Blogargief
-
▼
2023
(215)
-
▼
Julie
(25)
- 'n Enkel doringboom
- Prys die Here, geduring!
- God se liefde is onverganklik
- Winter in haar hart
- Hoe doen jy in moeilike tye?
- 'n Dankbare dansie en deuntjie
- Volmaakte liefde!
- Die lewende Woord vol beloftes
- Hy is jou pad na veiligheid
- Wat is jou verskoning?
- Dit is maklik om gehoorsaam te wees
- Vra vergifnis
- Dankbaarheidsvuur
- Jy is veilig ...
- Het jy 'n plan vir die koue?
- God se beloftes staan!
- My winter dans
- Loof en prys ons getroue Vader.
- Soekend na jou
- 'n Vader waarmee ons kan praat ...
- Getrouheid van ons Heer
- God, ons hoogste goed!
- Manipulasie en gyselaarskap ...
- Woestyn plaas
- Moenie vrees nie!
-
▼
Julie
(25)
Maandag 31 Julie 2023
'n Enkel doringboom
Foto geneem deur Solly Levi
‘n Enkel doringboom
met stam al bros
van die verweer
van son en wind en weer
hier op die vloer
van die pan
met wortels diep geanker
in die dorre aarde se kors
‘n enkele weerbarstig tak
wat net nie
regop soos die ander wou wees
maar sydelings wou beur
nou alleen
en kaal gestroop van blare
tog sy besluit berou
die digte loof
se groen hoof
wys die tekens
van veroudering
waar grysvaal om die slape skif
teen die doek van
die stofnag afge-ets
die boom
laat lyk so eensaam
en verlore
maar tog reusagtig
in sy grootsheid
van uithou teen
die velle stryd
van son en wind en weer
nog altyd triomfanklik
met opgehefte hoof
en groen-grys loof
in lofpsalm na sy Heer
want hier het dit
die stormwinde
van die Namib deurstaan
sy oë styf toegeknyp
teen duinsand wat verblindend
teen sy stam en takke slaan
en as die wind gaan rus
met die sak van die Namibson
die stof soos ‘n tentdoek rus
oor berg, duin en gewelf
het hy nog steeds bly staan
om in die môre
wanneer die Namibson fel
neer brand
sy skaduwee te gooi
as beskutting
van die gemsbok
teen hierdie Namibland.
(c) Marsofine Krynauw

Prys die Here, geduring!
Goeiemôre Vriende,
Hier in Windhoek loop die ysbere weer van laas week se einde
af rond en was dit gisteroggend en vanoggend -6 grade. Tog is ons dankbaar dat
ons warm huise het om te skuil. Ek hoop julle het ons boodskap uit die Woord
gemis.
Vanoggend kan ons net weer die Vader prys vir sy genade en liefde en voorsiening en daar is seker nie ‘n beter Psalm as Psalm 150 wat ons wys hoe nie.
PSALMS 150
Halleluja!
1HALLELUJA! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk
uitspansel!
2Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy
grootheid!
3Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter;
4loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel
en fluit;
5loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!
6 Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!
Deur alles wat in ons lewens gebeur, deur die struikelblokke op ons weg is daar steeds net een ding wat ons kan doen – dit is om ons God-Drie-enig te prys, elke dag soveel as wat ons kan.
My vriende is baie bekommerd oor my traumatiese ondervinding
van ‘n week gelede en vra gereeld of ek nou okei is. Ek is meer as okei, ek is
dankbaar en dit is agter my. As ek terugkyk is ek ons Vader so dankbaar vir hoe
Hy dit laat uitspeel het, dat ek veilig by my huis en in my eie land is.
Waarvoor sal ek toelaat dat dit my lewe verder versuur?
Ek is die meeste dankbaar vir die vrede wat my Vader my gegee het en dat ek elke dag net meer en meer besef hoe geseënd ek is.
Nêrens in die Woord word vir ons belowe dat alles seepglad sal gaan in ons lewens nie. Jesus, ons Koning, se pad op aarde was baie meer vol struikelblokke terwyl Hy hier op aarde gewandel het. Wie is ons dan?
Kom ons los wat agter is agter. Kom ons vergewe. Kom ons vergeet. Kom ons mors nie een sekonde van ons kosbare tyd met negatiewe gedagtes waaraan ons niks kan verander nie. Tyd is mos kosbaar.
Hier het God ons deur nog ‘n maand, bibber-koue, oorstromings en vele meer geneem – hoe kan ons Hom nie prys en loof elke oomblik van die dag nie.
Mooi loop op die Maandag.

Vrydag 21 Julie 2023
God se liefde is onverganklik
Dagsê vriende,
Ek hoor berigte van vreeslike koue in SA, maar hier by ons is dit heel draaglik en ek is dankbaar daarvoor. Hierdie is dalk my laaste oggend groet op ‘n gereelde basis, want ek gaan mos van Maandag af in Kanada rondloop vir ‘n hele maand. Ek sal julle beslis nie vergeet nie, maar ek mag dalk net nie elke oggend die tyd kry om in te loer nie. Ek sal wel van tyd tot tyd inloer en as ek foto’s geneem het dit vir julle opsit om te sien waar ek rondloop. Steeds weet ek dat hierdie wonderlike reis net deur ons God moontlik gemaak is en dat Hy saam met my gaan van die oomblik wat ek in Windhoek opklim totdat ek 34 ure later in Kanada sal afklim. Glo my dit is bietjie verder as Kaap toe of Namibië toe. Ek weet ook dat elkeen van julle se gebede saam met my gaan, dankie daarvoor.
Vanoggend praat ons oor ons Heer se genade en liefde wat oneindig is. Ek kuier nog in die Psalms rond, in die hele woord is ons Vader se genade vir ons opgeteken, maar in die Psalms is dit so tasbaar, so wonderlik vasgevang.
PSALMS 103
Loof die Here, die genadige en barmhartige God!
1 'n PSALM van Dawid.
Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
2Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
3Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
4wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,
5wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.
6Die Here doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.
7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.
8 Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.
10Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
11Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
12So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
13 Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.
14Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
15Die mens — soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy.
16As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
17Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,
18vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.
19Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.
20Loof die Here, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!
21Loof die Here, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!
22 Loof die Here, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die Here, o my siel!
Hoe onmeetbaar is Sy genade en liefde nie vir ons nie? So min as wat ons die omvang van die heelal met alles wat elke dag daarin gebeur kan peil, so min sal ons ooit ons God se liefde vir ons kan peil of Sy Almag kan peil.
Tog is die die Vader wat ons elke dag behandel asof Hy ons iets skuld. Gaan sit en dink bietjie hoeveel mense daar op die aarde is, dat God elke sekonde van elke dag presies weet wat in elkeen se hart aangaan. Dan dink jy verder watter wonderlike prosesse elke dag in die natuur plaas vind, dit is Sy werk alleen – die saadjie wat ontkiem, die boom wat bod, die vruggie wat begin ontwikkel, die diere wat bevrug is en lewe wat begin ontstaan, die ys in Antarktika, die diere wat daar oorleef, so sal ek vir dae en weke kan aangaan – dit is hoe Magtig ons God is. Wie is ons dat ons Hom so sleg kan behandel? Hom nie die respek en lofprysing en aanbidding gee wat Hom deur en deur en deur toekom nie.
Hierdie Psalm is vol van Sy beloftes, vol van Sy liefde. Lees dit ‘n paar keer en dink oor wie jy vir God is en wie God vir jou is. Die skaal hel heel oor na God se kant toe, want ons verbeel ons ons kan met die Magtige Skepper van hemel en aarde maak soos ons wil.
N E E! Is dit nie tyd dat ons Sy oneindige, onverganklike liefde moet begin beantwoord nie my vriende? Is dit nie tyd dat ons moet ophou om net bakhand te staan vir voorsiening, vir gesondheid, vir guns, vir geluk, vir vrede vir elke moontlike ding, en daarna nog steeds die wêreld te gaan plesier nie?
Ten spyte van ons ontrou is die belofte steeds daar: 17Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees …
Gun Hy ons steeds ‘n kans om dit reg te stel en Hom die fokus van ons lewens te maak in alles wat ons doen, is en besluit.
Mooi loop.

