Vader, ons het vir reën gebid
U het in oorvloed voorsien
nou hoor U ons kerm en kla oor die skade
aan die pad
wat vir ons onbegaanbaar is
wat ons afsny van die wêreld
maar Vader iewers
is daar vanaand
‘n moeder, ‘n gesin, ‘n familie
wat bitter trane stort
oor ‘n jongvrou
nog in die fleur van haar lewe
haar dogtertjie nog nie tien
want dokters het haar weg gestuur
met ‘ons kan niks meer vir jou doen’
die monster in haar brein
het binne weke
verdubbel in sy aanslag
iewers ander is daar ‘n
moeder, vader en familie
wat plat geslaan staan
want in die vorige nag
het die vyand
hul seun, sy vrou en haar ma
vermoor en dood agtergelaat
‘n Godsman wat oor sy
geliefde vrou buk
om mond tot mond
haar lewe te probeer terugbring
waarvan die tiener seun
smeek “Vader, laat haar net leef”
getrou gee God gehoor
begin sy asemhaal –
maar die aanslae bly daar
wanneer kom die volgende een
dan weeklaag ons oor water
waarvoor ons U gesmeek het
oor ‘n pad wat weer herstel kan word
soms Vader, het ons gee idee
van wat ons seëninge is –
word ons terug geruk
deur die bitter seer en verlies
van die om ons
laat ons in hierdie nag
U net loof en prys
vir alles wat U ons mee seën
en op ons knie bly
vir die
wat werklik deur stormwaters gaan
waters wat verwoes
waters waarvan die skade
nie herstel kan word
waters wat net dooie geliefdes agterlaat …
laat ons stil word in die wete
ons dien ‘n God
wat alleen kan
wat die vyand kan verslaan
wat aanslae kan afweer
wat genesing kan bring
al het almal opgegee
U is ons Rots
U sal dit bly
al slaan die branders
om alles te verpletter
sal ons in U onwrikbaar staan
daarom kom ons vanaand vra
vir U soewereine wil …
want U ken elkeen
en sien ons harte.
© Marsofine Krynauw
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking