Blogargief
-
▼
2023
(215)
-
▼
Junie
(36)
- Vir ons breek Hy koperdeure en ystergrendels ...
- Ons Rots
- Toewyding
- Oorvloed uit die Vader se hand
- Soek Hom!
- Jy het my hart gevries
- Die Lig
- Roep My aan ...
- Hoe groot is jou God?
- Wit van die maan
- Uitgekies ... spesiaal!
- Warm harte
- Vind vrede terwyl jy wag
- Rus op karmosyn
- Wag!
- Waar vra jy raad?
- God se tyd of jou tyd?
- Krag van die Olifant
- Suleika - pas gepubliseer!!
- Ons Lig
- Skemer melodie
- Wie kom die oordeel toe?
- Donkerkant van die duin
- Hy hou ons vas ...
- Sand in jou oë
- Genade water vir ons wêreld
- Jou woorde - breek dit of bou dit?
- Wie wil jy plesier?
- Waar is jou woonplek?
- Herinneringe
- My mense, my vallei...
- Wat doen jy met jou geskenk?
- Wat van mislukking?
- Wie is jou Rots?
- Junie het met die deur in die huis gevaldie Cederb...
- Waak want ons weet nie ...
-
▼
Junie
(36)
Vrydag 30 Junie 2023
Vir ons breek Hy koperdeure en ystergrendels ...
Gister was ‘n dag waarin ek baie ontstellende nuus moes aanhoor, nuus wat my nie direk raak nie, maar as Christen diep raak, omdat dit my medemens is waarmee hierdie verskriklike goed gebeur. En in Galasiërs 6:2 word ons duidelik vermaan: Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.
Binne die bestek van ‘n paar uur, hoor ek van ‘n vriendin se dogter, pas in haar dertigs, sy het sowat ‘n maand gelede ‘n breinoperasie gehad om ‘n gewas te laat verwyder. Maandag net weer siek geraak, hospitaal toe, Kaap toe en toetse begin. In ‘n maand se tyd het hierdie jongvrou se kanker van stage 2 na stage 4 gegaan. Hoe anders as verpletter kan haar familie wees al is hulle ook mense wat ‘n baie nou pad met God stap?
Die nuus is nog nie koud nie, en ek ontvang ‘n whatsapp van ‘n vriendin – ‘my oudste suster se seun, sy vrou en skoonma is gisternag almal vermoor.’ Wat sê ek vir hierdie mens?
Ek is nog besig om dit te oordink en met die Vader te praat toe ek nog ‘n whatsapp ontvang van ‘n pastoor – sy vrou ly aan erge epilepsie, sy het so ‘n kwaai aanval gehad dat hulle haar byna nie terug gekry het nie. Sy is in die hospitaal.
My eerste gedagte na die derde boodskap was – ‘Vader bitter, bitter baie dankie vir my gesondheid. Dankie vir U beskerming.’
Die Woord waarsku ons dat in die laaste dae sal die vyand soos ‘n brullende leeu rondloop en almal probeer verslind wat hom probeer teëgaan.
Dan kom Pastoor Rynier Nolan vanoggend en hy lees Psalm 107 wat handel oor mense in situasies soos die hier bo. Wat voel hulle is opgesluit in ‘n tronk van seer, van teleurstelling, van bitterheid, van verlies.
Kyk na die kosbare belofte in verse 14 en 16 – God het nie doelloos rond gestaan nie, nee, Hy het hy het die tronk waarin die vyand ons wil gevang hou se koperdeure en ystergrendels stukkend geslaan en ons bevry. Die vyand wil ons in vrees laat leef, hy roof en steel wat nie syne is nie, al hoe ons staande kan bly is om vas te hou aan ons Vader deur dit alles.
Psalm 107: 13 Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
14 Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
15 Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
16want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
Hy sal ons nie alleen laat vir een oomblik as ons tot Hom nader en Hom vra om elke sekonde van die dag met ons te wees nie. Hy sal ons dra en vertroos, die koperdeure en ystergrendels los breek, want Hy wil hê ons moet vry wees in Hom.
Dit laat my dink aan Martin Luther die groot hervormer se aanhaling: ‘I have so much to do today that I’m going to need to spend three hours in prayer in order to be able to get it all done.’
Ons hou op met bid in tye waar hierdie dinge met ons gebeur, ons begin vir God die skuld gee – waar ons eintlik nog meer tyd met God moet spandeer om dit vir ons moontlik te maak om daar deur te kan leef met die krag wat Hy jou gee.
Ons spandeer nie tyd met God nie, want ons is te besig, eintlik moet ons juis meer tyd met Hom spandeer dat Hy ons deur hierdie besige tyd kan dra.
Gister was die oproep van Paulus: Bid gedurig!
Kom ons begin bid gedurig, vir ons eie mense, vir ons vriende, vir ons kennisse, vir ons land. Die wonder van gebed is, ons hoef nie die persoon te ken om vir hulle te bid nie, God ken hulle en weet van wie jy praat.
Veilig wees, en mooi naweek.
© Marsofine Krynauw

Donderdag 29 Junie 2023
Ons Rots
Vader, ons het vir reën gebid
U het in oorvloed voorsien
nou hoor U ons kerm en kla oor die skade
aan die pad
wat vir ons onbegaanbaar is
wat ons afsny van die wêreld
maar Vader iewers
is daar vanaand
‘n moeder, ‘n gesin, ‘n familie
wat bitter trane stort
oor ‘n jongvrou
nog in die fleur van haar lewe
haar dogtertjie nog nie tien
want dokters het haar weg gestuur
met ‘ons kan niks meer vir jou doen’
die monster in haar brein
het binne weke
verdubbel in sy aanslag
iewers ander is daar ‘n
moeder, vader en familie
wat plat geslaan staan
want in die vorige nag
het die vyand
hul seun, sy vrou en haar ma
vermoor en dood agtergelaat
‘n Godsman wat oor sy
geliefde vrou buk
om mond tot mond
haar lewe te probeer terugbring
waarvan die tiener seun
smeek “Vader, laat haar net leef”
getrou gee God gehoor
begin sy asemhaal –
maar die aanslae bly daar
wanneer kom die volgende een
dan weeklaag ons oor water
waarvoor ons U gesmeek het
oor ‘n pad wat weer herstel kan word
soms Vader, het ons gee idee
van wat ons seëninge is –
word ons terug geruk
deur die bitter seer en verlies
van die om ons
laat ons in hierdie nag
U net loof en prys
vir alles wat U ons mee seën
en op ons knie bly
vir die
wat werklik deur stormwaters gaan
waters wat verwoes
waters waarvan die skade
nie herstel kan word
waters wat net dooie geliefdes agterlaat …
laat ons stil word in die wete
ons dien ‘n God
wat alleen kan
wat die vyand kan verslaan
wat aanslae kan afweer
wat genesing kan bring
al het almal opgegee
U is ons Rots
U sal dit bly
al slaan die branders
om alles te verpletter
sal ons in U onwrikbaar staan
daarom kom ons vanaand vra
vir U soewereine wil …
want U ken elkeen
en sien ons harte.
© Marsofine Krynauw