Donderdag 20 Julie 2023
Winter in haar hart
sy sien die vlamme
voel hoe die hitte
haar gesig soen
steeds
hoekom is haar hart
so ontsettend koud
haar oog vang
die dieprooi vog in die glas
onaangeraak
is dit die bottel se pasmaat
hoekom bereik die hitte
nie haar hart
hoekom voel dit so swaar
en koud
so leweloos
so skielik broos
dis mense hand
wat haar hart so koud laat
mense se hand
wat al die lewe
daaruit tap
met beloftes
wat so maklik
gegooi word in die wind
beloftes
wat opgewondenheid bring
net om
die lewe uit harte te wring
die warm vreugde vuur te blus
die enigste vlamme
die is wat drome
tot as verbrand
waar is die omgee
vir bloed van jou bloed
waar is die terugstaan
dat die son
ook op jou eie bloed kan skyn
net die snerpende yswind
wat drome soos yskristalle
uitmekaar laat spat
neer hel en smelt
tot niks …
nie die wyn
in die bottel of die glas
sal die vuur
kan laat brand
in haar binneste
waar drome lê soos as
haar hart
gevries en teleurgesteld
sidder en beef
van die artiese wind
van afguns
van eie belang
van eie ek
wat deur haar gewaai het
alles gevries agter gelos het
sy staar na die vuur
maar in hierdie uur
kan sy skaars die
winter in haar hart verduur.

Hoe doen jy in moeilike tye?
Goeiemôre vriende,
Hier is dit ‘n stil, koel oggend – heel draaglik vir ‘n wintersoggend. Ek kla glad nie, ek hou van somer. Hoe gelukkig is ek nie dat ek komende Maandag op pad is na ‘n deel in die wêreld waar dit nou somer is, Kanada. Ek het uiteindelik my visa gekry en is op pad vir ‘n hele maand. Ek belowe ek sal julle nie vergeet nie, ek sal so nou en dan inloer. Julle moet my mos ook bietjie verlang, of hoe?
Vanoggend luister ek na Pastoor Rynier Nolan wat steeds besig is met Psalm 119.
Vanoggend is die vraag: Hoe vaar jy in moeilike tye, of soos die Woord dit noem verdrukking?
Is jy ongelukkig en bevraagteken jy God se liefde vir jou en sy goedheid en genade? Mor en kla jy die hele tyd?
Of bly jy positief en naby God. Staan jy vas op Sy beloftes dat Hy jou nie alleen sal laat nie. Dat Hy op die regte tyd uitkoms sal gee van die siekte, van die droogte, van die finansies wat vreeslik knyp, van wat ook al wat jou verdrukking mag wees.
Dawid het ‘n heel ander uitkyk op verdrukking gehad en ons weet reeds dat hy sy goeie deel en meer as enigeen van ons daarvan gehad het. Sy uitdagings was doodsgevaar meer as een maal. Tog kom hy in Psalm 119 vers 72 en sê die volgende:
Psalm 119:71 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
Lig jy jou wenkbrou? Dink jy hy is van lotjie getik? Wie sal nou bly wees oor verdrukking en beproewing? Of weet jy dat God in Sy woord ons vertel dat alles nie net maanskyn en rose in ons lewens sal wees as ons Hom gekies het nie.
Die vyande is ‘n baie listige kalant, ook is ons eie keuses soms ons grootste vyand. Daarom sal ons vind dat God soms die verdrukking oplos deur gesond te maak, deur uitkoms te gee. En soms dra hy jou net daardeur om jou te laat groei, om jou iets daaruit te laat leer, dat Sy naam verheerlik kan word.
Ons leer niks as die met ons goed gaan nie, ons is soms so verwaand om ons self aan te matig dat ons dit verdien. Wanneer dit moeilik gaan, ja dan leer ons.
Paulus het dieselfde uitkyk gehad.
ROMEINE 5:3-4 AFR53
En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop.
Almal van ons is deur ons ouers of groot ouers gemaan oor dinge wat ons nie moet doen nie, want dit sal ons in die moeilikheid bring. Selfs ons het ons kinders gemaan teen sulke ding. Tog het ons en so ook ons kinders steeds van daardie dinge gedoen en ons het ons vingers verbrand. Want niemand leer uit iemand anders se foute nie, ons wil self.
Dit is hoekom dit so belangrik is dat wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan jy naby God sal bly en Hom sal vra wat die les is wat jy uit jou omstandighede moet leer. As jy die les een maal geleer het, sal jy nie self weer daardie fout begaan nie.
In Matriek het ek wat ons geken het as ‘n Autograph boeke skool toe geneem vir my maats om elkeen ‘n boodskappie of versie daarin te skryf wat ek kon saam neem deur die lewe. Een van daardie versies wat een van my skool maats geskryf het lui so:
Don’t let your troubles
Be stumbeling blocks
Let them be your
Stepping stones.
Dit is vir my so in die kol met wat Dawid en Paulus ons wil leer vandag.

