Woensdag 14 Junie 2023

Wie kom die oordeel toe?


 

Goeiemôre Vriende, uit ‘n koue-koue Windhoek. Tog skyn die son, en ek is vrede.

Kom ons gesels vanoggend bietjie oor onregverdigheid, iets wat ons almal se hare laat regop staan. Ek dink veral die van julle wat huidiglik die situasie in Suid-Afrika beleef, wil elke dag julle hare uit jul kop trek daaroor. Almal het baie vrae. Baie wil vergelding hê.

Kom ons kyk na wat die Woord van God sê daaroor in Psalm 85, wie is die Een wat alleen mag oordeel en hoe sal Hy dit doen.

Die Regter kom!

1 SING tot eer van die Here 'n nuwe lied; sing voor die Here, o ganse aarde!

2Sing tot eer van die Here, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.

3Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.

4Want die Here is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode.

5Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak.

6Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom.

7Gee aan die Here, o geslagte van die volke, gee aan die Here eer en sterkte.

8Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe.

9Aanbid die Here in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde!

10Sê onder die volke: Die Here is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel.

11Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis.

12 Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel

13voor die aangesig van die Here; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.

Hier uit is dit baie duidelik dat God in sy tyd sal oordeel oor elke ongeregtigheid. Dit is nie ons plek nie – en hier weet ek ons is almal skuldig, ek in kluis. Tog word ons gehou aan ‘n ander vers uit die woord.

Matteus 7:1 MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.

2Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Nou kan ons almal ons probeer regverdig met – ‘maar dit wat ons doen is darem nie so vreeslik soos die goed wat hier aangaan nie’. Dit maak nie saak nie. Dit sien ons te die mense die owerspelige vrou na Jesus gebring het en gevra het dat sy gestenig moet word.

Johannes 8:7b Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi.

Daar is geen ander antwoord vir oordeel nie, selfs in die tiengebooie is dit duidelik gestel dat ons nie mag oordeel nie. Ons moet elke dag daaraan werk, ons moet dit elke keer wat ons in die versoeking kom om dit te doen dit vir Jesus gee.

Steeds voel ons so magteloos, so kwaad, so ontsteld oor die dinge wat gebeur om ons wat so onregverdig is, want dit gebeur met onskuldige, weerlose mense.

Jesaja 43: 1MAAR nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!

2 As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.

3Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.

4Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.

5 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af.

6Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af,

7elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.

8 Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.

Hier is die antwoord, ons hoef nie bevrees te wees nie, God het ons lief. Hy sal uitkoms gee as ons by Sy voete bly en ons verootmoedig. Ons hoef nie soos afkop hoenders en woedende bulle rond te loop en mense en situasies te oordeel waaraan ons niks kan verander nie. Deur stil te wees en dit voor God neer te sit wat in beheer is, sal ons baie meer vermag.

© Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...