Toewyding
Middag Vriende, hier is dit darem ‘n paar grade minder koud en was vanoggend net -2. Julle sal my verskoon dat ek laat is vandag, want ek kon net nie die uitnodiging by vriende vir warm skons van die hand wys nie. Ek hoop julle is almal veilig met die N7 wat net voor Vioolsdrif verspoel het en Kleinzee wat afgesny is van die buite wêreld.
Vanoggend het my dagstukkie gehandel oor toegewydheid. Dit is nie ‘n deug wat ons meer elke dag op die lyf loop nie. In die tyd wat ek en ek glo baie van julle grootgeword het daar in ons ou Namakwaland, was dit volop te sien tussen ons families. Mense wat aangehou en uitgehou het te midde van moeilike omstandighede. Mense wat nie links of regs afgewyk het van wat hulle geweet het reg en goed is nie.
In die Woord van God sit Paulus dit so mooi uiteen vir ons in sy groet. Ek wil graag die hele gedeelte met julle deel.
1 Tessalonisense 5:12 - 28
Verskillende voorskrifte, wense en groete.
12MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan;
13en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.
14En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.
15 Sorg dat niemand 'n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.
16 Wees altyddeur bly.
17 Bid sonder ophou.
18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
19 Blus die Gees nie uit nie.
20Verag die profesieë nie.
21 Beproef alle dinge; behou die goeie.
22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.
23En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.
25 Broeders, bid vir ons.
26 Groet die broeders almal met 'n heilige kus.
27Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word.
28 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.
Hoe groei ons in toewyding? Ons kan net in toewyding aan ons Vader groei deur tyd met Hom en sy Woord te spandeer. Hoe raak jy meer lief vir jou vrou of man? Mos ook net omdat jy al jare saam met daardie persoon stap en elke uur van die dag met hulle spandeer.
Al die riglyne wat jy en ek sal nodig kry vir die uitdagings in ons hele lewe, is klaar uiteengesit in die Woord van God. Ons maak net nie tyd om dit te gaan lees en daarvolgens te lewe nie.
Kyk na Paulus se duidelike riglyne in hierdie stuk Skrif – meer duidelik kan dit nie wees nie. Tog of weet ons nie daarvan nie, of doen ons dit nie.
Hoekom moet ons volgens God se voorskrifte leef? Maklik dat wanneer Jesus op die wolke kom, ons voorbereid sal wees soos vers 23 so mooi dit vir ons uiteensit. Hoe sal ons dit regkry? Maklik deur meer en meer toegewyd te leef aan ons Vader. Sy Heilige Gees is binne in ons, en die sal ons rig.
Ons moet ‘n brandende begeerte hê om elke dag met God te wandel, opgewonde wees oor Sy goedheid, liefde en guns. Nie elke Sondagoggend wonder of ons kerk toe moet gaan of nie, dit gaan nie oor die predikant of pastoor nie, dit gaan oor God se woord. Hulle is net die instrumente wat dit oordra. Ons kan nie kwaad wees vir die kerk omdat die of daardie so of sus gedoen het nie, nee, is jy in die kerk oor die of daai of is jy in die kerk om God se woord te hoor en ander daar te help om nader aan God te kom? Ons het mos elkeen die opdrag om God se naam te verheerlik.
Ek is gelukkig om in ‘n wonderlike gemeenskap van gelowiges te wees, ‘n baie goeie verhouding met almal insluitende ons pastore te hê, en tog het ek al vir ons senior pastoor gesê: Pastoor ek is baie lief vir jou, maar ek is hier vir God, vir dit wat Hy hier met my en deur my wil doen. Vir Sy beloftes en om Hom te eer.
Ons moet verby die mense en die wêreld begin kyk – selfs in die kerk waar jy is – en vir God begin raak sien, Hom begin loof en prys, nader aan Hom begin beweeg, Hom in ander begin sien en ander begin wys hoe Sy liefde lyk.
Bid aanhoudend – dit is die begin van dit alles. As jy die hele dag in gesprek met God is, waar jy ook al werk, of wat jy ook al doen, leer jy Sy hart ken vir jou lewe en leer jy Hom ken.
© Marsofine Krynauw

Woensdag 28 Junie 2023
Oorvloed uit die Vader se hand
Die Wes-Kaap verspoel
dit reën in die Boesmanland
rivier in Aus loop
Kleinzee is as rampgebied
proklameer –
die aarde is deurdrenk
die vlaktes met vloedwater bedek
alles uit ons Vader se hand
Sy oorvloed is verstommend
te veel vir ons menslike verstand
en iewers is alles kalm
sit ‘n kat op ‘n huis se dak
en staar na die
groot helder maan
verby die bloesende blomme
aan die boom
heeltemal betower
met die sagte geel bal
wat hang of dit daar hoort
so gemaklik
glad nie bang om te val
en jy en ek
wie is ons
waar pas ons in
ons is net stippels
in ‘n heelal
heel onbenullig
teen die krag
die oorvloed
die liefde
die voorsiening
uit ons Vader se hand.
© Marsofine Krynauw