Woensdag 19 Julie 2023
'n Dankbare dansie en deuntjie
Die guns van my Vader
het knus om my hart
kom lê
my kom verstom
kom verras
kom los met ‘n dankbare hart
niks anders wil ek doen
as dankie sê
my vreugde is so groot
dankie skiet net heel tekort
ek dink ‘n deuntjie en ‘n dansie
is baie meer gepas
uit pure vreugde
wil ek die maan vang
dit sommer hier
teen my kamermuur hang
op die klawers
‘n deuntjie dans
terwyl die sterre
in die winter kou
my vreugdesdans aanskou
vrolik knipoog
dat my danklied
hul betaam
ek plea en pirroette
en strek my arm na bo
want is vanwaar
my vreugde kom…
saam met die klanke
sluit ek my oë
en hef my stem
in ‘n loflied
aan die Een
wat ritme van my dans
en die wysie van my loflied
in liefde oor my uitgestort het
voel ek Sy liefde oor my reën
soos die flonkerende sterre
aan die hemeltrans
gaan my voete aan
met hul dankbare dans.
© Marsofine Krynauw

Dinsdag 18 Julie 2023
Volmaakte liefde!
Dagsê vriende,
Die dag het weereens met ‘n helder sonskyn glimlag gebreek in Windhoek. Die windjie wil ook graag buite speel in die sonnetjie, en roer die blaartjies bietjie. Wat ‘n voorreg om dit te kan sien.
Kom ons gesels bietjie vanoggend oor hoekom jy sê jy God lief het.
Elkeen van ons sal ‘n ander lysie kan neerskryf of opnoem hoekom ons God ons Vader lief het. Die een sal noem dat God nog altyd voorsien het, die ander sal noem dat God hom of haar nog altyd deur moeilike tye gedra het, die ander sal dalk noem dat God hom of haar uit ‘n verslawing gered het.
Tog is dit glad nie die wortel van ons liefde vir ons Vader nie. In 1 Johannes 4 word dit so mooi uiteengesit.
1 Johannes 4: God is liefde. Om God lief te hê en die broeders lief te hê.
7GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
8 Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.
9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
10Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.
12 Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.
13Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.
14En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.
15 Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God.
16En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
17Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
18Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.
20 As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
21En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.
Eintlik is dit baie, baie eenvouding en bo menslik wonderlik. Die Almagtige Skepper van die heelal, die Een wat was, is en altyd sal wees het voor die begin van tyd gekies om jou en my lief te hê. Hy het nie net dit gekies nie, Hy het dit aan ons bewys deur Jesus, ons Verlosser en Sy geliefde Seun aan die kruis te laat sterf vir ons sondes, omdat Hy nie wil hê ons moet sterf nie.
Sit vir ‘n paar oomblikke stil en dink hieroor …
Is dit dan nie rede om ons Vader te loof en te prys elke dag heel dag nie? Kyk na die Psalmdigter in Psalm 100.
PSALMS 100
'n Oproep om God te prys.
1 'n PSALM. By die lofoffer.
Juig voor die Here, o ganse aarde!
2Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.
3Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.
4Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
5Want die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.
So baie meet ons hoe lief ons ons Vader het aan ons omstandighede. As dit nie goed gaan nie, as ons nie kry waarvoor ons vra nie, dan het ons Hom minder lief. Is dit nie baie soos ‘n bedorwe kind nie? As hy of sy nie hul sin kry nie, dan kry hulle stilstuipe, sit net in hul kamers en sulk. God se liefde vir ons is nie so nie, Hy het ons liefgehad voor ons besluit het om Jesus se offer aan te neem, en het ons steeds innig lief.
Vandag en elke dag neem net ‘n paar minute om te dink aan hoe lief God vir jou is en hoe ‘n groot wonder dit is. Deel dan hierdie liefde wat jy so onvoorwaardelik ontvang uit aan jou geliefdes, vriende en medemense.
En onthou: 5Want die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.
Mooi loop.

Die lewende Woord vol beloftes
Goeiemôre vriende,
Lekker wintersoggend in Windhoek, nog wind-stil, nie te koud nie, en alles is wel. Ek is in die wolke want ek het gister gehoor my visa vir Kanada is klaar – dit binne ‘n dag en ‘n half. As dit nie God se guns is nie, is daar geen ander verklaring voor nie. Ons Vader is goed, altyd, altyd!
Ons Vader werk altyd met wonderlike maniere. Albei die pastore waarna ek luister se boodskappe is vanoggend oor die belangrike rol wat die Woord in ons lewens behoort te speel. Ek slaan my daaglikse Bybelstudie oop en dit is die wonderlike bemoedigende Psalm 91 wat ons almal sekerlik ken. Net gisteraand voor ek aan die slaap raak onthou ek die vers in die Bybel wat ons herinner dat ons ons nie moet bekommer nie, omdat ons nie een el by ons lengte kan voeg daardeur nie, maar ons moet aan ons Vader oorgee en Hom ten volle vertrou.
Dus vanoggend gesels ons oor die Woord se plek in ons lewens en hoe God ons belowe in sy Woord dat Hy ons nooit sal los as ons sy kinders is nie.
Kom ons kyk na Psalm 119:9-12
Psalm 119:9
9Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
10Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.
11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
12Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge!
Dit is ‘n ernstige saak, die psalmdigter noem dat hy die woord van God in sy hart gebêre het. Ons het allerhande verskoning om dit net te lees. En die een dat jy nie die Bybel verstaan nie, is nie geldig nie, want dit beteken net dat jy jou nie laat lei deur die Heilige Gees nie. Dat jy nie tyd maak om dit oor en oor te lees en die boodskap daarin te sien nie.
God se woord is so kragtig dat toe Moses gedurende die trek uit Egipte met God in die tabernakel gaan praat het, die stem tussen die twee engele (gerubs) op die versoendeksel gekom het. Hierdie engele was in aanbidding oor God se stem. Ons moet respek hê vir God se woord! Tog redeneer so baie mense deesdae of dit die waarheid is, of dit nog van toepassing is en vele ander nonsens. Wie is ons? Het ons werklik so verwaand en so selfgesentreerd geword dat ons glo ons is bo God?
Lees gerus hier onder Numeri 7:89:
Numeri 7: 89 Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.
Wanneer wil ons soos die psalmdigter God se woord begin lees, en lees en lees en Sy beloftes, sy teregwysing, sy liefde en sy genade in ons harte bêre.
Nou kom ek by Psalm 91. ‘n Kosbare stuk woord waarin God se beloftes vir ons so ryk en mildelik is.
PSALMS 91
In die beskerming van die Allerhoogste.
1HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
2Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.
3Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.
4Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.
5Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,
6vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!
7Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.
8Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.
9Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
10Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.
12Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.
13Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
14Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
15Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
16 Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
Waar is die skuilplek van die Almagtige? Dit is in Sy woord, waar jy sy hart lees, sy karakter leer ken en nie anders kan as om te streef daarna om Hom te behaag vir sy wonderlike liefde, genade en voorsiening nie.
Habakuk 3: 16Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons 'n aanval maak.
17Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie —
18nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.
19Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.
As ons in God se woord bly, dit lees, Sy beloftes elke dag hoor, sal dit maklik wees om soos Habakuk te kan sê.
In Matteus 6 kom verseker God ons weereens dat ons ons nie moet kwel nie, en dit is hier waar ek toe die vers wat ek gisteraand so in die donker by myself aangehaal het sonder om te weet waar in die woord dit staan, vind.
Matteus 6: 25 Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?
26Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
27Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
28En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie;
29en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.
30As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?
31Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?
32Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.
33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
34Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
Die sleutel om die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan oop te sluit lê in ons hande, in Sy woord. Ons sit met die sleutel, en gooi dit elke dag rond van die een plek na die ander, maar ons gebruik dit nie, respekteer dit nie, lewe dit nie.
Wie van ons wil nie vrede hê nie? Wie van ons wil nie gemoedsrus hê oor die toekoms nie?
Ek glo die antwoord is almal van ons. Neem jou Bybel – die lewende woord van God- vandag nog en vir altyd. Neem Sy beloftes, want hulle is ook vir jou en my, vertrou Hom onvoorwaardelik. Hoe anders sal dit kan wees as dat jy Sy vrede ervaar.
Vrede vir julle vandag en elke dag.

