Woensdag 21 Junie 2023

Vind vrede terwyl jy wag



Vriende,

Die week se uurglas is besig om uit te loop. Ek hoop dat dit by julle almal goed gaan. Ek hoor dat dit steeds in die Kaap reën, so laat ons hoor of dit nog in Namakwaland reën en hoeveel dit al gereën het asseblief.

Ons bly by die onderwerp van WAG. Dit is moeilik om te wag – ek wag nou al twee maande vir ‘n visa om my vriendin in Kanada te gaan besoek. Ek wag steeds en dit is dood stil!

Jy wag dalk ook al lank vir ‘n baba, vir die regte huweliksmaat, vir ‘n deurbraak in jou finansies, vir vrede en aanvaarding …

Dawid kom in Psalm 131 en vertel ons hoe ons moet wag. Ons moet onsself voor God verootmoedig. Ons moet naby Hom wandel elke dag, ons moet Sy vrede vind terwyl ons wag.

PSALMS 131

Berusting.

1 'n BEDEVAARTSLIED. Van Dawid.

o Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.

2Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos 'n gespeende kind by sy moeder, soos 'n gespeende kind is my siel in my.

3 Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid!

Ons mag ook nie inmeng nie. Kyk watter gemors was dit toe Sara ingemeng het met God se plan vir ‘n erfgenaam vir Abraham. Dit is gewoonlik hoe dinge uitdraai as ons begin rond vroetel met God se planne.

Daar is ‘n pragtige beeld wat Nina Smit in een van haar boeke gebruik: Die van die sweefstokartieste – as die vlieër die sweefstok gelos het, stol hy/sy vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde en wag vir die vanger om hom/haar te gryp. Hierdie persoon het geen ander opsie as om die persoon wat hul moet vang te vertrou nie. Hul lewens is in daardie persoon se hande vir sekondes.

So onvoorwaardelik moet ons God vertrou en wag. God se tydsberekening is altyd perfek.

Kom ons raak rustig aan Jesus se voete, dit is dalk hoekom ons moet wag. Dalk is hierdie die tyd wat Hy gemaak het vir jou en my om net by Hom te sit, net met Hom te verkeer, net weer Sy hart vir ons te leer ken en te weet dat Hy goed is.

Mag jy vandag God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ontdek terwyl jy wag en Sy teenwoordigheid net indrink.

© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...