Soek Hom!
Goeiemôre Vriende, uit ‘n vriesende Windhoek, met temperature soos -6 en laer by sommige plekke. Hoe dankbaar is ek dat ek ‘n huis het waarin ek warm en veilig kan wees. Ek het vroeër berigte en video’s gesien dat dit in Boesmanland reën en neem ek aan ook in ons Namakwaland. Ons is dankbaar vir elke druppel genade water.
Dit bring my by wat ek met julle vandag uit die Woord wil deel. Pastoor Rynier Nolan het daaroor gepraat gister en ook vanoggend in twee verskillende rigtings.
Dikwels bid ons vir voorsiening van ons Vader, en glo my Hy voorsien, daarvan kan ek getuig. Ons dink dat Hy nie ons wense vervul nie, maar daar is twee kante aan. Kyk bietjie wat daar in Psalm 104 geskrywe staan.
Psalm 104:27Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.
28U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.
Net soos in die Isrealiete se tyd toe hulle deur die woestyn getrek het, voorsien God steeds. Die voorwaarde vir hulle was, hulle moes self die kwartels en manna gaan optel, en ook net genoeg vir elke dag, want die volgende dag het God weer voorsien.
God voorsien steeds, wat doen ons om daardie voorsiening te geniet? Wil ons net terugsit en hê dit moet in ons skote val? Of staan jy op, neem jou skottel of emmer en gaan tel die voorsiening wat ons Vader daagliks gee op? Ons Vader is ‘n ware Heer en sal niemand dwing nie, sal Sy voorsiening in niemand se keel afdruk nie. Gaan tel dit dus elke dag op, daar is genoeg vir elke dag.
Volgende konsep is dat ons God moet soek. Hoekom moet ons Hom soek as sy Heilige Gees in ons woon?
Weereens, God sal homself nie op ons afdwing nie. Hy wag vir ons om Hom in elke situasie in ons lewens in te nooi en deel te maak. Pastoor Rynier het die voorbeeld gebruik van toe Jesus die water in wyn verander het op die bruilof. Hy sou die nie kon doen as Hy nie ‘n genooide gas was op daardie troue nie. Hy was genooi. So moet ons Hom ook nooi om saam met ons in elke situasie te wees.
Psalm 105:4 Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
Ons moet Hom voortdurend nooi, na Hom vra, Hom soek met ons hele hart en wese. Hom laat welkom voel, laat weet dat ons Hom liefhet en Sy wil ons wens is.
Kom ons doen ons deel, God belowe vele male in sy Woord dat Hy altyd sy deel sal nakom en Hy sal nooit op sy Woord terug gaan nie.
© Marsofine Krynauw

Dinsdag 27 Junie 2023
Jy het my hart gevries
Soos die koue daar buite
dit laat wasem teen die ruite
traan riviertjies laat afloop
wat nie die grond haal
maar yskristalle raak
wat koud ongenaakbaar hang
so het jou doen en late
my hart oorgeneem
soos ‘n winterlandskap
jou woorde van enige gevoel ontneem
elke ledemaat begin vries
tot die omgee en gevoel
in my hart en siel
net yskristalle was
my eens warm hart
het verbete geveg
nog van die ysbal
probeer smelt
voor dit aan skerwe
voor my voete val
maar die koue
het deur murg en been gesny
net ysvingers aan my hart laat hang
‘n getuienis aan ‘n poging
om my hart wat so lank warm vir jou klop
te laat herleef
maar alles, alles te vergeefs
jy het geslaag...
alle gevoel in my siel gevries
geen lente kleur
of somer son
sal dit weer kan laat herleef…
© Marsofine Krynauw

Maandag 26 Junie 2023
Die Lig
Die boom in ‘n twee stryd
tussen lewe en dood
winter het sy bibber asem
geblaas
die uitspansel gelaat
in ‘n waas
van ys belaaide wolke
met die maan
wat moet kies
tussen lewe en dood
nou half in die nood
hang
tussen die ysvingers
van die wolke
en die skerp dooie takke
huiwerig hang hy daar
probeer met sy
helder glimlag
alles beter laat lyk in die lig
as die koue, makabere beelde
van ysig bibber wolke wat knyp
en die skerp swart vingers
wat onvriendelik gryp
met sy groot glimlag
kry hy dit tog reg
om die mens vir ‘n rukkie
te laat vergeet
van die koud en donker beelde
wat soms in winter is
staar net in ongeloof
na die Lig.
© Marsofine Krynauw

Roep My aan ...
Vriende,
‘n Hartlike goeiemôre hier uit ‘n helder sonskyn Windhoek. Die luggie byt, maar ons is dankbaar vir die sonskyn wat alles helder en warm maak. Hoop julle naweek was geseënd.
Pastoor Des Wessels was laas week siek en in die hospitaal, het gister uitgekom, waarvoor ons dankbaar is. Vanoggend voel hy toe weer die simptome wat hy laas week gehad het voor hy hospitaal toe is.
Hy kry die baie bekende vers wat ons almal sekerlik ken van die Heilige Gees, Jeremia 29:11, maar hier maak die Here vir hom dit oop en vra hom om vers 12 aan te lees. So dikwels kwoteer ons ‘n vers, maar vergeet om aan te lees en meer as gereeld is die antwoord in die vers daarna.
Jeremia 29: 11Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.
12Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.
13En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.
Ons haak altyd vas by vers 11 waarin God belowe dat Hy goeie gedagtes vir ons het, en ‘n hoopvolle toekoms, tog is daar ‘n voorwaarde aan, wat ons so dikwels mis lees. Ons mens is so ingestel dat ons net altyd wil ontvang, maar elders in die Woord word ons ook gemaan dat ons ‘n deel het om te doen en God dan vir seker Sy deel sal doen.
Net soos die saaiboer nie ‘n oes kan verwag as hy nie saai nie, net so kan ons ook nie ‘n oes verwag as ons nie ons deel doen nie. Nog meer so omdat God se grootste begeerte is dat ons Hom sal liefhê en dien. Dat ons Hom daagliks sal opsoek, met Hom sal praat, alles in ons lewens met Hom sal deel. Soos die tien gebooie so mooi dit uiteensit: ‘Ek is ‘n jaloerse God’. Waarmee Hy sê: Ek soek jou onverdeelde trou en liefde en lojaliteit.
Ons is tog nie in ‘n huwelik en dan is ons besig om nog ‘n ander persoon lief te hê en meer tyd met hulle te spandeer as met ons eie huweliksmaat nie? Dit is net bloot onaanvaarbaar. So hoekom sal ons Soewereine, Heilige, Almagtige, Genadige God dit aanvaar.
Saam met miljoene ander is jy sy uitverkorene, is jy vir Hom eerste elke dag as Hy jou wakker maak.
Daarvoor vra Hy jou liefde, jou aandag. Wil Hy hê jy moet Hom aanroep in goeie en slegte tye en onvoorwaardelik op Hom vertrou.
Definitief is daar baie mense wat vandag in ‘n situasie is waaruit hulle nie weet hoe om daaruit te kom nie. ‘n Situasie wat hulle ongelukkig maak, wat hulle hartseer maak, wat hulle moedeloos maak. Hierdie situasie staan dalk tussen jou en God, dus kan God nie naby jou kom nie – roep Hom aan en sy belofte is dat Hy jou sal hoor en uitkoms sal gee.
Mooi loop op hierdie mooi Maandag, mag dit sagte pienk wees, vol warmte en seën.
© Marsofine Krynauw