Maandag 17 Julie 2023
Hy is jou pad na veiligheid
Tart die koue jou
is dit asof hy jou
net stywer en stywer vashou
asof dit nie net die winter is
wat die hitte uit jou lyf wil wurg
maar die lewe wat gebeur
en jy wat opdraande
al opdraande voort beur
jou kragte wat taan
die kar wat wil gaan staan
die koskas wat leeg staan
en die koue bly wurg
die lewe uit jou lyf
tog voel jy hoe die son
deur dit alles veg
om jou lewelose lyf
weer warm en vol lewe
te streel met sy goue strale
sien jy die goue draad
fyn geweef deur jou donker
dag
gryp jy na die ragfyn draad
vind dat dit sterke is
as wat jy wis
deur die koue, grys en grou
vind jy nog die guns
van ‘n Vader wat jou styf
styf vas hou
al gaan die kar ook staan
al is die koskas ook leeg
al weet jy nie wat môre
se uitdagings sal wees
weet jy vir seker
dat jou Vader jou nie sal los
dat die fyn goue draad
wat Hy vir jou stuur
jou sal hou
hou tot Hy uitkoms stuur
daarom dank jy Hom nou al
wat in jou donker
is Hy die Lig
in jou uitdaging
jou uitkoms
in jou grondpad ure
jou afdraai pad
wat jou reguit
na Hom sal vat.
©Marsofine Krynauw

Wat is jou verskoning?
Vriende, die koue het darem so bietjie skiet gegee en ons het ‘n heerlike sonskyn naweek in Windhoek gehad. Julie is al weer oor sy helfte en besig om vinnig uit te loop. Ek kla nie, want dit beteken die mooiste, mooiste seisoen is op pad, Lente.
Vanoggend lees ek Psalm 84 en dit is so verfrissend en bemoedigend. In hierdie tyd in die wêreld gaan mense al hoe minder kerk toe. Dit is wel so dat kerk nie ‘n gebou is nie, maar dat ons as die kinders van God sy kerk is, tog gee Hy ons in sy woord opdrag om bymekaar te kom, saam te aanbid, saam sy naam groot te maak, saam te luister na sy word.
Ek het net dankbaarheid in my hart vir die gemeenskap van gelowiges waarby ek ingeskakel is. Daar is nie meer by my ‘n vraag: Moet ek vanoggend kerk toe gaan? Daar is net ‘n antwoord: Ek gaan graag elke Sondag kerk toe.
Hoekom?
Omdat dit is waar ek met medegelowiges kan saam die Vader prys en loof deur sang. Omdat dit is waar ek die woord kan hoor wat die Gees op die pastoor se hart gelê het. Kan sien waar ek kan verbeter of ‘n woord kry wat ek aan ander weer kan uitdra om hulle te bemoedig. Omdat dit is waar ek veilig en tuis voel.
Ek hoor ‘n klomp mense brom. Ek verstaan jou gebrom, ek was ook eens in ‘n gemeente waar ek nie tuis gevoel het nie. Wie se skuld was dit? Myne!
Brom jy nou nog harder? Wel, sien, wanneer ons kerk toe gaan om die dominee of pastoor of mense te plesier, sal dit so wees dat daar grenslose dinge is wat ons irriteer in die kerk.
‘Jy weet so en so sit voor in die kerk, maar die ou vrek slaan sy vrou en bly dronk in die week. Dit is hoekom ek nie kerk toe gaan nie!’
Ek het vir jou slegte nuus – ons Vader gaan hom nie aan jou pleidooi steur nie, want jou motief is verkeerd. Die dag wat ek begin kerk toe gaan het omdat ek nog tyd met God wil spandeer, omdat ek die Heilige Gees nog meer wil ervaar, omdat ek my Vader wil prys met my lofliedere, het die irritasies opgehou. Ek is nie daar vir die pastoor of die mense nie. Ek is daar vir God. En nee as jy alleen by jou huis sit sal jy nie die Vader so voluit kan prys met jou lofsange soos as jy saam met ander dit doen nie. Die woord praat van ons lofliedere wat vir God ‘n lieflike geur is.
PSALMS 84
Hoe lief het ek u woning, Here
1Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. 'n Psalm.
2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!
3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.
4Selfs 'n mossie het 'n nes
en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies
daar by u altare, Here, Almagtige,
my Koning en my God!
5Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is:
hulle hou nie op om U te prys nie.
Sela
6Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind
en graag na u tempel toe gaan.
7Vir hulle gaan daar fonteine oop
wanneer hulle deur 'n dorre laagte trek
en die vroeë reëns sy seëninge bring.
8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag
totdat hulle voor God in Sion verskyn.
9Here, almagtige God, hoor my gebed,
luister tog, God van Jakob!
Sela
10Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God;
hou u gesalfde onder u sorg.
11Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.
Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God
as om te woon in huise sonder God.
12Die Here God is ons krag en ons beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
13Here, Almagtige,
dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!
Wat ‘n pragtige psalm is dit nie. Duidelik dat ons nie net alleen kan aanbid nie, maar saam met ander God moet loof en prys. Dit is vir my so besonder mooi as die psalmdigter in vers 11 sê: 11Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.
Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God
as om te woon in huise sonder God.
Dit is ‘n vers waarmee ek groot geword het, my tante het dit baie aangehaal. Vandag verstaan ek dit, voel ek ook so daaroor. Wanneer ons ophou om dinge te doen omdat dit mense behaag en ons fokus op God plaas, verander alles. Weereens hoef ons dit nie in ons eie krag te doen nie, ons vra Hom vir hulp, ons vra Hom om daardie brandende begeerte in ons hart te lê. Om ons oë blind te maak vir die ander mense in die kerk se foute en motiewe en doen en later, want my vriende eendag gaan ons nie voor ons Vader kan staan en Hom vertel wat ander verkeerd gedoen het wat ons verhinder het om reg te doen nie. Ons gaan net vir onsself moet verantwoording doen.
My oorlede skoonma het altyd vir my kindertjies toe hulle nog klein was en as een van hulle aan die etenstafel gekla het oor die ander se doen en later geantwoord: ‘My liefie, kyk net na jouself, moet jou nie bekommer oor wat ander verkeerd doen nie, dit is hulle probleem.’
Vandag wil ek julle bemoedig, as jy toe laat dat ander se doen en late jou weg hou uit die samekoms waar God se woord verkondig word, verander jou uitkyk, en fokus jy op God. Daardie persoon/persone sal self eendag moet verantwoording doen vir wat ook al.
Mooi loop.

