Donderdag 08 Junie 2023

Wie wil jy plesier?




Goeiemôre Namakwalaners,
Die dag het aangebreek wat ek op die eerste deel van my avontuur vanaand na Suid-Afrika vertrek. Ek kan net dankbaar wees. Bid saam met my vir guns môre by die Kanadese Ambassade vir my visa. Ek gaan probeer om môre oggend met julle te gesels voor ek vir die afspraak gaan, maar as ek nie kans kry nie, is julle steeds in my hart en gedagtes.
Vanoggend vra ek graag die vraag: Aan wie is jy gehoorsaam? Aan die mense om jou en die wêreld of aan God?
So baie beland ons in situasies in ons huis met ons kinders of ons man/vrou. By die werk met kollegas. Om die braaivleisvuur met vriende waar ons ‘n keuse moet maak vir wie wil ons gelukkig hou deur ons antwoord.
Dit het my laat dink aan jare gelede toe ek nog getroud was. ‘n Paar van ons vriende was vir die aand uit. Ons beland toe by ‘n vier ster hotel hier in ons stad. Tussen die vriende, was vriendinne met hul mans vriende, en een enkellopende man, en natuurlik my man en ek.
Ons geniet toe ‘n drankie in die ‘fansy’ hotel se sitkamer, maar van die mense was al reeds baie gesellig. My man vertel toe baie luidrugtig ‘n vulgêre grap. Ek het opgestaan en weg geloop, die enkellopende man het my gevolg. Die ander het bly sit en gelag dat die plek dreun.
Hoekom het ek weg geloop? Omdat ek gevoel het eerstens is die grap nie geskik om aan dames te vertel nie, tweedens was sy gedrag nie aanvaarbaar nie. Net een persoon het die inbors gehad om teen hom op te staan en te wys dat dit hom nie aanstaan nie, die ander het dalk glad nie saamgestem met sy gedrag nie, maar saam gelag om hom te plesier.
Die gevolge was glad nie aangenaam nie, maar ek is dankbaar dat ek opgestaan en weg geloop het, want baie meer besef ek nou as toe dat ek God moet behaag.
Soms doen of sê mense naby jou dinge wat jy weet teen God se wil is. Bly jy stil om die vrede te bewaar, of staan jy op vir wat reg is om God te behaag?
Wel, kyk wat sê die Woord van God vir ons:
Handelinge 5:29 En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.
Ek dink ons antwoord op vandag se vraag is baie, baie duidelik. So as jy in geselskap is waar iemand iets sê of doen wat met jou gees bots weet jy mos dat dit nie reg is volgens God se wil nie. Jy hoef nie daaroor te baklei nie, net in alle mooigeit die beginsel aan die persoon te verduidelik en seker te maak hulle weet wat hulle doen of wil doen is verkeerd. In ‘n geselskap waar daar kru-taal gebruik word of dinge gesê word wat God nie behaag nie, mag jy opstaan, jouself verskoon en uitloop.
Ek het een aand in Engeland uit ‘n ‘pub’ geloop waarheen ek geneem was deur vriende – die geselskap was vulgêr en nie aanvaarbaar vir my nie. Toe een van hulle my aanvat daaroor, het ek gevra: Het ek op die tafel gestaan, my Bybel uitgehaal en vir julle begin preek? Nee, ek het nie! So ek respekteer julle mening. Hoekom kan julle nie my respekteer as vrou en nie sulke vulgêre geselskap voer nie.
Jy mag dalk nie gewild wees by mense nie, maar dit is nie wat saak maak nie. Dit is hoe God oor jou voel wat saak maak.
©Marsofine Krynauw

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...