Vrydag 23 Junie 2023
Hoe groot is jou God?
Vriende,
Die koue draai die klem nou aan en julle moet warm bly. Stook daardie houtstoof, of daar die kaggel of maak sommer net ‘n vuurtjie vir die geselligheid en bly so warm.
Vanoggend is die vraag: Hoe groot is jóú God? Hierdie is ‘n persoonlike vraag vir elke persoon. Net jy kan besluit hoe groot jou God is.
Kyk jy my nou snaaks aan? Ja, ek sien dit. Kom ek verduidelik, God is almagtig, Hy is die Skepper van die heelal, Hy is van ewigheid tot ewigheid, Hy het die heelal in ses dae geskape deur net ‘n woord te spreek. Die vraag is glo jy dit, besef jy hoe groot dit is?
As jy jou uitdagings voor Hom neerlê, hou jy dan hierdie feite in gedagte? Of plaas jy Hom in die kleinste boksie wat daar beskikbaar is? Vra jy vir uitkoms, maar so tong in die kies wonder jy ‘kan God dit doen?’ Kort voor lank begin jy self weer die oplossing vir jou probleem bewerk omdat jy glo jy kan dit beter as God doen.
Of vra jy God, en so in dieselfde asem dank jy Hom omdat jy weet dat Hy magtig en almagtig is en dit kan doen wat jy Hom gevra het en soveel, soveel meer.
Kom ons lees uit Job 37 oor die krag van ons God, die God wat gister, vandag en môre dieselfde is.
Job 37: Hy laat dit blits tot by die uithoeke van die wêreld,
4en dan kom die donderslag.
God laat sy magtige stem hoor,
Hy stuur die onweer in volle krag
wanneer Hy sy stem laat hoor.
5Met sy stem laat God magtige dinge gebeur.
Hy doen groot dade en ons begryp dit nie.
6Hy beveel die sneeu om op die aarde te val;
die reëns val, stortreëns wat getuig van sy krag.
7Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom
sodat alle mense sy werk kan leer ken.
8Die diere soek skuiling
en bly in hulle skuilplekke.
9Die stormwind kom uit sy blyplek,
die yswinde wat koue bring.
10As God die wind laat waai, ys dit
en vries die groot waters.
11Hy laat die wolke swaar word van vog,
Hy stuur sy weerligte in die wolke in.
12Hy laat die wolke in die rondte maal,
hulle doen wat Hy bepaal,
hulle gehoorsaam sy bevele die wêreld oor.
13God stuur die storm
óf om te straf
óf om vir die aarde te sorg
óf om sy liefde te toon.
Klink God vir jou soos iemand wat jy in jou klein boksie van onbekwaamheid kan sit? Dieselfde God wat jou in jou moederskoot gevorm het uit net twee selle wat saamgesmelt het – werklik!
Stem julle met my saam dat ons as nietige mense baie vermetel en verwaand is as ons God Almagtig se krag en mag in twyfel waag trek.
Ek vra weer: Hoe groot is jou God?
My persoonlike antwoord is maklik – my God kan alles, en deur die leiding van die Heilige Gees vertroue ek hom onvoorwaardelik, want Hy is my Skepper, die een wat elke sel in my liggaam ken, my lief het en my wil versorg.
Rus lekker die naweek in die wete dat geen een van jou probleme vir God te groot is om op te los nie. Wees stil en weet Hy is God.
© Marsofine Krynauw

Donderdag 22 Junie 2023
Wit van die maan
Dis die wit van die maan
wat teen die donker wolke uitstaan
sy goue glans
steek die see aan die brand
die groenblou branders
wat die vuur
na die strand toe dra
waar goud en karmosyn
alles anders laat verdwyn
as ʼn illusie wat nie bestaan
en die strale van die maan
tot hul reg laat kom ...