Vrydag 14 Julie 2023
Dit is maklik om gehoorsaam te wees
Dagsê Vriende,
Die ysbere het hier by ons bietjie gaan rus, en dit is draagbaar. Daarvoor is ek dankbaar, want ai, ai, die koue is maar nie vir my lekker nie. Dit is sowaar al weer naweek, en daar is baie wat beslis baie bly is daaroor, want ‘n week het die manier om soms net te lank te word.
Die laaste tyd het ons baie in ons gemeente, maar ook in ons Bybelstudie groep gekyk na hoe hoor ons God se stem, wat moet ons doen om te sorg dat ons harte rein is en bly.
Vanoggend luister ek weer na oordenkings, en dit val my op dat die tema daarvan dieselfde is. Die besef kom tot my dat dit is omdat ons in die laaste dae leef. Nou moet ek dadelik ook sê, as ons van die laaste dae praat moet ons asseblief onthou dat God se tyd en ons tyd nie dieselfde is nie. Dat as ons van dae praat dink ons aan oor ‘n week, of maand of miskien op die uiterste ‘n jaar. Dit is nie so in God se geval nie. Hoekom nie? Omdat Sy begeerte steeds is dat alle mense gered moet word. Sy liefde vir ons is oneindig. Kyk bietjie na Psalm 117, die kortste Psalm.
PSALMS 117
Loof die Here, alle nasies.
1 LOOF die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!
2Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die Here is tot in ewigheid. Halleluja!
Nou hoe, vra baie van ons nog steeds moet ek God se stem hoor? Die maklike antwoord is, die Woord van God is God se stem. Dit is deur Hom geinspireer as handleiding vir ons sy kinders. Hoe moet ons weer om te leef, hoe moet ons weet met wie om te trou, hoe moet ons weet om met ons geliefdes en vriende om te gaan, hoe moet ons weet om ons kinders op te voed, en nog baie meer – dit liewe vriende is ALLES in hierdie Handleiding wat God vir ons agtergelaat het. As ons maar net dit wil optel en lees en Hom wil leer ken en al sy raad wat Hy daarin gee wil neem.
In Deuteronomium 28 word ons geleer wat om te doen as ons God se seën wil ontvang. En baie sal nou vir my vertel maar dit is moeilik. Nee, dit is nie. Wat as jy iemand liefhet en respekteer wil jy mos daardie persoon behaag. Wil jy mos alles doen wat vir daardie persoon belangrik is en hul gelukkig maak. Hoekom sal jy dit nie wil doen vir die Een wat jou geskape het, wat die hare op jou hoof getel het, wat jou liefhet, wat jou dra, wat jou guns gee, wat jou elke liewe dag van jou lewe wakker maak, nie.
Hoe meer tyd jy met jou vrou of man deurbring hoe beter leer jy hulle ken. Dit is presies dieselfde met God, hoe meer jy Sy woord lees, en Hom daardeur leer ken, sy hart daardeur leer ken, hoe beter sal jy sy hart leer ken.
Egpare ken mekaar later so goed dat hulle soms niks hoef te sê nie, en die ander een sal deur na hulle te kyk reeds weet wat hulle dink of wil gedoen hê. Hoekom kan ons nie ons Vader ook so leer ken nie, dat ons net sal weet presies wat hy van ons verwag nie.
Verstaan ons werklik wat ‘n oneindige voorreg dit is om ‘n kind van die Allerhoogste, Magtige, Sowereine God te wees. Verstaan ons regtig Sy Almag, Liefde en Genade vir ons en dat as ons nie ophou om te sondig en nie vergifnis vra, dit Sy hart breek nie.
Lees bietjie hier die duidelike instruksies, en dit kom ook in die Nuwe Testament op ‘n hele paar plekke voor.
DEUTERONOMIUM 28
Seëninge en strawwe
1“As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.
2“As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.
3“Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.
4“Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.
5“Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.
6“Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.
7“Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.
8“Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.
9“As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met 'n eed aan jou beloof het.
10“Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal bang wees vir jou. 11Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met 'n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee. 12Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.
As jy verder in hierdie hoofstuk sou lees, sal jy sien dat God sonde haat, en nie ongestraf sal laat bly nie. Hy het ons reeds genade gegee deur Jesus, maar as ons sondig moet ons vergifnis vra, so ons kan nie net links en regs sondig en glo dit is reg nie.
Daar is net een oplossing, en die is ook in die woord opgeteken in Psalm 119.
PSALMS 119:9 AFR53
Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
Hierdie glo ek is ‘n vers wat ons almal al van kindsbeen af ken.
Hoe hoor jy God se stem? Deur Sy Woord te lees, deur daardie stemmetjie wat vir jou vertel jy moet nie so of sus doen nie. Deur ‘n vriend of vriendin wat jou bel uit die bloute en iets sê wat jy al lank ‘n antwoord voor soek maar nog met niemand bespreek het nie. En daar is die antwoord voor jou.
Ons dien ‘n wonderlike, almagtige, genadige, regverdige, en liefdevolle God. Luister na daardie stemmetjie en lees Sy woord om Hom so goed te leer ken as wat jy jou anderhelfte ken.
Mooi loop.

