Ek wandel in die opregtheid van my hart, binne-in my huis.
3Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie.
4 'n Verkeerde hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie.
5Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie.
6My oë sal wees op die getroues in die land, dat hulle by my kan woon; hy wat wandel in die weg van opregtheid, dié mag my dien.
7Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie.
8Elke môre sal ek al die goddelose van die land vernietig, om al die werkers van ongeregtigheid uit die stad van die Here uit te roei.
Dit is jou reg as kind van God om nie jou ore vullisblikke te maak nie.
Gister hoor ek ‘n vriend die volgende sê: Hoekom verkoop julle christene altyd godsdiens?
Die wat my redelik goed ken, weet seker dat my hare dadelik regop gestaan het. My antwoord was: die gene wat so adverteer hulle is die profeet en die pastoor en geld daarvoor vra om God se woord uit te dra, is nie in God se wil nie. Jesus het nooit vir iemand geld gevra om hul te genees, te red, te laat sien of te laat loop nie. Verder kan die wêreld maar al die gemors wat ons daagliks moet na luister en kyk propageer soveel hulle wil, maar dit is niks nie, laat een christen nou net opstaan vir wat reg is en dit word afgemaak as jy druk godsdiens in iemand se keel af – REGTIG, IS JY ERNSTIG!
Dit is presies wat Dawid ons hier teen waarsku. Ons is uitverkies, nie uit verdienste nie, ons is bevoorreg dat die Gees ons gelei het om die waarheid te sien en te aanvaar. Daarom moet ons anders optree as die res van die wêreld.
Die Een wat van die grondlegging van die aarde af daar was, wat alles tot stand gebring het, wat jou ken van voor jy in jou moederskoot gevorm is – Hy belowe om jou nie alleen te laat in dit alles nie.
Jesaja 41:10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Hoekom is ons so bang om uit te staan? Ons is nie bang om uit te staan as ons dink ons het iets bereik nie, as mense aangaan oor hoe oulik of goed ons was nie. Maar ons is bang om uit te staan vir God. Soos daardie eilandjie wat die vloedwater nie kon oorstroom nie, stok-siel-alleen in die middel van al daardie massas water, maar staan staan dit, dankbaar dat dit nie oorstroom is nie.
Hoekom kan ons nie so staan vir die Een wat sy lewe vrywilliglik vir ons afgelê het nie, wat ons uitgekies het nie? Hoekom wil ons soos almal wees en nie uniek nie?
Kom ons staan vir Christus, sonder om skaam of bang te wees vir die wêreld se oordeel. Kom ons wys ons is uniek, ons is immers die uitverkore volk van God. Koningskinders. Soos die hele wêreld altyd besig is om van Prins Harry en Prins William te praat – omdat hulle koningskinders is – so kan hulle maar van ons ook praat, want ons is DIE KONING se kinders.
© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...