Uitgekies ... spesiaal!
Goeiemôre vriende
Intussen het die water by Lutzville en oral gesak en weer gestyg, maar almal is steeds veilig. Ons is dankbaar vir die water en dankbaar dat almal veilig is. Water is vir ons as Namakwalaners en boere in die algemene ‘n baie kosbare kommoditeit. Sonder dit kan ons nie aangaan nie, en die afhanklikheid daarvan laat ons telkens besef hoe afhanklik ons as mens van ons Vader is.
Daar is ‘n paar goed op ons Vader se hart vanoggend. Eerstens, hoe het jy ‘n kind van God geword?
Die volgorde werk so: God het ons uitgekies en daarom het ek en jy die voorreg om Hom aan te neem, Jesus se liefdes offer aan te neem en kinders van die Allerhoogste God te word. Hy het ons eerste uitgekies, voor ons nog probeer het om Hom te beïndruk of reg te leef uit dankbaarheid.
1 Petrus 2:9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
10julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
Wat ‘n voorreg.
Die volgende vraag is: Waarvoor staan jy nou as kind van die lewende God?
Dikwels is ons in die geselskap van mense wat vreeslik vloek, en ook God se naam ydellik gebruik. Wat doen jy? Loop jy weg?
Byna daagliks sit kinders van God voor ‘n televisie waarop daar vreeslike taal gebruik word, onaanvaarbare beginsels gebeeldsend word, gruwelike dinge goedgepraat word. Wat doen jy? Bly jy sit en maak dit af as dit is nou maar eenmaal deel van ons wêreld of sit jy dit af en gaan hou jou konstruktief besig met iets anders?
Om as uitverkorene van God te leef moet ons ons self beskerm deur te luister na die Heilige Gees. Moet ons ons self afsny van die dinge wat ons lewens kan besoedel.
Dawid het ook hierdie probleme gehad, en kyk wat skryf hy in Psalm 101 en ek kan nie net ‘n gedeelte uitlig nie, so ek plaas die hele psalm.
1VAN Dawid. 'n Psalm.
Ek wil sing van goedertierenheid en reg; tot u eer wil ek psalmsing, o Here!
2Ek wil ag gee op regskape wandel — wanneer sal U na my kom? Ek wandel in die opregtheid van my hart, binne-in my huis.
3Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie.
4 'n Verkeerde hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie.
5Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie.
6My oë sal wees op die getroues in die land, dat hulle by my kan woon; hy wat wandel in die weg van opregtheid, dié mag my dien.
7Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie.
8Elke môre sal ek al die goddelose van die land vernietig, om al die werkers van ongeregtigheid uit die stad van die Here uit te roei.
Dit is jou reg as kind van God om nie jou ore vullisblikke te maak nie.
Gister hoor ek ‘n vriend die volgende sê: Hoekom verkoop julle christene altyd godsdiens?
Die wat my redelik goed ken, weet seker dat my hare dadelik regop gestaan het. My antwoord was: die gene wat so adverteer hulle is die profeet en die pastoor en geld daarvoor vra om God se woord uit te dra, is nie in God se wil nie. Jesus het nooit vir iemand geld gevra om hul te genees, te red, te laat sien of te laat loop nie. Verder kan die wêreld maar al die gemors wat ons daagliks moet na luister en kyk propageer soveel hulle wil, maar dit is niks nie, laat een christen nou net opstaan vir wat reg is en dit word afgemaak as jy druk godsdiens in iemand se keel af – REGTIG, IS JY ERNSTIG!
Dit is presies wat Dawid ons hier teen waarsku. Ons is uitverkies, nie uit verdienste nie, ons is bevoorreg dat die Gees ons gelei het om die waarheid te sien en te aanvaar. Daarom moet ons anders optree as die res van die wêreld.
Die Een wat van die grondlegging van die aarde af daar was, wat alles tot stand gebring het, wat jou ken van voor jy in jou moederskoot gevorm is – Hy belowe om jou nie alleen te laat in dit alles nie.
Jesaja 41:10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Hoekom is ons so bang om uit te staan? Ons is nie bang om uit te staan as ons dink ons het iets bereik nie, as mense aangaan oor hoe oulik of goed ons was nie. Maar ons is bang om uit te staan vir God. Soos daardie eilandjie wat die vloedwater nie kon oorstroom nie, stok-siel-alleen in die middel van al daardie massas water, maar staan staan dit, dankbaar dat dit nie oorstroom is nie.
Hoekom kan ons nie so staan vir die Een wat sy lewe vrywilliglik vir ons afgelê het nie, wat ons uitgekies het nie? Hoekom wil ons soos almal wees en nie uniek nie?
Kom ons staan vir Christus, sonder om skaam of bang te wees vir die wêreld se oordeel. Kom ons wys ons is uniek, ons is immers die uitverkore volk van God. Koningskinders. Soos die hele wêreld altyd besig is om van Prins Harry en Prins William te praat – omdat hulle koningskinders is – so kan hulle maar van ons ook praat, want ons is DIE KONING se kinders.
© Marsofine Krynauw

Woensdag 21 Junie 2023
Warm harte
As die wind se werk
op die horison rus
die son se groet dit
in oker kleur
die koue die laaste
laag op die horison vorm
sy lang vingers uitsterk
oor vlakte en boom
dit is wanneer mens
sy maat nader trek
‘n vuurtjie meer vir geselligheid aansteek
hul samesyn en liefde
die gemeensame gloed word
wat hulle albei warm hou
terwyl hul tuur na die vuur
en oor die vlaktes ver
na die laag op laag groet
van koue, son en wind
die koue vingers van winter
hul nie raak
want hulle hart klop warm
vir mekaar
hul liefde brand sterker
en hoër as die kameeldoring vuur
vrede pols deur hul are
hier waar hul die eggo’s daarvan
aanskou oor die vlaktes
van hul eie Namib-aarde.
© Marsofine Krynauw

Vind vrede terwyl jy wag
Vriende,
Die week se uurglas is besig om uit te loop. Ek hoop dat dit by julle almal goed gaan. Ek hoor dat dit steeds in die Kaap reën, so laat ons hoor of dit nog in Namakwaland reën en hoeveel dit al gereën het asseblief.
Ons bly by die onderwerp van WAG. Dit is moeilik om te wag – ek wag nou al twee maande vir ‘n visa om my vriendin in Kanada te gaan besoek. Ek wag steeds en dit is dood stil!
Jy wag dalk ook al lank vir ‘n baba, vir die regte huweliksmaat, vir ‘n deurbraak in jou finansies, vir vrede en aanvaarding …
Dawid kom in Psalm 131 en vertel ons hoe ons moet wag. Ons moet onsself voor God verootmoedig. Ons moet naby Hom wandel elke dag, ons moet Sy vrede vind terwyl ons wag.
PSALMS 131
Berusting.
1 'n BEDEVAARTSLIED. Van Dawid.
o Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.
2Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos 'n gespeende kind by sy moeder, soos 'n gespeende kind is my siel in my.
3 Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid!
Ons mag ook nie inmeng nie. Kyk watter gemors was dit toe Sara ingemeng het met God se plan vir ‘n erfgenaam vir Abraham. Dit is gewoonlik hoe dinge uitdraai as ons begin rond vroetel met God se planne.
Daar is ‘n pragtige beeld wat Nina Smit in een van haar boeke gebruik: Die van die sweefstokartieste – as die vlieër die sweefstok gelos het, stol hy/sy vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde en wag vir die vanger om hom/haar te gryp. Hierdie persoon het geen ander opsie as om die persoon wat hul moet vang te vertrou nie. Hul lewens is in daardie persoon se hande vir sekondes.
So onvoorwaardelik moet ons God vertrou en wag. God se tydsberekening is altyd perfek.
Kom ons raak rustig aan Jesus se voete, dit is dalk hoekom ons moet wag. Dalk is hierdie die tyd wat Hy gemaak het vir jou en my om net by Hom te sit, net met Hom te verkeer, net weer Sy hart vir ons te leer ken en te weet dat Hy goed is.
Mag jy vandag God se vrede wat alle verstand te bowe gaan ontdek terwyl jy wag en Sy teenwoordigheid net indrink.
© Marsofine Krynauw

Dinsdag 20 Junie 2023
Rus op karmosyn
Op ‘n blom in my tuin se blaar
het ek haar gewaar
knus soos in ‘n seepbel
in ‘n druppel toegevou
heel ontspanne
rus klein feetjie
Bella-anna
daar
wyl die ander waterdruppels
om haar dans
die blare van die blom
haar wieg
in haar soete rus
sy onbewus
van tyd of plek
hier in haar druppel
weg van die gehuppel
van ladybird se dans
van vlinder se vlerkfladder
ballet
van springkaan se wilde gespring
hier afgesluit van
die harwar van die wêreld
in haar tuin
lê sy knus op die blaar
kan sy hier op karmosyn
gloed rus.
© Marsofine Krynauw