Donderdag 13 Julie 2023
Vra vergifnis
Goeiemôre vriende,
Die windjie wil ons maar nie los nie, gelukkig kan ek deur my venster daarna kyk en nie hoef nie die koue vingers daarvan te trotseer nie.
Vanoggend lees ek Psalm 51 – die psalm wat Dawid geskryf het om voor God boete te doen vir sy sonde om met Bátseba owerspel te pleeg. Ek plaas die hele psalm hier, want ek wil hê ons moet kyk na hoe hy voor God gepleit en aanhoudend sy sonde bely en gesmeek het dat God nie die Heilige Gees van hom moet wegneem nie.
Dan dink ek aan my eie lewe, want ek kan net van my eie lewe getuig – wanneer ek gesondig het of steeds sondig, is dit hoe ek voor God boete doen? Of vergeet ek net daarvan en hoop God vergeet ook daarvan. Of rammel ek net so vinnig af ‘Vader vergewe my’. Dit is nie meer die geval nie, maar vir baie lank was dit hoe ek dit gedoen het. Is dit net ek?
Ek glo nie ek is alleen in hierdie oortreding nie. Dit is altyd so maklik om te sondig, om ons te laat intrek in die dinge van die wêreld, maar glad nie so maklik om ons foute voor God te erken en bely en boete te doen nie. Miskien is dit omdat ons steeds in ons dwaasheid glo dat as niemand daarvan weet nie, is dit mos reg. Vergeet ons steeds dat God daarvan geweet het toe jy nog besig was om dit te doen. En dat Hy sonde haat – enige sonde! Of dit nou soos in Dawid se geval owerspel is, of dit nou vuiltaal is, of dit nou skinder is, of dit nou moord is, of bedrog – sonde my liewe vriende is sonde. Ons Vader verdra nie sonde nie, punt en amen.
Lees bietjie hoe ‘n ernstige saak is dit om voor God boete te doen as jy sondig – en glo my ons sondig elke dag of dit nou bewustelik of onbewustelik is.
PSALMS 51
'n Boetelied van Dawid.
1VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid,
2 toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het.
3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
5Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
7Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
8Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
10Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
11Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
12Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
13Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
14Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
15Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
16Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
17Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
18Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
19Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
20 Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
21Dan sal U 'n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.
Is dit nie tyd dat ons tyd maak om voor God boete te doen vir ons sonde nie? Te gaan sit in jou bakkie daar in die veld waar niemand jou hoor of sien nie, in die veld in te loop daar waar dit net God en jy is, of een of ander plek te vind waar niemand jou sal steur nie, en net dit wat jy weet jy gesondig het voor God neer te lê en Hom te smeek vir Sy vergifnis nie. Hy belowe telkens in sy woord dat as ons ons sondes bely Hy genadig sal wees om ons te vergewe.
Die teendeel is ook waar, as ons nie ons sondes wil erken nie, nie dit voor God wil bely nie, sweer dit in ons binneste en ons raak nooit gesond nie, daar is altyd ‘n blokkasie tussen God en ons. Hy kan ons tog nie vergewe waarvoor ons nie vergifnis gevra het nie.
Jok kan ons in elke geval nie vir Hom nie, hoekom sal ons nie van Sy uitnodiging gebruik maak om by Hom te sit en ons harte leeg te maak van al die dinge wat onrein is en tussen Hom en ons staan nie. Ons almal weet hoe lekker ons voel as ons verkeerd opgetree het teen ‘n geliefde en grootmoedig genoeg was om vergifnis te vra en te ontvang. Hoe goed gaan ons nie voel as ons ontslae raak van al die dinge wat tussen ons en God staan nie?
Hou op jouself mislei dat jy nie sonde het nie, bely jou sonde voor jou Vader wat jou nie oordeel nie en vra vir sy vergifnis en genade om dit nie weer te doen nie.
© Marsofine Krynauw

Woensdag 12 Julie 2023
Dankbaarheidsvuur
Die winter is besig
om jou vel te verniel
alles te vries
tot binne in jou siel
dit voel of
die berge sneeu
jou gaan versmoor
van jou veggees
is daar weinig oor
die jas in die kas
wil nie meer pas
die stewels se sole
is deur geloop
geld is daar nie
om ander te koop
want winter het
al jou proviand
leeg getap
so waarheen sal jy
loop
in hierdie koue seisoen
sonder ‘n jas
om jou teen verkluiming te keer
of stewels om jou tred vas te maak …
bly maar net hier
veilig in die beskerming
van jou huis
want iewers is dit somer
iewers sit ‘n dromer
en droom oor winterkou
‘n kaggelvuur
en yskristalle wat aan die vensters hang
draai jy net jou gedagtes om
pak die vuur
steek dit aan
staar in die oranje geel vlamme
voel die hitte
die winter verdryf
die in jou lyf
maar meer nog
die in jou inner wese
stook jou gedagte gang
tel elke kriesel genade
wat nie eers die winter kon dood
dan skielik voel jy
die sagte roering in jou siel
jou liggaam, siel en gees warm
met die vrede
wat soos ‘n kombers
oor jou val
jou oordek
veilig en warm
in die aroma
van dankbaarheid
‘n glimlag breek
oor jou gesig
wat flus nog gevries was
by die wete
dat is is die winter
ongenaakbaar koud
God somer in jou hart sal plaas
as jou dankbaarheidsvuur bly brand.
© Marsofine Krynauw

