Donderdag 29 Junie 2023

Toewyding


Middag Vriende, hier is dit darem ‘n paar grade minder koud en was vanoggend net -2. Julle sal my verskoon dat ek laat is vandag, want ek kon net nie die uitnodiging by vriende vir warm skons van die hand wys nie. Ek hoop julle is almal veilig met die N7 wat net voor Vioolsdrif verspoel het en Kleinzee wat afgesny is van die buite wêreld.

Vanoggend het my dagstukkie gehandel oor toegewydheid. Dit is nie ‘n deug wat ons meer elke dag op die lyf loop nie. In die tyd wat ek en ek glo baie van julle grootgeword het daar in ons ou Namakwaland, was dit volop te sien tussen ons families. Mense wat aangehou en uitgehou het te midde van moeilike omstandighede. Mense wat nie links of regs afgewyk het van wat hulle geweet het reg en goed is nie.

In die Woord van God sit Paulus dit so mooi uiteen vir ons in sy groet. Ek wil graag die hele gedeelte met julle deel.

1 Tessalonisense 5:12 - 28

Verskillende voorskrifte, wense en groete.

12MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan;

13en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.

14En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.

15 Sorg dat niemand 'n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.

16 Wees altyddeur bly.

17 Bid sonder ophou.

18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

19 Blus die Gees nie uit nie.

20Verag die profesieë nie.

21 Beproef alle dinge; behou die goeie.

22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.


23En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

25 Broeders, bid vir ons.

26 Groet die broeders almal met 'n heilige kus.

27Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word.

28 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.

Hoe groei ons in toewyding? Ons kan net in toewyding aan ons Vader groei deur tyd met Hom en sy Woord te spandeer. Hoe raak jy meer lief vir jou vrou of man? Mos ook net omdat jy al jare saam met daardie persoon stap en elke uur van die dag met hulle spandeer.

Al die riglyne wat jy en ek sal nodig kry vir die uitdagings in ons hele lewe, is klaar uiteengesit in die Woord van God. Ons maak net nie tyd om dit te gaan lees en daarvolgens te lewe nie.

Kyk na Paulus se duidelike riglyne in hierdie stuk Skrif – meer duidelik kan dit nie wees nie. Tog of weet ons nie daarvan nie, of doen ons dit nie.

Hoekom moet ons volgens God se voorskrifte leef? Maklik dat wanneer Jesus op die wolke kom, ons voorbereid sal wees soos vers 23 so mooi dit vir ons uiteensit. Hoe sal ons dit regkry? Maklik deur meer en meer toegewyd te leef aan ons Vader. Sy Heilige Gees is binne in ons, en die sal ons rig.

Ons moet ‘n brandende begeerte hê om elke dag met God te wandel, opgewonde wees oor Sy goedheid, liefde en guns. Nie elke Sondagoggend wonder of ons kerk toe moet gaan of nie, dit gaan nie oor die predikant of pastoor nie, dit gaan oor God se woord. Hulle is net die instrumente wat dit oordra. Ons kan nie kwaad wees vir die kerk omdat die of daardie so of sus gedoen het nie, nee, is jy in die kerk oor die of daai of is jy in die kerk om God se woord te hoor en ander daar te help om nader aan God te kom? Ons het mos elkeen die opdrag om God se naam te verheerlik.

Ek is gelukkig om in ‘n wonderlike gemeenskap van gelowiges te wees, ‘n baie goeie verhouding met almal insluitende ons pastore te hê, en tog het ek al vir ons senior pastoor gesê: Pastoor ek is baie lief vir jou, maar ek is hier vir God, vir dit wat Hy hier met my en deur my wil doen. Vir Sy beloftes en om Hom te eer.

Ons moet verby die mense en die wêreld begin kyk – selfs in die kerk waar jy is – en vir God begin raak sien, Hom begin loof en prys, nader aan Hom begin beweeg, Hom in ander begin sien en ander begin wys hoe Sy liefde lyk.

Bid aanhoudend – dit is die begin van dit alles. As jy die hele dag in gesprek met God is, waar jy ook al werk, of wat jy ook al doen, leer jy Sy hart ken vir jou lewe en leer jy Hom ken.


© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...