Wag!
Goeiemôre Namakwalaners,
Stil koud in Windhoek, het die oggend begin met 2 grade, maar darem al bietjie opgewarm na 5 grade. Ook nie eintlik die tipe temperatuur waarvan hierdie Namakwalandkind hou nie, maar ons vat dit. Vanoggend gebruik ek die foto van 'n pragtig Inka-lelie, wat my so herinner aan 'n dierbare vriendin, Carin Smith Claassen wat 'n paar jaar gelede oorlede is aan kanker. Haar huis was daar in Koekenaap net 'n klipgooi van die Olifantsrivier af en sowat 'n km van die brug in Koekenaap. Vandat die vloed afgekom het wonder ek al, is Carin se huis nou onder water? Ek kan nie dink dat dit nie kan wees nie, want dit lê nie eers 500 van die rivier af nie. Sy was so lief vir Inka-lelies en het hulle in alle kleure gehad.
Waaroor gesels ons vanoggend? Iets waarvan daar min mense is wat baie daarvan het - geduld!
Die situasie daar teen die Olifantsrivier met die vloed is nou nie wat enigeen gunstig sal noem nie. Alles is onder water. Die paaie is toe – die kronkelpad na Vredendal is toe, die hoogwaterbrug pad was ook toe en is gelukkig nou oop, die pad tussen Vredendal en Klawer is toe. In Lutzville lê die water onder die huise van die boere daar teen Vaal en Bloukrans. Daaglikse werk en beplanning kan nie aangaan nie, want alles is onder water.
Soms lyk die situasie in ons lewens ook so – is daar ook ‘n vloed, storm of orkaan aan die gang. Ons kan niks daaraan doen nie, ons kan net magteloos sit en toekyk.
Is alles verlore? Nee, beslis is niks verlore nie. Net soos die boere nou al weet dat die vloed vrugbare slikgrond gebring het wat weer hul grond waarde gee, net so moet ons ook net stil wees en wag tot alles oor is.
Wanneer gaan die boere die vrugte pluk van die vloed? Dadelik! Nee, beslis nie dadelik nie, nou lyk alles net na een groot gemors. Eers met die volgende oestyd.
Net so gaan ons ook eers die vrugte pluk van hoe ons die vloede in ons lewens hanteer wanneer die tyd reg is. Toe Jesus die dissipels weggestuur het na die vermeerdering van die brode en vissies, het hulle alleen vir ‘n hele nag op die stormsee deurgebring. Hulle was bang, was bevrees om om te kom. Maar in die oggend het Jesus na hulle op die see aangeloop gekom en die storm gestil en gevra: Hoekom is julle so kleingelowig?
JESAJA 40:29-31 AFR53
Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
Die dissipels moes wag vir uitkoms, Noag moes wag vir water vir die ark, Abraham moes wag vir ‘n erfgenaam, die Israeliete moes 40 jaar wag voor hulle die beloofde land kon intrek.
Dit is die tyd waarin God na ons harte kyk. Wat doen ons terwyl ons wag?
Bid ons!
Vertrou ons!
Glo ons!
OF
Kla ons!
Vrees ons!
Raak ons moedeloos en ongeduldig?
Dit is wat die verskil aan die vloede in ons lewens maak. Of ons kies om saam met Jesus deur die vloed te stap, of ons spartel en spook en verdrink in ongeloof.
Kyk na daardie vloed, daardie ramp en weet dat Jesus teëspoed in voorspoed verander. Dat Hy ons karakters bou en ons harte sien in hierdie tye.
Is jy tydens hierdie vloed die slagoffer of die reddingswerker? Dit sal ook bepaal hoe die uitslag van jou vloed lyk.
Hoekom jou siek bekommer oor situasies waaroor jy geen beheer het nie, gee dit liewer in die Een se hand wat in elk geval in beheer is.
© Marsofine Krynauw

Maandag 19 Junie 2023
Waar vra jy raad?
Goeiemôre Vriende,
Hier in Windhoek is dit koud, maar alles is rustig. Deur die naweek het ek hier van ver af die water van die Olifantsrivier gevolg, immers word my vriende en familie daar teen die rivier by Lutzville, Vredendal en Vanrhynsdorp daardeur beïnvloed. Selfs my vriendin en haar man wat reg teen die Bergrivier boer. Tog is ek dankbaar dat almal nog veilig is, al lê die water soms werklik byna op hul grasperke.
Vanoggend was dit weer net vir my opvallend hoe ons Vader vir mens ‘n bevestiging kan gee van ‘n woord. Die een pastoor waarna ek luister verwys in sy oggend oordenking na Psalm 1, ek slaan my Bybeldagboek oop en so waarlik waar, daar is dit Psalm 1.
Die twee weë.
1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.
3En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.
4So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.
5Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.
6Want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.
Wat is die boodskap?
Die boodskap is, soms maak ons besluite wat ons weet verkeerd is, en dan as die ‘paw-paw’ die fan slaan, en alles is ‘n gemors, staan ons daar en vra ‘Here nou hoekom?’
Dit is soos wanneer jy as christene die besluit sal neem om in te breek by iemand se huis en dan word jy gevang. Dan gooi jy jou hande in die lug en verstaan nie hoekom jy nou in moeilikheid is nie.
Die woord is baie duidelik in Psalm 1: 1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
Jeremia 17: 5So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.
Hierdie twee verse maak dit baie duidelik dat ons die raad van goddeloses aan neem, sal ons self in die moeilikheid beland, ongeag of ons ons Bybel lees, bid, en weet wat die regte pad is om te loop. Om te weet is nie om te doen nie. Ons moet doeners van God se Woord wees en nie hoorders nie.
As ons mooi terug dink aan situasies waar ons in die warm water was, is ek seker as ons eerlik is sal ons goed onthou, dit was situasies waar ons mense se raad gevra het wat nie volgens God se Woord wandel nie, of ons eie besluit wat ons geweet het voor die tyd nie in God se plan en Woord val nie.
Is wil tog so graag altyd iemand anders blameer of ons self veronskuldig. Eintlik is dit maklik om uit die warm water te bly, handel volgens die riglyne van ons Vader se Woord. Ons hoef dit nie alleen te doen nie, ons het mos die Heilige Gees en ons kan mos ons Vader vra om ons te wys.
Mooi loop daar langs die baie water in my vallei.
©Marsofine Krynauw