Jy is veilig ...
Goeiemôre vriende,
Hoop almal van julle is veilig en warm. Laat ons elke dag in dankbaarheid uitstap, of dit warm of koud is. Ons moet mos die minder goeie saam met die goeie kan vat, hoe anders as Jesus alleen die kruistog moes doen om vir ons versoening te bewerk.
Terwyl dit so koud, en nat is. Terwyl dit moeilik is om jou dagtaak te verrig as die yswinde jou wil weg waai hier in die winter, is dit maklik om swaarmoedig te word.
Nie net in die winter is dit egter moontlik om swaar moedig en moedeloos te word nie, want ons leef in ‘n tyd waar mense daagliks geliefdes aan die dood afstaan, moet toekyk hoe ‘n geliefde aan kanker weg kwyn voor hul oë, en nog baie, baie ander struikelblokke en uitdagings op ons pad.
Dit was nie anders in koning Dawid se tyd nie, al was hy ‘n man na God se hart. Al het God hom al as jong seun guns gegee om die grootste reus, Goliat, te verslaan. Terwyl hy deur die Filistyne gevange geneem is in Gat skryf hy Psalm 56.
Nêrens in die Woord van God wat hy vir ons as handleiding agter gelaat het, is daar ‘n belofte dat dit altyd goed sal gaan met ons nie. Nie met een van die groot godsmanne het dit net goed gegaan nie. Geen plek is ook aangeteken dat hierdie manne net altyd die regte ding gedoen het, of die regte besluite gemaak het nie.
Wat wel baie duidelik vir ons opgeteken is, is dat hulle altyd nadat hulle gesondig het, dadelik besef het hulle het droog gemaak, en onmiddellik na ons Vader gegaan het om dit te bely en Hom te vra vir hulp. Te besef dat hulle algeheel afhanklik is van sy liefde, genade en trou.
Wat ook al vandag jou ‘winter’ is, jou ‘yswind’ is wat jou vel en lewe probeer verniel, kom ons staan vas soos Dawid en weet en bely:
Psalm 56:4 Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
5Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?
Ja, ons vrees soms, want ons is nie volmaakte wesens nie, solank ons net weet dat die enigste Een wat ons na toe kan gaan en moet gaan in hierdie tyd en altyd ons Vader is.
Beveg vandag die reuse in jou lewe, en op jou lewenspad met algehele oorgawe aan ons Vader. Hy het al die antwoorde en hy het die hele arsenaal om jou oorlog vir jou te wen.
Ek deel graag die liedjie onder met julle, want dit verwoord dit net so wonderlik.
© Marsofine Krynauw
https://www.youtube.com/watch?v=w_FeUu_FSA0

Dinsdag 11 Julie 2023
Het jy 'n plan vir die koue?
Nee! Gelukkig het ek vir jou 'n plan ...
Al wat jy nodig het is, 'n KAGGELVUUR, 'n GLAS ROOIWYN en 'n BOEK!
Nie enige boek nie ... nee, een van my speurverhale is die ideale lees stof, om jou daar voor die kaggelvuur, met jou glas rooiwyn net langs jou vir as die keel droog raak van die spanning, en een van hierdie boeke, warm en op die punt van jou stoel te hou.
Ek belowe jou, koud sal jy nie kry nie. Jy sal soms warm onder die kraag wees, soms angstig, soms hoopvol, soms sommer net lus om die karakter se nek om te draai - maar verveeld en koud, sal jy nie wees nie.
Gaan kyk gerus op Malherbe Uitgewers se webblad: www.malherbe-uitgewers.co.za en bestel in sagteband, kindle of e-boek formaat.
As jy dalk buite Suid-Afrika woon, is alles nie verlore vir jou nie, dan gaan jy net na Amazon: amazon.com/author/marsofine-krynauw_books-1961
of as jy in Amerika woon na Barnes & Noble - https://www.barnesandnoble.com/s/Marsofine%20Krynauw
Gaan loer gerus en hou jouself warm of ontspan net heerlik met een van my boeke.
Baie dankie vir die ondersteuning, ek waardeer dit opreg. Terugvoer sal waardeer word. Doen gerus 'n 'review' op Amazon as jy van daar bestel, dit is hoe ek groei deur die terugvoer van my lesers.

God se beloftes staan!
Dagsê Vriende,
Die koue en wind maak ‘n mens traag, veral as daar niks is wat jou jaag nie soos vir my. My dae begin later as ander s’n en eindig ook baie later as ander s’n, want as die woorde loop dan loop hulle oop.
Verder is die winter oral, in Windhoek en elders bibber koud, in Swakop, Hentiesbaai, Sossusvlei en die res van die woestyn is die wind besig om die duine te skuif, die mense kan fisies nie hulle hande voor hulle sien nie, so waai die sand. Tog sit ons almal in ‘n warm huis of voertuig om dit alles te aanskou – dankbaar is al wat ons kan wees.
Vanoggend gesels Pastoor Rynier Nolan oor Psalm 114.
PSALMS 114
Die wonder van die uittog.
1TOE Israel uit Egipte getrek het, die huis van Jakob uit 'n volk met 'n vreemde taal,
2het Juda sy heiligdom geword, Israel sy ryksgebied.
3 Die see het dit gesien en gevlug; die Jordaan het agteruitgewyk.
4 Die berge het rondgespring soos ramme, die heuwels soos lammers.
5 Wat is dit met jou, o see, dat jy vlug? o Jordaan, dat jy agteruitwyk?
6 o Berge, dat julle rondspring soos ramme? o Heuwels, soos lammers?
7Beef, aarde, voor die aangesig van die Here, voor die aangesig van die God van Jakob,
8wat die rots verander het in 'n waterplas, die keisteen in 'n waterfontein!
In hierdie psalm word ons herinner aan God se grootheid en hoe kragtig Hy saam met Isreal uitgetrek het uit Egipte. God het sy belofte gestand gedoen na baie jare, en hierdie belofte het vas gestaan en het Hy uitgevoer. Hy het die see laat ooptrek, die Jordaan laat terug trek, die heuwels en berge laat rondspring om sy belofte aan sy volk te laat waar word.
So ook het God vir ons as sy kinders beloftes gegee. Hierdie moet ons troos wees dat God niks, maar niks in sy pad sal laat staan as Hy sy beloftes aan ons wil waar maak. Hy sal selfs die see laat ooptrek, die rivier laat agteruitloop en berge en heuwels laat rond hop. Hy sal enigiets doen om by jou uit te kom.
Dan lees ek ook Psalm 46 en die wonderlike beloftes van ons Vader daarin. Hier maan ons Vader ons om terwyl alles chaos om ons lyk, en ons wag op Sy beloftes, om stil te raak en te weet dat Hy steeds God is.
PSALMS 46
God is 'n toevlug.
1VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. 'n Lied.
2God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.
3Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see.
4Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.
5Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste.
6God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek.
7 Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.
8 Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
9Kom, aanskou die dade van die Here, wat verskriklike dinge oor die aarde bring,
10 wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.
11Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.
12 Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
Ons Vader en ons God sal nooit sy beloftes aan ons breek nie, en ons nooit alleen laat nie. Wanneer Hy stil is, is Hy besig om te werk. Ons moet ook net stil raak in die wete dat God steeds God die Almagtige is, dat sy beloftes tot in ewigheid staan, en dat Hy alles sal doen om daardie beloftes aan ons te hou.
Wat ‘n wonderlike wete dat ons nie soos afkop hoenders hoef rond te skarrel om te probeer om ons eie saak te veg nie, dat die Almagtige God besig is en alles sal uitwerk as ons ons onvoorwaardelike vertroue in Hom stel.
Bly warm, en veilig.
© Marsofine Krynauw

