Dinsdag 13 Junie 2023

Hy hou ons vas ...



Dagsê Vriende,

Ek hoor net van reën en nogmaals reën. Rivier wat loop en watervalle wat loop. Is ons Vader se seëninge vir ons nie wonderlik nie.
Baie gepas praat Pastoor Nolan vanoggend oor Psalm 95 waarin wie God is so mooi uiteengesit word.
Psalm 95:3Want die Here is 'n grote God, ja, 'n groot Koning bo al die gode.
4In wie se hand die diepste plekke van die aarde is, en die toppe van die berge is syne.
5Aan wie die see behoort wat Hy self gemaak het, en die droë land wat sy hande geformeer het.
6Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die Here wat ons gemaak het.
7Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand…
Hier word ons herinner aan wie God is en wat Hy al reeds by die grondlegging gedoen het. Maar Hy het nie opgehou daar nie. Steeds onderhou Hy die werk van sy hande elke dag. Steeds onderhou en sien Hy om na jou en my elke dag. Ons is sy fokus elke dag.
Dit is soos wat ons man/vrou en kinders elke dag ons fokus is, nog meer so is ons God se fokus, dra Hy ons belange op Sy hart.
Saam met die Psalm wil ek vir julle Jesaja 41:8-20 gee, waar Sy beloftes so pragtig is vir ons.
Ek hou jou vas
8Maar jy, my dienaar, Israel,
Jakob vir wie Ek uitverkies het,
afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet,
9jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het,
van sy uithoeke af geroep het,
vir jou het Ek gesê: Jy is my dienaar,
Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie.
10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.
11Almal wat teen jou te kere gaan,
sal teleurgesteld staan en die aftog blaas.
Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom.
12Jy sal dié soek wat teen jou veg,
maar hulle sal nêrens te vinde wees nie;
dié wat teen jou oorlog maak,
sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie.
13Ek is die Here jou God,
Ek vat jou hand,
Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,
Ék help jou.
14Moenie bang wees nie,
al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob,
al is jy klein, Israel.
Ék help jou, sê die Here jou Verlosser,
die Heilige van Israel.
15Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande;
jy sal berge dors en fynmaal,
jy sal van rante kaf maak.
16Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai,
die stormwind sal hulle verstrooi;
dan sal jy jubel in die Here,
jy sal roem in die Heilige van Israel.
17Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie;
hulle versmag van dors.
Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor,
Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.
18Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring,
en in die laagtes fonteine laat uitborrel.
Ek sal woestyngebied in rietvlei verander,
dor land in fonteinwêreld.
19Ek sal in die woestyn seders laat groei,
doringbome, mirte en olyfbome.
Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei
saam met platane en denne.
20Dan sal die mense sien en erken,
almal sal begryp en insien
dat die Here dit gedoen het,
dat die Heilige van Israel dit geskep het.
Van die opskrif van hierdie gedeelte af, is die boodskap wat ons kry – moet jou nie bekommer nie, ek hou jou vas, niks sal met jou gebeur nie. Die belofte dat ons Vader daar sal wees, wat ook al ons kan toe kom. Nie net sal Hy ons bewaar en dra nie, maar Sy belofte is om ons te laat floreer as ons saam met Hom loop. Slaggate, ja die sal daar wees, maar Hy sal ons vashou, ons dra, ‘n brug bou oor die rivier wat stormend afkom.
Kom ons neem vandag ‘n paar minute en dink terug wat God al vir ons gedoen het in ons leeftyd. As jy so graag skryf soos ek, kan jy dit neerskryf, want dan sal jy die impak wat Hy in jou lewe het nog beter verstaan. Dink aan situasies waardeur Hy jou gedra het. Dink aan wat sou gebeur het as Hy nie daar was vir jou nie.
Daarna vra jouself die vraag – hoekom sal ek vir die toekoms vrees? Wie is daar wat iets aan my kan doen?
Ek sit graag vir julle die link na ‘n baie wonderlike lied hier onder. Luister gerus daarna.
Loop met sekerheid as jy in die spore stap wat God vir jou bepaal het.
© Marsofine Krynauw
https://www.youtube.com/watch?v=PcmqSfr1ENY 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...