Vrydag 16 Junie 2023
God se tyd of jou tyd?
Goeiemôre Vriende,
So hier en daar roer daar ‘n blaartjie in my tuin, maar verder is die stil koud. Langs ons Olifantsrivier weet ek is daar baie, baie water en ek hou almal in my gebede dat julle veilig sal wees. Ons is dankbaar vir die oorvloedige seën. Ons het mos gebid vir water en ons Vader het in oorvloed gegee.
Vanoggend gesels ons oor God se wil teenoor ons wil. Dawid vlug vir Saul, en kruip met sy manne weg in die spelonk. Saul kom in dieselfde spelonk in. Dawid se manne por hom aan om Saul te vermoor, want dan word hy mos koning.
Tog weier Dawid omdat hy reeds die belofte van God gekry het dat hy gaan koning word en weet dit is nie nou die regte tyd nie. Hy wandel in gehoorsaamheid en in plaas van sy eie belang te soek voor die tyd, vertrou hy op God se tyd en se belofte.
PSALMS 42
Heimwee na God.
1VIR die musiekleier. 'n Onderwysing van die kinders van Korag.
2Soos 'n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!
3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?
4 My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
5Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof — 'n feesvierende menigte!
6 Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof — die verlossing van sy aangesig!
7 o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af.
8Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.
9 Maar die Here sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, 'n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?
11Met 'n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
12 Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God!
Al is hy hoe benoud, want sy en sy manskappe se lewens is in gevaar, staan hy vas in God se beloftes. Ons sien sy smeking in die begin van hierdie psalm, tog vra hy homself die vraag – ‘Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof — die verlossing van sy aangesig!’
In verse 9 en 12 gee hy homself die antwoord op sy probleem, hy het ‘n sekere, vaste wete dat sy God wat vandag nog ons God is in ‘n oomblik sy situasie vir die betere kan verander. So hy kies om nie self sy probleem te probeer oplos nie, al is die oplossing net daar binne sy bereik.
Hy het God onvoorwaardelik vertrou, nie op sy eie kragte staat gemaak nie, en in gehoorsaamheid gewandel. Hoekom kan ons nie vandag nog God so vertrou nie? God het nie verander nie, ons is niks anders as Dawid nie. God is nog net so Almagtig, genadig, vol liefde soos toe Hy met Dawid gedeel het.
Kom ons begin wandel in gehoorsaamheid, in volle afhanklikheid van ons getroue Vader en nie in ons eie belang en op ons eie krag nie. Ons sal verstom staan oor wat Hy vir ons het.
Mooi naweek daar op die oewers van die Olifants wat ver en wyd loop.
© Marsofine Krynauw

Donderdag 15 Junie 2023
Krag van die Olifant
So groots
so trots
so manjifiek
dit is die grootvoet
wat ook olifant heet
die reus van die natuur
wat nie stuit vir mens of dier
daar in my vallei
vloei ook ‘n olifant verby
rustig kronkel hy
deur wingerdlande
gevoed deur die Clanwilliam dam
hy het geen haas
jaar na jaar
bid man en muis
boer in kluis
dat genade water hierdie dam sal vul
want hierdie olifant
is die lewensaar
vir mens en dier
hier in die Olifantsrivier vallei
God gee gehoor
die water stort uit die hemel neer
oor die Wes-Kaap
nog skaars in die winter in
is die dam reeds gevul
steeds stroom die water in
maar vol is tog vol
die sluishekke word oopgegooi
weerbarstig breek die water uit
soos hingste te lank op stal gehou
dit brul en breek
die naaste om dit op te wreek
is die pad na Clanwilliam
die bitumen word weg gevee
soos sand op ‘n tafelblad
en waar daar eens ‘n pad was
is nou net eilande met teer bedek
verlate skyn die straatligte
getuies van die water se krag
wat net soos die olifant
verwoesting saai op sy pad
vanaand voel ek klein
en o so magteloos
want die watermassa
woed nog voort
na die Olifantsriviervallei
waar boere vannag
sal bid en waak
vir God sal vra
hou ons veilig
teen die verwoesting
wat die Olifant
in sy malende watermassas dra
dankbaar is ons wel
tog weet ons nie van die krag
en oorvloed van ‘n God
wat alles kan
wat meer kragtig is as die
grootvoet of die watermassas
van die Olifant …
wat alles plat kan trap
alles weg kan vee
laat ons dus nederig bly
laag voor Hom kniel
in dankbaarheid vir Sy oorvloed
en bid vir veiligheid.
© Marsofine Krynauw

Suleika - pas gepubliseer!!
Dankbaar, dankbaar en nogmaals dankbaar. Oneindige opgewonde. Baie, baie dankie Vader vir nog 'n boek waarvoor U my die woorde gegee het. Alle eer kom U alleen toe.
New Release!! Suleika - Marsofine Krynauw
Suleika, word gebore as die dogter van ’n Arabiese diktator vader en moeder, wat as vrou byna geen bestaansreg in Jemen, Saudi Arabië het nie. In haar tienerjare het sy dikwels verskille met haar vader oor die onderdrukking van vroue in hulle land. As gevolg daarvan word sy deur haar vader en ouer broer dikwels opgesluit en liggaamlik mishandel. Haar enigste ondersteuning is haar vriendin Amirah Hussein. Die twee meisies is baie naby aanmekaar en Amirah se ouers is bekeerde Christene wat ondergronds aanbid en hulle seun Nadir, en dogter Amirah, gelowig grootmaak.
Wanneer sy aan die einde van haar matriekjaar haar vader nader en by hom pleit dat hy haar moet toelaat om te gaan studeer vir onderwyseres, wil hy niks daarvan weet nie, en haal haar ambisies haar net ’n hele klomp moeilikheid op die hals. Hassan Al Yousuf gaan selfs so ver om sy dogter met die dood te dreig.
Met die hulp van Nadir en Amirah, kry sy dit reg om te ontsnap uit aanhouding nadat sy erg aangerand is deur haar broer, Omar. Sy vlug na Engeland, om daar ’n nuwe lewe te begin, want in haar eie land, is nie eers haar eie moeder bereid om vir haar op te staan nie, uit vrees vir Hassan Al Yousuf.
Hier begin sy ’n nuwe lewe met die hulp van Nadir en al sy kontakte wat hy het, wat haar help. Steeds was dit net die begin van die hel waardeur hierdie beeldskone jongvrou nog in haar lewe sou moes gaan.
Vind sy ooit vrede, word haar drome ooit waar, of vind haar familie haar voor sy nog kans kry om te lewe?
https://www.malherbe-uitgewers.co.za/.../suleika...

