Maandag 19 Junie 2023

Waar vra jy raad?


 

Goeiemôre Vriende,

Hier in Windhoek is dit koud, maar alles is rustig. Deur die naweek het ek hier van ver af die water van die Olifantsrivier gevolg, immers word my vriende en familie daar teen die rivier by Lutzville, Vredendal en Vanrhynsdorp daardeur beïnvloed. Selfs my vriendin en haar man wat reg teen die Bergrivier boer. Tog is ek dankbaar dat almal nog veilig is, al lê die water soms werklik byna op hul grasperke.

Vanoggend was dit weer net vir my opvallend hoe ons Vader vir mens ‘n bevestiging kan gee van ‘n woord. Die een pastoor waarna ek luister verwys in sy oggend oordenking na Psalm 1, ek slaan my Bybeldagboek oop en so waarlik waar, daar is dit Psalm 1.

Die twee weë.

1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;

2maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.

3En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

4So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.

5Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.

6Want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.

Wat is die boodskap?

Die boodskap is, soms maak ons besluite wat ons weet verkeerd is, en dan as die ‘paw-paw’ die fan slaan, en alles is ‘n gemors, staan ons daar en vra ‘Here nou hoekom?’

Dit is soos wanneer jy as christene die besluit sal neem om in te breek by iemand se huis en dan word jy gevang. Dan gooi jy jou hande in die lug en verstaan nie hoekom jy nou in moeilikheid is nie.

Die woord is baie duidelik in Psalm 1: 1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;

Jeremia 17: 5So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.

Hierdie twee verse maak dit baie duidelik dat ons die raad van goddeloses aan neem, sal ons self in die moeilikheid beland, ongeag of ons ons Bybel lees, bid, en weet wat die regte pad is om te loop. Om te weet is nie om te doen nie. Ons moet doeners van God se Woord wees en nie hoorders nie.

As ons mooi terug dink aan situasies waar ons in die warm water was, is ek seker as ons eerlik is sal ons goed onthou, dit was situasies waar ons mense se raad gevra het wat nie volgens God se Woord wandel nie, of ons eie besluit wat ons geweet het voor die tyd nie in God se plan en Woord val nie.

Is wil tog so graag altyd iemand anders blameer of ons self veronskuldig. Eintlik is dit maklik om uit die warm water te bly, handel volgens die riglyne van ons Vader se Woord. Ons hoef dit nie alleen te doen nie, ons het mos die Heilige Gees en ons kan mos ons Vader vra om ons te wys.

Mooi loop daar langs die baie water in my vallei.

©Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...