Maandag 10 Julie 2023
My winter dans
In vlamrooi
wil ek vanaand dans
met die yswind wat
vriesend om die huis se hoeke woed
ek wil die ysvingers
losmaak van my lyf
hul laat afval op die grond
waar ek ligvoet
hul kan vertrap
ek wil die tja-tja
die salsa
selfs die Namakwaland se riel dans
die koue uit my wese trap
en draai
en draf
tot die huilstem om die hoeke
vir my soos ‘n wiegelied raak
die koue en gekerm van die yswind
my nie meer kan traak
want iewers binne my
brand die vuur
van dankbaarheid
maak die passies
van my winterdans
my hart warm
weet ek as ek na my
wilde warm dans
tot ruste kom
dankbaarheid sy
snoesige donskombers
oor my sag sal drapeer
my Vader my styf in sy arms
sal sus
met Sy wiegelied wind
ek veilig en warm sal rus
en vir vanaand
het ek die winter gefnuik
met my voete
wat die ritme vind
wat warm maak van binne …
© Marsofine Krynauw

Loof en prys ons getroue Vader.
Goeiemôre Vriende, uit ‘n bibberende koue Windhoek met minus 6 grade op die termometer. Dit is nou nie die soort temperature waaraan ek gewoond is nie, maar hoe dankbaar is ek nie vir ‘n huis, warm klere en warm koffie nie. Ek hoop julle het ‘n heerlike snoesige naweek gehad.
Vanoggend so met die intrap van die nuwe week wil ek praat oor die getrouheid van ons Vader teenoor Sy kinders.
Ja, ons gaan deur beproewings, maar die verskil is ons Vader is altyd daar saam met ons. Soms glo ons ons is alleen, maar dit is nie waar nie.
Ek is nou al vir 3 maande besig met my Kanadese visa aansoek net om vir my vriendin te gaan kuier. By tye het ek al gedink, hierdie is net ‘n mos van tyd, want niks gebeur nie. Net toe ek besluit nee wat dit is alles ‘n gemors, laat weet hulle my ek moet Pretoria toe vir die visa onderhoud. Kom terug, dit is toe die wag begin dat hulle my moet laat weet hulle soek my paspoort om die visa in te sit.
Wel gelukkig is ek besig, en het my kleindogter gekuier. Nou en dan het ek daaraan gedink en dan net weer besluit dit is belaglik, hierdie gaan nooit gebeur nie. Die dag nadat ons my kleindogter terug geneem het, kry ek die e-pos hulle soek my paspoort. Hoe wonderlik is ons Vader se werke nie.
Vanoggend het ek my paspoort gaan koerier Pretoria toe. Hierdie keer mag ek nie anders as opgewonde en vir seker wees dat dit alles in my Vader se hand is nie.
Psalm 34 kan ek nie anders as heel hier plaas nie, daarin vertel Dawid van die goedheid en getrouheid van God teenoor sy kinders. Hy het hierdie psalm geskryf toe hy in baie groot nood was.
PSALMS 34
Die Here beskerm die gelowige.
1 'n PSALM van Dawid, toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abiméleg en dié hom weggejaag het, sodat hy heengegaan het.
2 Alef. Ek wil die Here altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees.
3 Bet. My siel sal hom beroem in die Here; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees.
4 Gimel. Maak die Here saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!
5 Dalet. Ek het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered.
6 He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie.
7 Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die Here het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.
8 Get. Die Engel van die Here trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.
9 Tet. Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!
10 Jod. Vrees die Here, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.
11 Kaf. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die Here soek, het geen gebrek aan enigiets nie.
12 Lamed. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die Here leer.
13 Mem. Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?
14 Noen. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.
15 Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.
16 Ajin. Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.
17 Pe. Die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners, om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei.
18 Sade. Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede.
19 Kof. Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
20 Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.
21 Sjin. Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.
22 Tau. Die onheil maak die goddelose dood; en die wat die regverdige haat, moet daarvoor boet.
23Die Here verlos die siel van sy knegte; en almal wat by Hom skuil, hoef nie te boet nie.
Wat my opval van hierdie wonderlike psalm is dat Dawid al is hy so in die nood, sy lewe in gevaar, begin hy deur te verklaar dat hy die Here sal loop, Sy naam sal grootmaak. Doen ons dit as dit moeilik gaan met ons, of kerm en kla ons net?
Verder gaan hy aan om ons te vir seker dat God daar is, dat hy ons smekinge hoor, dat hy ons definitief sal bystaan en beskerm en op die regte tyd die uitkoms sal gee.
Dit laat my ook dink aan Paulus en Silas in die tronk, om middernag begin hulle die Here hardop loof en prys en wat gebeur, die kettings val van alle gevangenis se voete en die deure van die tronk gaan oop. Dit is hoe ‘n groot, almagtige God ons dien.
Daar is ‘n Engelse song waarvan die woorde gaan ‘I will praise Him in the storm’ – laat ons God loof en prys nie net wanneer dit goed gaan nie, maar ook wanneer dit sleg gaan. Laat ons vra Vader wat moet ek uit hierdie situasie leer, want in elke situasie is daar iets wat ons moet leer.
Op hierdie vriesende koue Maandag en die hele week deur, kom ons prys God en maak Sy naam groot, want Hy is waardig in goeie en slegte tye.
© Marsofine Krynauw

Die tong ... jou gevaarlikste wapen
Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...

-
Goeiedag Vriende, Pragtige somersdag in Windhoek, wat die vyand baie hard probeer het om vir my om te krap. Tog het ons Vader net weer inget...
-
Goeiedag Vriende, Ek hoop julle het almal die naweek die blomme geniet. Hier by ons is die weer heerlik, en ons kla nie al weet ons dit is...