Ons Lig
Dagsê Vriende,
Koue, maar die son skyn en dit is ‘n mooi dag hier in
Windhoek. Ek het ‘n meer as dankbare hart, my kleindogter stuur vroeër haar
rapport deur, en alles is A’s, hoe kan ek anders as in dankbaarheid jubel vir
my Vader se guns en genade.
Psalm 97:1 Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.
12 o Regverdiges, wees bly in die Here, en loof sy heilige
gedenknaam!
Psalm 143: 3Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is.
4En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste.
Ons is nie gevrywaar van probleme, of moeilikheid of
uitdagings, of seer nie. Tog is ons opgewasse omdat ons in Christus is vir Wie
alles moontlik is. Daarom behoort ons hierdie situasies anders te hanteer as
die wat nie vir God het nie. Behoort ons ten midde van alles te kan vrolik wees,
want ons vreugde moet nie bepaal word deur die situasie nie, maar in ons wete
dat ons in God gesetel is.
Dawid gaan aan in Psalm 143 en sluit sy smeking tot God af met: Ps143:8Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.
Pastoor Des Wessels het ‘n soort gelyke boodskap gehad vanoggend, maar uit ‘n ander oog benader. Die vyand maak jag op God se kinders, deur hulle gedurig te probeer pootjie in een of ander iets. Om gedurig te probeer om hul vreugde te steel met die klein jakkalsies wat oor ons elke dag se pad kom. Ons moet dit nie toelaat nie. Ons moet in Jesus sterk staan, soms net tot tien tel en weet dat God reeds in beheer is van die frustrerende situasie waarmee ons deel.
© Marsofine Krynauw

Woensdag 14 Junie 2023
Skemer melodie
Oor die dam by Heja
het die son in goud gesak
die werkers opgepak
die gaste afgepak
oor die dam by Heja
staar die gaste in verwondering
na ‘n goue sonsondergang
wat die horison in die ooste
bring
langs die dam by Heja
het die skemer gedaal
vir ‘n laaste maal
met die kosmosse wat sag
in die aandwind wieg
het ‘n feetjie haarself tuisgemaak
op ‘n kosmos se steel
wyl die stilte op die water neerdaal
klink die soete klanke
van die fee se liefdesverhaal
‘n aria opgedra
aan ‘n dag pas verby
‘n aand vol beloftes
van sterre wat flonker
en krieke wat dans
hier langs Heja se meer …
en sag val die ogies
van die dagbewoners toe
en die naguile begin te dans
op die maat van ‘n wals
van die fee se fluit
waarvan die melodie
die skemer vul.
© Marsofine Krynauw

Wie kom die oordeel toe?
Goeiemôre Vriende, uit ‘n koue-koue Windhoek. Tog skyn
die son, en ek is vrede.
Kom ons gesels vanoggend bietjie oor onregverdigheid, iets wat ons almal se hare laat regop staan. Ek dink veral die van julle wat huidiglik die situasie in Suid-Afrika beleef, wil elke dag julle hare uit jul kop trek daaroor. Almal het baie vrae. Baie wil vergelding hê.
Kom ons kyk na wat die Woord van God sê daaroor in Psalm 85, wie is die Een wat alleen mag oordeel en hoe sal Hy dit doen.
Die Regter kom!
1 SING tot eer van die Here 'n nuwe lied; sing voor die Here,
o ganse aarde!
2Sing tot eer van die Here, loof sy Naam, verkondig sy heil
van dag tot dag.
3Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy
wonders.
4Want die Here is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al
die gode.
5Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het
die hemele gemaak.
6Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en
sieraad in sy heiligdom.
7Gee aan die Here, o geslagte van die volke, gee aan die Here
eer en sterkte.
8Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom in
sy voorhowe.
9Aanbid die Here in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o
ganse aarde!
10Sê onder die volke: Die Here is Koning! Ook staan die
wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel.
11Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en
sy volheid bruis.
12 Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die
bome van die bos jubel
13voor die aangesig van die Here; want Hy kom, want Hy kom
om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke
in sy trou.
Hier uit is dit baie duidelik dat God in sy tyd sal oordeel oor elke ongeregtigheid. Dit is nie ons plek nie – en hier weet ek ons is almal skuldig, ek in kluis. Tog word ons gehou aan ‘n ander vers uit die woord.
Matteus 7:1 MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.
2Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle
geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet
word.
Nou kan ons almal ons probeer regverdig met – ‘maar dit wat ons doen is darem nie so vreeslik soos die goed wat hier aangaan nie’. Dit maak nie saak nie. Dit sien ons te die mense die owerspelige vrou na Jesus gebring het en gevra het dat sy gestenig moet word.
Johannes 8:7b Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi.
Daar is geen ander antwoord vir oordeel nie, selfs in die tiengebooie is dit duidelik gestel dat ons nie mag oordeel nie. Ons moet elke dag daaraan werk, ons moet dit elke keer wat ons in die versoeking kom om dit te doen dit vir Jesus gee.
Steeds voel ons so magteloos, so kwaad, so ontsteld oor die dinge wat gebeur om ons wat so onregverdig is, want dit gebeur met onskuldige, weerlose mense.
Jesaja 43: 1MAAR nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob,
en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek
het jou by jou naam geroep; jy is myne!
2 As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die
riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie
skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
3Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou
Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou
liefhet, daarom gee
Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.
5 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou
geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af.
6Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie
terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde
af,
7elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my
eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.
8 Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.
Hier is die antwoord, ons hoef nie bevrees te wees nie, God het ons lief. Hy sal uitkoms gee as ons by Sy voete bly en ons verootmoedig. Ons hoef nie soos afkop hoenders en woedende bulle rond te loop en mense en situasies te oordeel waaraan ons niks kan verander nie. Deur stil te wees en dit voor God neer te sit wat in beheer is, sal ons baie meer vermag.
© Marsofine Krynauw

Die tong ... jou gevaarlikste wapen
Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...

-
Goeiedag Vriende, Pragtige somersdag in Windhoek, wat die vyand baie hard probeer het om vir my om te krap. Tog het ons Vader net weer inget...
-
Goeiedag Vriende, Ek hoop julle het almal die naweek die blomme geniet. Hier by ons is die weer heerlik, en ons kla nie al weet ons dit is...